“Hoe gee jy jou kind ’n voorsprong in die lewe? Deur vir jou kinders te sê: Watter plan kan jy maak?” sê die lewensafrigter MANIE BOTHA.
Ons as ouers moet ’n voorbeeld stel vir die manier hoe ons graag wil hê ons kinders moet lewe.
Ons moet begin om ’n bietjie nuut te dink oor ons eie lewens, want ons kinders kyk na hoe ons situasies hanteer. Ons kinders luister na ons woorde.
Ons kan begin om as ouers ’n bietjie meer doelbewus intensioneel te leef met die Woord as fondasie. Romeine 12 is vir ons ’n ongelooflike mooi riglyn daarvoor.
Hoe kan ons ’n nuwe denkpatroon kry van uit Romeine 12 om ons kinders by te staan sodat ons hulle regtigwaar ’n voorsprong in die lewe kan gee?
Kinders se sukses word bepaal deur die brein
In jou kop is daar ’n “brain tribe”. Nou wat is hierdie “brain tribe”?
Die eerste gedeelte is ou brain-buddy. Dis jou prefrontale korteks. Dit is die deel van jou brein wat jou help om die regte keuses te maak en besluite te neem.
In ons kinders se lewens is daar geweldig baie emosies. Dit is ou Wagter, die waghond. Dis jou amygdala. Julle weet self as julle ’n hond by die huis het, as daardie hond begin blaf, dan kan jy nie lekker hoor nie. As daar regtig diewe is wat wil skade maak, dan gaan kyk ’n ou by die venster uit om te kyk waarvoor blaf die hond. As daar gevaar is: veg, vlug of vries.
Watter toertjies kan jy doen om ou wagter rustig te maak? Dit sluit in om net ’n bietjie rustig te gaan sit. ’n Bietjie asem te haal. Net te onthou dat die Here in beheer moet wees.
Nog ’n deel is jou hippokampus, dit is nou Piet-papegaai. ’n Papegaai sê maar net wat hy hoor. Ons as ouers moet op ’n punt kom waar ons moet besef waar ons reaksies vandaan kom. Anders gaan ons dit net projekteer op ons kinders.
Daar is nog ’n gedeelte in die brein wat ’n baie kreatiewe deel van die brein is, maar negatief-kreatief. Dit is ou Bob-bobbejaan. Dit gaan oor ons bekommernisgedagtes.
Dit is daardie aanhaling wat ons in Afrikaans so goed ken: Om die bobbejaan agter die bult te gaan haal.
Nou kom ons kyk gou ’n bietjie na “brain tribe”-taal. Nou begin Bob bekommerd raak: “Wat as ons finansies opraak?” Nou hoor Piet dit: “Wat as ons finansies opraak? Ek het mos geweet.”
Nou begin Wagter blaf. En brain-buddy kan nie lekker dink in daai logika nie om te sê: “Onthou, die Here het gesê Hy sal voorsien. Die Here het gesê ons sal elke dag moet vat en dat ons nie oor die dag van more moet bekommerd wees nie.”
Maak jou kind gereed vir die toekoms
’n Mens kan ook hierdie konsep deurtrek na jou huisgesin toe. Brain-buddy kom na ou Bob toe en sê: “Bob, dankie dat jy hierdie goed raaksien, maar weet jy, kan jy iets daaraan doen?”
Ons leer die kinders dan ook wat is binne jou beheer en wat is buite jou beheer. As jy niks daaraan kan doen nie, dan moet jy dit aan die Here oorgee.
“Nou oukei, Bob, jy kan mos nou ’n klomp goed uitdink, want jy dink mos nou die negatiewe goeters uit. Wat kan jy uitdink wat ’n plan kan maak daarvoor? So, maak ’n plan.”
In jou brein kan bekommernis en goed waarvoor jy dankbaar is nie dieselfde spasie vul nie. Dis dieselfde denke wat daar is.
As jy bekommerd is, is jy bekommerd. As jy dankbaar is, dan is jy net dankbaar. Jy kan nie bekommerd en dankbaar gelyktydig wees nie.
Kyk hoe hierdie nuwe manier van denke vanuit die Woord vir ons kan help: Moet oor niks bekommerd wees nie, maar, Bob, maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend om oor te gee, nie op te gee nie.
Ons gee nooit op nie, maar ons moet oorgee, en kyk ’n bietjie wat gebeur: En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, wat vir Wagter rustig maak, sal oor julle hart, die manier hoe jy voel en jou gedagtes kom, sê Filippense 4, die manier hoe jy dink, die wag hou in Christus Jesus.
Hoe gee jy jou kind ’n voorsprong in die lewe? Deur vir jou kinders te kan leer deur te sê: “Maar hoor hier, ek sien dat jy ’n bietjie angstig is, ek sien dat jou Wagter blaf. My kind, kom sit gou hier, kom ons gesels daaroor.”
Waarvoor kan jy dankbaar wees? Nie: Hoor hier, ek gaan dit vir jou uitsorteer. Maar watter plan kan jy maak, my kind?