Heroorweeg dít waaraan jy jou waarde bepaal

As besigwees ons identiteit vaspen

Dis tog lekker om besig te wees, veral vir goeie redes. Die haakplek kom as daardie besigwees ons identiteit begin vaspen. 

Heroorweeg dít waaraan jy jou waarde bepaal  

Die Bybel noem hom die ryk jong leier. Hy het vir Jesus gevra wat hy moes doen om die ewige lewe te ontvang. Na hy erken het dat hy nog altyd die gebooie onderhou het, eindig die interaksie met Jesus wat hom vra om alles wat hy besit te verkoop, die opbrengste aan die armes te gee en dan vir Hom te ...

Dis tog lekker om besig te wees, veral vir goeie redes. Die haakplek kom as daardie besigwees ons identiteit begin vaspen. 

Heroorweeg dít waaraan jy jou waarde bepaal  

Die Bybel noem hom die ryk jong leier. Hy het vir Jesus gevra wat hy moes doen om die ewige lewe te ontvang. Na hy erken het dat hy nog altyd die gebooie onderhou het, eindig die interaksie met Jesus wat hom vra om alles wat hy besit te verkoop, die opbrengste aan die armes te gee en dan vir Hom te volg. Die ryk jong leier raak bedroef en stap weg. (Matteus 19:16-30; Markus 10:17-31; Lukas 18:18-30)

Twee millennia later is hierdie Bybelkarakter steeds naamloos, buiten vir die drie dinge waaraan hy sy identiteit gehang het: sy welstand, jeug en leierskapsvermoë.

’n Strewe na inkomste, energie en invloed word meestal gebore uit die beste van motiewe. Ons wil ons talente aanwend om die lewe vir onsself, en hulle naby ons, beter te maak. Verder floreer iets in ons as ons voel ons wen, produktief is en kan vorm en skep. Dit laat ons waardevol voel.

Dis tog lekker om besig te wees, veral vir goeie redes: die versorging van geliefdes, die woeker met talente, die vreugde van werk, groei, ontwikkeling. Die haakplek kom as daardie besigwees ons identiteit begin vaspen.

Die ryk jong leier was vol vertroue waar hy in die samelewing inpas, wat van hom verwag word en hoe die boustene van sy verhoudingsnetwerke lyk. En vertroud met sy eie vernuf, sterkpunte en hulpbronne, kon hy op homself staatmaak. Maar tog moes hy aanvoel dat iets ontbreek, dat daar meer moes wees. Hoekom anders kom vra hy vir Jesus hoe om die ewige lewe te bekom?

Jesus se antwoord raak aan alles waarmee die ryk jong leier homself besig hou. Dit daag hom uit om die dinge waaraan hy sy identiteit gehang het, te heroorweeg: sy rykdom (“verkoop alles wat jy het”), sy leierskap (“volg My”) en sy jeug (Jesus se uitnodiging was sonder sperdatum).

 Dit gaan nie oor wie jy is nie 

Gestel die ryk jong leier het Jesus se uitdaging en uitnodiging aanvaar: Hy sou nooit hoef te wonder waarom hy homself in die binnekring van Jesus se dissipels bevind het nie. Dit was nie op grond van sy welstand, jonkheid, invloedsfeer of talente nie. Harder werk, besiger wees, groter produktiwiteit, meer finansies skenk het hom nie gehelp om dit te bekom nie. Inteendeel, geen van die dinge waaraan hy sy identiteit gehang het, het ’n rol gespeel nie: nie sy rykdom, leierskap of ouderdom nie.

Steeds is ons geneig om na ankerplekke vir ons identiteit te soek sodat ons ons onsekerhede, swakhede of mislukkings kan wegsteek en insuleer. Ons soek ankers in geld, werk, aansien, netwerke, prestasie, akademie of enige iets wat ons ’n sin van status gee. Dinge wat ons besig hou – totdat die besigwees self die statussimbool word.

Al het hy dit nie aangegryp nie, het die ryk jong man uiteindelik uitgevind oor toegang tot die ewige-lewe-binnekring. Maar dit was nie op grond van wie hy was nie, eerder wie Jesus is.

Markus se teks lig dit uit: “Jesus het aandagtig na die ryk jong man gekyk en hom liefgekry.” Daardie kyk sien verby die titel op ’n e-pos, handtekening of yskaslyste. Dit lees dieper as die trofee-versameling of die ingepalmde prestasies. Dit kyk agter die uitgekerfde blokkies tyd in ’n propvol dagboek, of die tientalle ongeleeste boodskappe op ’n selfoon.

Jesus se aandagtige kyk kry lief. Want die identiteit wat uiteindelik saak maak, is nie ons s’n nie, maar Syne: beskermer, voorsiener, versorger, versterker, teenwoordig, almagtig, goed …

En is dit nie ’n heerlike bevrydende wete nie.

Deel die artikel

Méér artikels

Daar is sekere basiese behoeftes en beginsels wat ons in plek moet hê in ons lewens om voluit te kan leef. Leer hoe om balans ...

Jy droom om iets merkwaardig met jou lewe te doen. CATHERINE VAN HEERDEN help jou bepaal of jou ambisie die tyd werd is wat jy ...

Scroll to Top