Jy hou almal gelukkig, maar wat van jóú?

Jy hou almal gelukkig, maar wat van jóú? 

Dis normaal om soms op jou lewenspad ontevrede en teleurgesteld te wees. Doen wat vir jóú belangrik is en nie altyd wat ander gelukkig maak nie. 

Hou aan juig te midde van seerkry en verlies 

Die jare vorentoe en die impak daarvan op hoe ’n mens lyk, is neerdrukkend, ongeag hoe jonk jy nog is.

Maar kyk in jou spieël … Het swaartekrag nie dalk reeds jou mondhoeke na onder getrek nie?

Om op enige ouderdom te oefen om ’n fermer jy te wees ...

Dis normaal om soms op jou lewenspad ontevrede en teleurgesteld te wees. Doen wat vir jóú belangrik is en nie altyd wat ander gelukkig maak nie. 

Hou aan juig te midde van seerkry en verlies 

Die jare vorentoe en die impak daarvan op hoe ’n mens lyk, is neerdrukkend, ongeag hoe jonk jy nog is.

Maar kyk in jou spieël … Het swaartekrag nie dalk reeds jou mondhoeke na onder getrek nie?

Om op enige ouderdom te oefen om ’n fermer jy te wees met mondhoeke wat geen oefening kry nie, is sinneloos. Dit is die kruks van leef met sagtheid, blydskap en vrede: Maak jou los en vry van ’n verlede se donker hoeke en grillerige drake. Nóú is die tyd!

Jy móét bly glimlag. Bly oefen om te glimlag. Kies om te glimlag. Dit is gesprekke oor die swaarkry en seer, bitterheid en onverbiddelikheid van verslape drome, teleurstellings en gebroke verhoudings wat die wet van Newton ’n werklikheid in jou gees laat word.

Dít wat jy in jou hart koester en verwelkom, manifesteer in jou voorkoms, hoe jy na die lewe kyk en of jy, as jy self nie kan positief wees nie, iemand anders minder negatief laat voel.

Wanneer laas het jy iemand anders gekomplimenteer sonder om die woordjie “mooi” te gebruik? Jou vermoë om die goeie in mense te celebrate kan ander laat moed skep en jou hart laat aanhou juig te midde van seerkry en verlies.

As jy kies om te fokus op al die mooi van jou verlede, kry jou toekoms ’n tweede asem. Leef vorentoe, mondhoekkrulle na bo.

Maak jou mantra: “Ek sal oor die verlede glimlag, hardop lag in die nou, en die vorentoe vir God gee.”

Bou ’n toekoms wat vir jou geluk inhou 

Jou seisoen van onvergenoegdheid en onsekerheid laat jou te oorweldig, ontnugter en magteloos voel om blymoedig en hoopvol jou toekoms te betree. Die goeie nuus is dat jy praktiese stappe kan doen om ’n toekoms te bou wat vir jou geluk inhou.

’n Mens moet weet waar jy is en waarheen jy wil gaan. Om elke dag doelgerig te lewe en oomblik vir oomblik bewuste besluite te neem, help ons op hierdie reis. ’n Intensionele leefwyse is baie soos ’n motor se GPS-stelsel – dit wys die pad aan.

Hoe leef ’n mens intensioneel wanneer dae en weke en maande soos ’n groot blur verbysnel en dit voel of tyd en agendas deur faktore van buite dikteer word?

Jy begin deur jouself ’n paar vrae te vra. Nie noodwendig maklike vrae nie, maar belangrike vrae. Die antwoorde hierop word dan die koördinate wat ons in die GPS van ons lewens insleutel.

Wat wil ek nog graag met my lewe bereik? Dit kan verband hou met jou geloof, jou familie, jou werk, jou passie of ’n kombinasie hiervan. Wat het ek nodig om dit te bewerkstellig? Ongeag van wat jy graag wil bereik, sal jy hulpbronne soos tyd, geld en energie benodig.

Dit sal noodgedwonge ook goeie verhoudinge, fisieke bates en goeie gesondheid vereis. Jy mag selfs vind dat jy meer opleiding, vaardighede of persoonlike ontwikkeling nodig het.

Wat weerhou my tans om myself daarvoor te beywer? Dit is belangrik dat jy erken watter optrede of gewoontes jou terughou (byvoorbeeld ’n verslawing) of wat voortdurend jou gedagtes in beslag neem en jou fokus aflei (byvoorbeeld te veel sosiale media).

Ondersoek waar hierdie gewoontes en optrede begin het of wat hulle veroorsaak het. Sommige mag onbewustelik ingesluip het en ’n slegte gewoonte gevorm het. Ander het dalk ontstaan uit vrees, verwerping of ’n gevoel van minderwaardigheid.

Behoeftes en omstandighede speel almal ’n rol in jou strewe om intensioneel en doelgerig te lewe. Met antwoorde oor wie jy wil wees, wat jy wil bereik en wat jou verhinder om dit te vermag, kan jy gereeld in-check en in lyn met jou toekomsvisie aanpassings maak.

Hê vrede en behou ’n blymoedige gees 

Jy kan nooit met sekerheid weet dat jy op ’n bepaalde tydstip die regte besluit neem nie.

Hoewel jou geliefdes hulle insette lewer, is daar eintlik niemand wat ’n absolute “regte” antwoord kan bied of jy die regte keuse gedoen het nie. Almal spekuleer en uiteindelik trek hulle hulle skouers op en sug: “Tyd sal leer …”

Én dis waar. Tyd sál leer – op twee lyne: Die eerste lyn is jou tydlyn. Met ander woorde, hoe lank jy leef. Die tweede lyn is jou ervaringslyn, met ander woorde, wat alles met jou gebeur. In die tweede lyn neem jy besluite wat waarskynlik deur jou beste intensies gerig word.

Soms werk dinge goed uit. Dit bou jou selfvertroue en vuur jou geloof aan.

Soms verloop dinge egter nie volgens plan nie. Dan bevraagteken jy jou besluite. Jy wroeg met allerhande emosies en soek antwoorde of wens jy kon net “sien” of “weet”… “Hoe kón ek so dom wees?!”

Jou brein verander oor tyd. Soos wat jy nuwe dinge binne hierdie twee lyne ondervind, vind daar ook ’n transformasie in jou breinstruktuur plaas. Ouderdom stel jou dus in staat om meer ingelig en ervare te wees, terwyl jy meer “kwaliteit”-denke toepas.

Hoewel jou breinkrag toeneem, is daar ook ’n ander kant: Jy het nie volle kennis nie – nie ten opsigte van die verlede, die hede of die toekoms nie. Jy sal altyd net ten dele weet of verstaan.

Jy weet nie wat jy raaksien en wat jy dalk mis nie. Jy kan ook nie met sekerheid sê wat waar is en wat subjektiewe persepsie is nie. Hoewel jou breinkrag en besluitnemingsvermoë toeneem, is dit wys om te aanvaar dat jy nooit volle sekerheid oor alles sal hê nie.

Ondersoek jou hart en jou intensies. Neem besluite en vertrou in jou vermoë om te verander, indien nodig. Geestesgesonde mense neem besluite wat vir hulle die beste blyk te wees met die kundigheid, informasie en hulpbronne tot hulle beskikking.

Wees bly jy is verveeld en leer jouself ken 

Dit wat voorheen jou hart laat klop het, maak nie meer saak nie. Geen avontuur, geen passie, geen pols meer nie. Jy besef: Ek is verveeld met my lewe!

Die moderne vrou is nie meer tevrede met net kop optel en dinge outomaties doen nie. Ons soek meer. Ons wil vóél! Ons soek sprankel in wat ons doen. Ons standaardreaksie as ons ongeïnteresseerd begin voel, is om te dink daar is fout.

Jy begin soek na nuwe stokperdjies, aktiwiteite, mense, gesprekke, enigiets wat hopelik die sprankel gaan terugsit. En dan mis jy ’n wonderlike geleentheid … om jou grootste ommekeer ooit te beleef!

Wat daarvan as jy, wanneer jy voel dat die lewe jou nie meer interesseer nie, vir jouself sê: Nou is my aandag of emosies of denke of tyd nie meer gebind nie. Daar is niks wat ek nou hóéf te doen nie.

Volgende keer wanneer jy só voel, sit net. Dis korrek. Sit net en spandeer tyd saam met jóú! Nie met ’n boek, slaap, naels-doen, herstelwerk of ’n stokperdjie nie. Net jy en jou asemhaling. En dan kan jy waarlik na stemme luister (jou eie!)

Maak dit jou ongemaklik? Vir seker kan dit ongemaklik wees! Om verveeld te wees en tyd met jouself te spandeer kan vreesaanjaend wees. Ons beweeg in diep persoonlike terrein in, en vind dalk iets waarvan ons nie hou nie, of bang is ons nie kan hanteer nie.

Maar sien die geleentheid om heel te word. Deur tyd met jouself deur te bring, is daar ’n groot kans dat die ware jý te voorskyn gaan kom.

Leer om na jou liggaam te luister. Gaan een vir een deur elke deel en kommunikeer met elkeen. Hare, wat wil julle sê? Pinkie, hoekom bewe jy so? Regterknie, onthou jy toe ek jou oopgeval het? Hart, hoe het jy regtig gevoel toe jy die eerste keer gebreek het? Én luister dan.

Verveling is ’n roepstem om na binne te keer. Uiteindelik kan jy aandag gee aan die stem wat jy is.

Deel die artikel

Méér artikels

Dis maklik om rond te kyk en depressief te raak. Maar moenie jou deur negatiewe omstandighede laat onderkry nie. Neem inisiatief en verander. Dink kreatief ...

Moenie toelaat dat vrees jou lewe dikteer en keer dat jy doelgerig leef nie. Leer hóé om JA te sê vir die lewe en dit ...

Scroll to Top