Speel-speel word jou kind oulik en slim

161

Hoe bou ons verhoudings as ons tyd min is, ons uitgeput is en ons stres hoog is? Ons help jou om ’n gelukkige, soet kind te kry deur tien minute ’n dag saam te speel.

Was daar al dae dat dit gevoel het asof jy op ’n emosionele wipplank ry? Die een oomblik lag julle saam en kan jy nie help om te dink dat jou kind die oulikste ding in die wêreld is nie. Die volgende oomblik voel dit asof jy sy nek wil omdraai.

Saans lê jy in jou bed en wonder of jy vandag die regte goed gesê of gedoen het.

Elke pa en ma wil net die beste vir hulle kinders hê. Ouerskap is waarskynlik die belangrikste “beroep” wat ons ooit sal beoefen, maar daar is geen kursus wat ons vir dié enorme taak voorberei nie. Dit is moeilik, uitdagend en tydrowend.

Ouerskapstyle het in die afgelope paar dekades dramaties verander. Soos die tyd verloop, verander die opinies, raad en advies, sodat jy later nie meer weet wie of wat om te glo nie.

Gelukkig is daar goeie nuus! Om in die 21ste eeu ’n ouer te wees is ’n voorreg. Ons hoef nie meer te raai, te wonder of te filosofeer oor opvoeding nie. Studies in brein- en sosiale wetenskap gee die feite.

Daar is nie net een manier van grootmaak wat werk nie. Kinders is uniek, ouers is verskillend en so ook die omgewing waarin ons hulle grootmaak en die aktiwiteite waaraan ons hulle blootstel.

Elkeen van ons se ouerskapsreis is gevul met kosbare tye, uitdagende tye en die gewone dag-tot-dag-dinge tussenin.

Daar is honderde oorwerkte ma’s wat wonder of hulle genoeg doen om hulle kroos se ontwikkeling te stimuleer en hulle goed genoeg voor te berei om suksesvolle volwassenes te wees. Ma’s is bekommerd, gefrustreerd en moedeloos, want kinders luister nie, eet nie, slaap nie en speel nie.

Navorsers vertel dat die eerste vyf jaar ’n allerbelangrikste tyd is vir breinontwikkeling. In hierdie tyd word die fondasie gelê vir wat verder geleer sal word. Die omgewing waarin ’n mens grootgemaak word en die stimulasie waaraan jy blootgestel word, het ook ’n invloed.

Navorsing toon verder dat ’n brein op sy beste groei en ontwikkel binne ’n intieme ouer kind-verhouding. Wat binne daardie verhouding gebeur, het ’n uitwerking op kinders se fisiese en emosionele welstand – ten goede of ten kwade.

Dit is gelukkig nooit te laat nie! Al is die eerste paar jaar deurslaggewend vir breinontwikkeling, weet ons ook dat die brein nooit ophou groei nie.

Neurowetenskaplikes gebruik die term “plastisiteit”. Ons breine is soos klei. Die fisiese argitektuur van die brein kan verander soos ons aan nuwe ervarings en interaksies blootgestel word. Dit wat ons sien, hoor, ruik, oefen, dink en oor gesels, word vasgelê.

Ons weet nou dat jou daaglikse interaksies met jou kinders hulle brein kan ontwikkel en probleemgedrag kan verander. Dit kan hulle selfs vrywaar teen depressie, angs en ander psigiatriese toestande.

Die kuns is om julle dag-tot-dag-interaksies meer doelgerig te maak. Dan kan boet en sus se groei en ontwikkeling gestimuleer word, julle verhouding versterk word en daardie uitdagende gedrag verander word.

Dit is gewoonlik ’n ma se missie om tussen die werk, huis en manlief deur soveel moontlik gehaltetyd saam met die kinders deur te bring. Party ma’s skeep hulleself, hulle stokperdjies, hulle belangstellings en hulle vriendinne af in die proses.

Hoekom alewig skuldig voel omdat jy nie genoeg individuele en gefokusde speeltyd in julle roosters kan inruim nie? Hoekom gebruik jy nie die tyd wat jy in elk geval by die kinders is en maak dit gehaltetyd nie? Jy hoef nie veel ekstra te doen nie, en boonop kos dit niks!

Kinders speel baie minder as in die verlede

Daar word dikwels gesê: “Speel is kinders se werk”, maar ons glo dit nie. Ons as ouers meen dat hulle op ’n konstruktiewe manier gestimuleer moet word. Ons ry hulle van die een aktiwiteit na die ander aan, met die hoop dat die “regte” vaardighede ontwikkel sal word.

Speel en ontspanning word as luiheid en niksdoen beskou. Maar wat as daar iets is wat boet en sus se kreatiwiteit, kritiese denke en veerkragtigheid baie beter sal ontwikkel as enige stimuleringsklassie? Boonop is dit gratis en verniet!

Dit klink dalk outyds, maar daar is vaardighede wat kinders ontwikkel wanneer hulle speel, wat van onskatbare waarde is. Lekker rof stoei met Pappa, buite sandkastele bou, fantasiespel, kamma-kamma-speletjies en blokkiesbou is uiters belangrik – of hy nou ’n peuter, kleuter of tiener is.

In die 21ste eeu heg gesiene besigheidsmanne en bestuurders waarde aan werkers wat vindingryk is, in ’n span kan werk en probleme kan oplos. Daar is min ander dinge wat hierdie vaardighede so ontwikkel soos wanneer daar kleintyd genoeg gespeel word.

Wat meer is, navorsing toon dat wanneer ouers ook deelneem, gesinsverhoudings versterk word en kinders beskerm word teen die negatiewe gevolge van stres en trauma.

Dit is ook nie net die kind wat daarby baat nie. Wanneer die gesin mekaar karnuffel, word goedvoelhormone afgeskei wat stres verminder en die gemoed opkikker. Probeer dit gerus!

In sy boek Playful Parenting stel Lawrence Cohen dit mooi: “Play can be the long-sought bridge back to that deep emotional bond between parent and child. Play, with all its exuberance and delighted togetherness, can ease the stress of parenting.”

Dié tipe ontspanne ouerskap is ’n manier om op die kind se voorwaardes sy wêreld binne te kom. Die resultaat is selfvertroue en ’n dieper konneksie tussen gesinslede.

As ons saam met ons kinders speel, bou en versterk julle julle verhouding. Dit help hulle om stres te hanteer en traumatiese ondervindings te verwerk – of dit nou ’n hondjie is wat dood is, ’n trek na ’n nuwe dorp en skool, ’n egskeiding of lewensbedreigende siekte.

Dit verminder ook uitdagende gedrag soos aggressie, angs en vrese.

Dit is nie meer so maklik soos in die ou dae toe ons in die strate op ons fietse kon rondbaljaar nie.

Daar is soveel akademiese druk in skole dat baie skole geen keuse het as om hulle pouses korter te maak nie. Buitespeel-areas is ook kleiner en onveiliger.

Besige en uitgeputte ouers het baiekeer nie die tyd of energie om met hulle kinders te speel nie. Wie van ons sien kans om na werk by die huis te kom en met die kleinspan te kerjakker tussen die huiswerk en kosmaak deur?

Na ’n lang, vermoeiende dag sal Pappa sekerlik verkies om op die bank neer te val en net te gesels of TV te kyk. Maar por hom eerder aan om op te staan en wegkruipertjie of aan aan saam met die kinders te speel of op die mat te stoei. Hy sal self ook sommer baie beter voel daarna!

Speel maak hulle brein en gemoed gesond

Veral wanneer ons aan aktiewe speletjies deelneem en lekker lag, word goedvoelhormone vrygestel wat stres verlaag en die konneksie verhoog. Dit is hierdie proses wat jou man help om ontslae te raak van sy spanning en ’n sterker verhouding met die kinders te bou.

Daarom, as hulle vra dat jy saam met hulle moet speel, doen dit. En as jy moeg by die huis kom, roep hulle nader en begin jý sommer. Die verstommende ding is dat hierdie tydjie eintlik nie vreeslik lank hoef te wees nie. Tien minute is soms al wat julle nodig het.

Positiewe sosiale interaksies soos dié stimuleer die afskeiding van oksitosien – ’n voelgoedhormoon wat stres verlaag, groei bevorder en herstel bewerkstellig. Spel stimuleer kinders se breinontwikkeling en kan hulle help om traumatiese ondervindings te verwerk.

Dit is nie net mense wat speel nie – honde, katte, apies, walvisse en selfs seekatte baljaar soms so. Dit is diere én mense se manier om nuwe dinge aan te leer, van hoe om kos te kry tot ander belangrike sosiale en emosionele vaardighede.

Dit is ook ’n goeie manier om kinders te help om “groot” emosies te verwerk. Hulle weet nie altyd hoe om angs (ek is bang vir die donker) en jaloesie (ek wil ook so ’n karretjie hê) te hanteer nie.

Vernedering (ek het van my fiets afgeval voor al my maats), teleurstelling (my Lego het gebreek) en frustrasie (ek is nog besig, maar Mamma sê ek moet oppak) kan hulle ook onkant betrap.

Stuart Brown het navorsing oor geweld en misdaad gedoen en misdadigers in tronke besoek. Hy het gevind dat daar een ding was wat kriminele gemeen gehad het – beperkte of geen speelgeleenthede nie. Dit is merkwaardige navorsing wat betekenisvol is in die eeu waarin ons leef.

Wees doelgerig en maak tyd vir jou kind om te speel. Nog beter – speel saam! In ’n langtermynstudie is 14 000 gesinne wêreldwyd oor 25 jaar gevolg en bestudeer. Daar is bevind die gelukkigste gesinne is dié waar gesinslede tyd saam deurbring en waar daar saam kaart- en bordspeletjies gespeel word.

Die belangrikste reël is natuurlik om jou volle aandag te gee. In plaas van om die kleuters speelpark toe te neem en jou WhatsAppboodskappe te sit en lees, klim en klouter eerder saam! Dis dalk net wat jy nodig het om weer woema te kry vir die huiswerk wat wag.

Wanneer boetman laatmiddag buierig raak, gaan lê by hom op die mat en doen iets fisies saam met hom. Laat hom die spel beheer en die voortou neem en jy het sommer gou ’n gelukkige outjie wat meer gewillig is om sy samewerking te gee tot bedtyd.

Jy sal sommer aan sy gesiggie sien hoe geliefd hy voel: Hy sal oogkontak maak, glimlag en giggel, en spontane drukkies uitdeel.

Daar is niks wat jou liefde meer vir hulle wys as die tyd wat jy afstaan om sommer net saam met hulle laf te wees nie.

Rowwe spel is die heel beste. Navorsing het bewys dat kinders wat dikwels rof speel, fisies, sosiaal en emosioneel beter ontwikkel en vaardiger is as dié wat dit nie doen nie.

Rowwe spel hou baie voordele vir almal in

Party grootmense verbied rowwe speletjies, want hulle is bang vir aggressiewe gedrag. Dit is egter juis dié tipe aktiwiteit wat die meeste terapeutiese waarde het, vir julle almal.

Dink terug hoe lekker dit vir jou was toe julle met ’n matras by die trappe afgegly het. Toe julle ’n kussinggeveg gehou of van die bed af in ’n hoop kussings ingeduik het. Of toe jou pa jou in die lug opgegooi of rondomtalie geswaai het.

Hierdie tipe speletjies is spontaan en het min reëls. Julle kan allerhande lawwe goed aanvang. Dit bevorder fiksheid en motoriese vaardighede, soos balans en koördinasie. Dit bou ook ’n sterk band en verhoudings binne die gesin en verminder spanning.

Dit is rof sonder om gevaarlik te wees. Partykeer val iemand van ’n bed af of word ’n kop of knie gestamp en moet ons eers stop en vasstel hoe ernstig die besering is. Meestal is ’n soentjie en drukkie genoeg om dit gou-gou beter te maak.

Wanneer kinders so rof rinkink, aktiveer dit die afskeiding van ’n chemiese stof in die brein, wat op sy beurt weer die groei van breinselle stimuleer. Dit maak die brein aanpasbaar, kreatief en gereed om te leer. Dit ontwikkel ook veerkragtigheid en deursettingsvermoë.

Alle aspekte van fisiese ontwikkeling word bevorder, soos spiertonus, postuurbeheer, spierkrag en soepelheid. Het jy steeds daardie gym-lidmaatskap nodig?

Kom ons veronderstel dat jou kind se lyfie soos die enjin van ’n kar is. Soms moet die enjin vinnig loop. Ander kere moet dit weer stadiger loop. In sekere omstandighede is dit reg om rond te hardloop en hard te praat; ander kere moet ons rustiger praat, stadiger beweeg of stilsit en luister.

Rowwe spel binne ’n veilige omgewing dien as ’n houer vir die groot emosies wat hulle soms kan oorweldig. Kinders kan op ’n informele manier leer dat daar ’n verskil is tussen kamma aggressie en werklike aggressie.

Dit werk natuurlik nie as een heeltyd wen, of sterker of beter is nie. Dit gaan oor ’n vertrouensverhouding waar ons beurte maak, regverdig speel en lekker pret het. Onthou, party outjies smag daarna en vra vir meer en rowwer. Ander verkies dit om rustig te wees en net soms rof te speel.

Peuters, kleuters, laerskoolkinders en selfs tieners geniet almal hierdie tipe spel. Niks verhoed ’n pa om sy tienerseun op die mat vas te pen en sy tienerdogter se poniestert te streel as hy by haar verbystap nie.

Dit is vir seuns nodig om rof met pa’s te speel, want só leer hulle dat ons drukkies kan gee én stoei. Fisiese aanraking beteken nie noodwendig aggressie nie. Dogters leer by hulle pa’s dat fisiese konneksie met mans waarde het, sonder ’n seksuele konnotasie.

Enkelma’s hoef nie hulle “help-my-sterk-lyk-hempie” aan te trek nie, want dit is nie nodig dat alle rowwe spel krag moet insluit nie. Jaag jou kind, duik op die bed, spring op die trampolien, pen hom vas en laat toe dat hy jou vaspen.

Maak speeltyd deel van julle normale roetine

Omdat kinders kwaad word of huil as die speletjie stop, hou ouers op om rof te speel, want hulle sien nie kans vir die geneul nie.

Oorkom dit op ’n maklike manier: Maak seker dat daar genoeg tyd is om rustig te raak ná die tyd voordat jy aankondig dat dit baden bedtyd is. Doen iets saam sodat daar steeds ’n hegte konneksie behou word. Lees ’n boek, blaas borrels of maak ’n warm drankie.

Sorg dat daar reëls is, want dit laat kinders veilig voel. Dan sal hulle met oorgawe kan deelneem.

Goeie reëls behels gewoonlik iets soos “ons mag nie slaan, skop, byt of knyp nie, maar ons mag stoot, druk, vaspen en rol”.

Kinders raak soms oorweldig deur die intensiteit hiervan – op ’n fisiese en emosionele vlak. Daar is tye wanneer ons moet stop of net ’n ruskansie moet neem. Dink aan ’n kodewoord wanneer almal moet stop en vries.

Uit die aard van die saak gaan iemand die een of ander tyd seerkry. Stop, gee aandag aan die “pasiënt” en gaan dan weer aan.

Rowwe spel behels druk (soos wanneer ons stoei), ligte aanraking (soos kielie), verskillende tipes beweging (op en af, vinnig en stadig, kop onderstebo, rondomtalie), en selfs geraas (lag en skree).

Veral by dié met ’n lae drumpel vir sensoriese insette (sensitiewe kinders) kan dit tot oorstimulasie lei. As jou kind oogkontak verloor, opgee, huil of kwaad word, moet jy briek aandraai. Gebruik net soveel weerstand en krag soos wat hy of sy jou toelaat.

Maak seker die omgewing is veilig. Moenie rofstoei naby die verwarmer of Ma se glasbak nie. Speel gereeld en hou by die reëls. Dan sal jou kind jou vertrou, veilig voel en vrymoedig deelneem.

Wees versigtig vir daardie sessies waar jy jou kind op die bed vaspen en kielie. As ons gekielie word, is lag en giggel ’n onwillekeurige reaksie. Dit beteken nie noodwendig dat ons daarvan hou nie. Maak eerder asof jy haar gaan kielie, dis fantasties vir julle konneksie.

Kleintjies geniet dit om geabba te word. Dis nog meer pret as sy daarna op die bed neergegooi word. Doen dit terwyl julle in die gang afstap badkamer toe om te gaan tande borsel, of op pad voordeur toe van die motor af.

Met tieners werk dit goed om mekaar rond te jaag, byvoorbeeld rondom ’n tafel in die huis of buite. Dink saam ’n “straf” uit vir die een wat gevang word.

Gee haar ’n drukkie en hou haar vas sodat sy moet probeer “ontsnap”. Laat haar die eerste keer maklik uitkom, en maak dit dan geleidelik moeiliker.

Jy hoef nie méér ure in jou dag te hê of geld te betaal vir nog ’n klas nie. Gebruik die tydjie wat julle in elk geval bymekaar is om ’n dieper konneksie te skep deur saam laf te wees vir net tien minute.

So–o–o oulik en slim

Lizanne du Plessis, ouerskappakket(Gids, video’s, speletjies en oudio’s) R209 R299
[Finesse-vriendinne R179]
Ook beskikbaar as ’n e-pakket R144 R209

voelgoedboeke.co.za | bestel@voelgoedboeke.co.za