Moenie toelaat dat vrees jou lewe dikteer en keer dat jy doelgerig leef nie. Leer hóé om JA te sê vir die lewe en dit wat regtig saak maak, te laat gebeur!
Leef ’n lewe van betekenis, vervulling en verbondenheid
Maak dit gebeur. Maak dat dit saak maak. Dit is ons taak in die lewe as ons ’n lewe wil lei van betekenis, vervulling en verbondenheid aan ons lewensrede of -projek.
Slegs 3% van mense skryf hulle doelstellings neer en minder as die helfte daarvan skryf weekliks, maandeliks of jaarliks hulle drome en doelwitte neer. As ons nie weet waarheen ons op pad is nie, weet ons nie wie ons is nie! Dit skep ’n “rondwandeling” vir ons.
Ons ontwikkel in slagoffers en oorlewendes. Ons wag vir ander om ons te help. ’n Gewone lewe van middelmatigheid wat oorheers word deur verskonings en blameerspeletjies en die gebrek aan toewyding.
Sukses en mislukking het presies dieselfde formule. Dit is waarop jy begeesterd fokus, waarvan jy vas oortuig is en jouself toestemming gee om dit te doen.
Stop net, asem in en uit … en dink hieroor: Waarop fokus ek op hierdie oomblik?
Ons is pioniers van ons toekoms, nie prisoniers van ons verlede nie.
In hierdie lewe word ons óf deur pyn óf deur die aha!-oomblikke gemotiveer. Ongelukkig meestal deur die pynoomblikke, wanneer God probeer om ons aan te por, uit ontkenning, selfbedrog, middelmatigheid en gemiddeldheid in die rigting van “ons beste weergawe” van die lewe.
As ek en jy stil word, regtig stil … Hoor ons die “geluidlose kreet” in ons binneste? Dit klink só: Daar moet meer as dit in my lewe wees!
As jy die geluidlose kreet respekteer en iets radikaals daaromtrent doen, sal dit skuif en verander.
Van uitstel kom afstel, só sê hulle mos. Om te wag vir die omstandighede om reg te wees, kan dalk net veroorsaak dat jy nooit eers die geleentheid kry nie.
Neem aksie om jou drome waar te maak
Ons moet hoegenaamd nie altyd halsoorkop iets aanpak sonder om ’n ingeligte besluit te neem nie. Inteendeel, dit is uiters belangrik om daardie lysies te maak, gesprekke te voer en om te bid, bid, bid.
Tog is ons geneig om vas te sit in die gemak van die hier en nou. Ná ons reeds gedink en gebid het, en ons hart reeds wéét, is die verskoning so maklik “ek wag eers vir die regte omstandighede”.
Verandering is vir die meeste van ons ’n reuse-uitdaging. Hoekom sal jy jou gemaksone prysgee om ’n nuwe uitdaging of situasie aan te pak?
Wanneer jy die bevestiging kry en wanneer jou hart weet dat jy weet dat jy gehoorsaam moet wees, selfs ongeag die feit dat die omstandighede nie altyd is soos jy dit verwag of beplan het nie.
Dit is dan wat jy moet durf, moet spring, moet glo en vertrou dat Sy omstandighede baie beter is as dit wat jy in gedagte gehad het.
As jy dink dat dit te laat is om jou drome te bereik, maak jy ’n groot fout. Herinner jouself daagliks dat drome nié ’n vervaldatum het nie.
Dink ’n bietjie terug toe jy ’n klein kindjie was, selfs toe jy ’n tiener was. Het jy drome gehad en oor drome gepraat? Onthou jy al jou planne, soveel dinge, wat jý alles graag wou doen. Dit is nog daar in jou hart. As jy diep genoeg gaan soek, sal jy jou drome vind en dit steeds kan bereik.
Vergeet van die dinge wat jou weghou en wat jou terughou, jy is méér as dit en jy kan dit oorkom. Voer jou gedagtes met positiewe dinge en elimineer negatiewe gedagtes.
Stel duidelike doelwitte wat jy wil bereik
Stel die voorbeeld vir jou kinders en ander mense se kinders. Onthou hulle gaan jou voorbeeld volg. Jy moet dus lei deur jou voorbeeld.
Besluit vandag of jy eerder aan iemand anders se droom wil werk of aan jou eie. Neem dan aksie. Onthou jy is nooit te oud om jou droom te bereik nie.
Om jou omstandighede as verskoning te gebruik, is totaal onaanvaarbaar. Maak ’n belegging in jou eie toekoms. Die lewe is kort, moenie wag nie.
Die beginsels rondom doelwitstelling word die heel beste deur ’n sokkerwedstryd uitgebeeld.
Om te verseker dat ’n wedstryd kan plaasvind, moet ’n hele paar uiters noodsaaklike elemente teenwoordig wees. Daar is ’n voltooide stadion nodig. Die ideaal sou wees dat daar toeskouers in die stadion is. Die spelers het ’n sokkerveld nodig waarop al die lyne gemerk is. Vir die wedstryd is daar ook ’n skeidsregter, ’n lynregter, elf spelers per span en ’n bal nodig.
Nou is daar nog iets wat kortkom. ’n Wedstryd word bepaal deur al die faktore wat ek hierbo genoem het, maar uiteindelik is dit die span wat die meeste doele aanteken wat wen. Sonder doelhokke is daar geen doele nie. Sonder doele is daar nie ’n wedstryd nie. En sonder ’n wedstryd is daar geen toeskouers nie.
Om ’n suksesvolle, betekenisvolle lewe te geniet, moet jy doele aanteken wat nie net vir jou inspireer nie, maar ook die mense rondom jou – jou spanlede, jou afrigters en die toeskouers.
Om met hierdie reis te begin, moet jy dus vir jou doelwitte vasstel. Jy moet ’n visie of ’n ware doel hê, iets waarvoor jy kan mik.
Elke mens gaan deur fases van teleurstelling, mislukking, vasval en terugval.
Streef jou drome na met moed en geloof
Ons almal voel soms siek, moedeloos, hartseer en “moeg gewag” vir die wonderwerke wat ons ontwyk.
Moegheid of die gebrek aan moed en oortuiging kan ons in ’n situasie plaas waar dit voel asof niks meer die moeite werd is nie. Die lus om weer die lewe daarbuite aan te pak, kwyn wanneer ons opgee. Wanneer ons die moed en geloof om ons drome en talente na te streef, om ’n verskil te maak, opgee.
Vrese van “nie genoeg wees nie”, laat die vlam van passie, geloof, oortuiging en moed kwyn tot ’n uitgebrande gebluste kers. Ons word gekniehalter deur lewensgebeure, die herinneringe en skimme van die verlede. Ons beleef dit met pyn en ons lewe word negatief beïnvloed, op kort en lang termyn.
So dikwels vergeet ons dat die pyn en lesse wat ons beleef uiteindelik vir ons ten goede uitwerk. Ons gebruik elke verskoning denkbaar om nie weer voluit te lewe nie.
Sien die doel met omstandighede, lewensgebeure, pyn en swaarkry. Dit is ’n katalisator en dryfveer vir keuses om ons lewe te heroorweeg, nuwe doelwitte te stel of ’n nuwe pad aan te durf in ons persoonlike, beroeps- of besigheidslewe.
Daar is iets wat binne ’n mens ontwaak, néé, ontplof, wanneer jy besef dat jy net een kans op die lewe het. Dit is asof die dae te kort word en die ure te min. Dit skok ’n mens dat daar miljoene mense is wat nooit waarlik leef nie, hulle haal bloot asem en oorleef.
Die wete dat ons nóú net eenkeer hier gaan wees, is ’n daaglikse alarm wat veronderstel is om kliphard in ons binneste te skree: Jy moet lééf! Jy moet besef jou plek is jóú plek, jou toekoms is jóú toekoms.
Wees gewillig en gereed om op te daag
Jy moet glo jy kan jou voetspore op hierdie pragtige aarde se stofpaaie maak. Net jy.
Seer is vir seker nie uniek nie, maar seer gee motivering om beter te wees. Mense kom soms tot die gevolgtrekking dat seer en skaamte ver weggebêre moet word. God vat daardie seer en skaamte en gebruik dit as die dryfkrag in jou lewe.
Wees gewillig, wees oop en wees gereed dat die wind uit jou seile geblaas word. God is getrou. God is só goed. God se plan vir jou is uniek en Hy wag met ’n glimlag vir jou om net op te daag sodat Hy kan begin.
Baie professionele mense is uiters mededingend, en al is hulle goed in dít wat hulle doen, sukkel hulle om in hulself te glo en balans te handhaaf. Die meeste mense verstaan nie waarmee hulle goed is nie en erken nie sommer hulle sterkpunte nie.
Dit maak dat mense baie sukkel om te sien hoe hul unieke talente hulle help om sukses te behaal. Dit keer mense ook om te leer hoe om hul beste gawes en talente te kan inspan om ’n eie unieke voetspoor te los.
Wat is dit wat ’n outentieke jy maak? Verstaan wie jy is, leer hoe om te presteer in jou werk, jou tyd produktief te bestuur, jou leierskapsvaardighede te verbeter en jou ondersteuningstelsels uit te brei. Só bereik jy balans in jou loopbaan, persoonlike lewe, vriendskappe en ook binne jou gesin.
Hoe jy jou emosies ervaar, kan jou ook help om jou ware self te ontdek. Mense ervaar emosies op verskillende maniere. Deur bewus te raak van hoe jy voel, verbeter jou vermoë om te beheer hoe jy voel en optree in die oomblik.