Hoe jy opstaan, is wat saak maak

Hoe jy opstaan, is wat saak maak

Niemand gaan deur die lewe sonder teleurstelling en terugslae nie. Kenners soos Gustav Gous, Jannie Putter en Zuléka Smit deel hulle resep om jou te help om teleurstellings, terugslae en mislukkings te verwerk.

Teleurstellings. Mislukkings. Terugslae. Niemand beplan daarvoor nie. ’n Atleet hardloop nie ’n resies om te verloor nie. ’n Entrepreneur beplan nie om bankrot te speel nie.

Soms werk ons hard vir die dinge waarin ons glo, maar die lewe draai anders uit. Hoe ver jy ook al gevorder het, jy kan altyd val. Dan voel jy om die handdoek ...

Niemand gaan deur die lewe sonder teleurstelling en terugslae nie. Kenners soos Gustav Gous, Jannie Putter en Zuléka Smit deel hulle resep om jou te help om teleurstellings, terugslae en mislukkings te verwerk.

Teleurstellings. Mislukkings. Terugslae. Niemand beplan daarvoor nie. ’n Atleet hardloop nie ’n resies om te verloor nie. ’n Entrepreneur beplan nie om bankrot te speel nie.

Soms werk ons hard vir die dinge waarin ons glo, maar die lewe draai anders uit. Hoe ver jy ook al gevorder het, jy kan altyd val. Dan voel jy om die handdoek in te gooi. Jy voel dis net nie die moeite werd om jou drome na te jaag nie.

En tog is daar positiewe dinge in terugslae versteek. Suksesvolle mense stem almal saam dat daar waarde in mislukking is.

Dit is ’n tydelike ompad, nie ’n doodloopstraat nie.

Gevoelens van pyn en twyfel is normaal, maar behoort jou nie te stop nie. Inteendeel, wanneer jy besef jy is teen die grond, is daar slegs een manier en dis om weer op te staan. Dis nie maklik nie en kan al jou energie kos. Maar dit kan gedoen word. En jy kan agterna sterker wees as voorheen.

Ons het elkeen al geval. Party van ons het die littekens om daarvoor te wys.

Jy is dalk afgedank en weet nie hoe om oor te begin nie. Of jy probeer met al jou mag om ’n nuwe werk te kry, sonder sukses.

’n Suksesvolle vrou word geken aan hoe sy negatiewe situasies hanteer. Jy mag jou wonde lek, maar bly op die baan en begin weer vir die volgende wedren opwarm.

Hier is voordele wat jou kan help om anders oor mislukking te dink.

Mislukking maak jou meer dankbaar vir sukses

Louis L’Amour beskryf in een van sy boeke ’n gesprek tussen ’n cowboy en ’n Indiaan. Die Indiaan sê vir die cowboy: “If I can ask God one last thing, I’ll ask Him to give me a big enemy.”

Die cowboy sê: “Big enemy? But a big enemy can kill you!” Die Indiaan antwoord: “Yes, I know, but without a big enemy I’ll grow fat and weak.”

Gaan jou lewe oor hoe “maklik” dinge vir jou is? Of is die rykdom van die lewe dalk eerder verskuil in uitdagings en hoe ons hulle oorkom?

Die wet van die natuur is: “Die sterkste sal bly leef.” Sukses is die uitvloeisel van terugslae wat oorkom is. Ware sukses is nie ’n resultaat nie, maar ’n manier van lewe.

Mislukking aan die ander kant is wel ’n keuse – die keuse om op te gee, in te gee en ’n slagoffer te word. Wanneer jy glo jy is ’n slagoffer is dit amper onmoontlik om jou te help.

Terugslae is in werklikheid geleenthede om in geloof op te staan en weer te begin. Hierdie keer met meer kennis en ervaring.

Om dit oor te doen vat guts. Maar die stories van mense wat ná terugslae opgestaan het, is die inspirasie vir nuwe generasies. Mislukking is ’n leerskool wat karakter bou. Mislukkings maak die soet smaak van wen lekker.

Ek vra dikwels vir kinders wat my kom sien: “Is jy bederf?” Hulle dink ’n oomblik en baie antwoord: “Nie regtig nie, maar ek kort niks.”

My antwoord verras hulle altyd: “Sjoe, gelukkig weet jy dit, want as jy nie geglo het dat jy meer as genoeg het nie, kan niemand jou help nie!” Iemand wat glo hy het te min, sal altyd ’n verskoning hê waarom hy kan misluk.

Ware sukses is nie ’n uitslag in ’n wedstryd of hoe stewig jou bankbalans is nie. Dit is ’n manier van leef. Dit is waagmoed om ongeag terugslae en teleurstellings weer te probeer.

As jy nog nie oorwinning op ’n bepaalde gebied gesmaak het nie, moet jy bloot nog kennis en ervaring opdoen. Dan is nog nie nou jou tyd nie, maar jou tyd sal kom.

Die kuns van die lewe is om elke golf wat jy kry, met ’n glimlag te ry al is dit nie perfek nie. Dis die golf van die oomblik, dit maak nie saak hoe dit lyk nie.

Nederlae laat jou vaardighede ontdek waarvan jy nie geweet het nie

Gesindheid is een van die dinge wat jy kan beheer. Jy kan kies om ’n “slagoffer” of ’n “oorwinnaar” te wees. Slagoffers fokus op die dinge wat met hulle gebeur. Mense wat graag wil oorleef, fokus op hulle reaksie op dit wat gebeur.

Tussen die prikkel en die reaksie lê jou vryheid. Jy kan toelaat dat dit jou óf definieer, óf vernietig, óf sterker maak.

Probleme het nie respek vir rang, titel of posisie nie. Hulle tref alle mense op alle vlakke van die lewe. Vir baie beteken dit die eindfluitjie blaas en hulle voel verpletter, deels omdat hulle die verkeerde vrae vra.

Jy moet leer om bemagtigende vrae in krisistye te vra. Vra vrae soos: “Wat moet ek doen om te oorleef?” As jy vra: “Waarom ek?” wanneer jy gewond is, gaan jy jou doodbloei. As jy vra: “Wat nou?” sal jy na ’n plek van veiligheid en heling kan kruip.

Probeer altyd eers om voorbereid te wees vir enige gebeurlikheid (risikobestuur). Maar as al jou planne misluk, vra dan: “Hoe kan ek oorleef?” Ontgin die kragtige menslike wapen wat jy in jou het, naamlik om sin uit selfs ongelooflik sinlose situasies te skep.

Jy moet uit die rol van ’n slagoffer kan klim tot in die rol van ’n oorwinnaar. Ja, jy sal vrees goed ken, maar jy sal nogtans jou geloof kan behou. Daarom sal jou omstandighede jou beïnvloed, maar dit sal nooit jou lewe bepaal nie.

Die meeste van die tyd fokus jy so op die krisis dat jy nooit besef daar kan ook iets goeds van kom nie. Dis reg, ’n krisis kan vir jou ’n geleentheid skep!

Wanneer jy dus in ’n probleemsituasie is, fokus eerder op die geleentheid en nie op die bedreiging nie.

Baie dinge wat met jou gebeur, voel so volkome sinloos. En tog, jy kan sin en betekenis kry deur die situasie in ’n persoonlike groeikans om te keer.

Vloei eerder saam met en benut die probleemsituasies in jou lewe – moenie dit weerstaan nie.

Jou lewe kry sin, nie deur dinge beter te verstaan nie, maar deur dinge anders te doen. Kom dus weer aan die gang, maar begin hierdie slag reg.

Kry ’n “begin met wat ek het”-gesindheid. Moenie wag vir beter dae of meer hulpbronne of tot alles perfek is nie. Dit gaan nie gebeur nie!

Deur teleurstellings leer jy ’n nuwe woordeskat aan

Hoe jy met jouself praat, het ’n groot invloed op jou selfbeeld en op jou hele lewe. Hierdie selfgesprek kan jou dag maak of breek.

As ander mense so lelik met jou sou praat soos wat jy met jouself praat, sou jy lankal gevra het: “Met wie dink jy praat jy?”

As jy ’n terugslag beleef, sê jy dalk sonder om te dink: “Ek sal tog nooit suksesvol wees nie.” Of elke keer as iemand jou teleurstel, sê jy: “Ek sal nooit liefde vind nie.”

Later sal jou onderbewussyn dit begin glo en jy sal mettertyd daarvolgens optree. Op dié manier programmeer jy eintlik jou brein, sodat jy op ’n bepaalde manier oor jouself dink en voel.

Dit het ’n invloed op jou gedrag en uiteindelik op jou hele lewe. Die grootste impak is op jou selfbeeld. Met ’n swak selfbeeld sal jy minder risiko’s neem, meer sukkel om verhoudings te bou en minder geneig wees om jou drome na te streef.

So iemand staan byna geen kans om konstante suksesse in die lewe te behaal nie. Hulle glo doodeenvoudig nie dat hulle dit werd is of dit kan doen nie!

Let mooi op na jou taalgebruik, veral ná ’n nederlaag. Vervang negatiewe woorde en uitdrukkings met positiewe frases en uitdrukkings. Indien jy dit oor en oor doen, word dit later ’n gewoonte en sal dit jou denke, gedrag en hele lewe verryk.

Hou op om te dink almal is beter as jy. Onthou, niemand is volmaak nie.

Ons verskil almal – dink maar aan die verskeidenheid groottes, vorms en kleure wat mense het. Leer om lief te wees vir wie jy is. Jy gaan mos nog lank saam met jouself leef!

Jy het jou eie doel in die lewe. Ontdek jou sterk eienskappe en spits jou daarop toe om jou roeping te vervul. Fokus op die waarde wat jy tot die lewe van die mense om jou kan toevoeg.

Dink en sê altyd goeie dinge oor jouself. Selfs as dit nie goed gaan nie. Wat ons dink en sê, word ons werklikheid.

Ons almal sukkel met negatiewe selfgesprekke. Die negatiewe stem kom soms sterk deur en kan baie oortuigend wees. Dalk moet jy weer begin glo soos ’n kind en leer om mooi met jouself te praat en te glo dat jou enigiets kan doen.

Deel die artikel

Méér artikels

Dis maklik om rond te kyk en depressief te raak. Maar moenie jou deur negatiewe omstandighede laat onderkry nie. Neem inisiatief en verander. Dink kreatief ...

Moenie toelaat dat vrees jou lewe dikteer en keer dat jy doelgerig leef nie. Leer hóé om JA te sê vir die lewe en dit ...

Scroll to Top