Hoe pret by die werksplek tot verbeterde produktiwiteit kan lei

Hoe pret by die werksplek tot verbeterde produktiwiteit kan lei 

Verhoog produktiwiteit met pret by die werk! AMANDA SWANEPOEL gesels oor die vreugde wat lei tot beter spanwerk, ’n gelukkiger werkplek en groot resultate. 

Strategieë om werk en pret te balanseer vir beter produktiwiteit 

Toe ek en my man op ’n keer van vakansie af terugkom, sê hy vir my dat hy wens hy kon my altyd op vakansie hou, want hy hou baie van die “vakansie-Amanda”. Dit het my laat dink: Is dit moontlik om die “vakansie-ek” in my daaglikse lewe en werk te inkorporeer? Ook in die kompeterende, ...

Verhoog produktiwiteit met pret by die werk! AMANDA SWANEPOEL gesels oor die vreugde wat lei tot beter spanwerk, ’n gelukkiger werkplek en groot resultate. 

Strategieë om werk en pret te balanseer vir beter produktiwiteit 

Toe ek en my man op ’n keer van vakansie af terugkom, sê hy vir my dat hy wens hy kon my altyd op vakansie hou, want hy hou baie van die “vakansie-Amanda”. Dit het my laat dink: Is dit moontlik om die “vakansie-ek” in my daaglikse lewe en werk te inkorporeer? Ook in die kompeterende, vermoeiende werksarena? Nog ’n belangrike vraag: Sal hierdie besluit steeds uitnemende werksresultate meebring?  

C.J. Langenhoven het bemoediging nagelaat: “Dis die vrolike vlam wat klap en kraak, dis hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak en sy swaarkry met lekkerkry klaarkry …”  

Ek hoor die teenoorgestelde van “werk” is nie “rus” nie, dis “speel”. Om pret in jou dag in te vleg sal vir jou liggaam en siel meer beteken as ure se sit en rus.  

Om pret en besigheid met sukses saam in die pot te gooi, vra beplanning sodat dit mettertyd ’n ingesteldheid of roetine word. Ek en my vennoot het besluit dat een van ons besigheid se waardes “pret” sal wees. Ons vra gereeld vir mekaar: “Is dit nog lekker, geniet jy nog jou werk?” Ons albei se uitgangspunt is: As dit nie meer lekker is nie, sal ons ’n nuwe plan moet bedink.  

Vir jare al skeduleer ons ons vergaderings by verskillende koffiewinkels. Sodoende kry jy ’n vars perspektief op jou vergadering se agenda, met ander geure, geluide en atmosfeer in die agtergrond. Wel, dit werk vir ons! God beloof dan juis dat Hy ons sal beskerm as ons hom met vreugde dien. (Nehemia 8:11)  

Hoe ’n vreugde in die werksplek produktiwiteit kan verbeter 

Max Lucado vertel van die jongman wat aan die einde van ’n tolpad die geld moet ontvang. In sy tolhokkie speel daar altyd musiek en hy dans soveel as moontlik van die ure in daardie hokkie verby. Hy vertel, met pret in sy stem, dat die ander hokkies “doodskiste” is. Sy kollegas stap daarin en hou op met lewe tot hulle na hul skof weer daar uitstap. Hierdie man mors nie tyd nie, sy droom is om ’n bekende danser te word en hy gebruik al daardie ure om daarvoor te oefen!  

Hoe kyk jy na jou werksure? Ervaar jy pret? Ken jy daai binne glimlag wanneer jy kies om nie ontsteld te raak oor mense se selfsugtige verwagtings nie? Beleef jy tye wanneer jou maagspiere seer is omdat jy regtig met jou hele lyf oor iets gelag het?  

Ek stap verlede week in ’n vergadering in, almal is moeg en die motivering is laag. Ten spyte daarvan dat ek ook al ’n vol dag gehad het, neem ek ’n besluit: Hierdie vergadering kort bietjie pret! Met ’n vonkel in my oog maak ek ’n paar positiewe opmerkings oor die projek wat ons beplan en sien voor my oë hoe die atmosfeer ligter raak. Aan die einde van die agenda het ons skitterende resultate, die deelnemers stap met hoop in hul harte weg en ons almal som die vergadering as ’n “lekker” vergadering op.  

Dis moontlik! Pret sal vloei uit jou eie gedagtes en oorvloei in dade wanneer jy ingestel is om dit raak te sien en met ander te begin deel. ’n Ingesteldheid om pret te hê bring ’n sigbare verhoging in vreugde en produktiwiteit in die werksplek. ’n Vreugdevolle werksomgewing maak dat individue in elke aspek van hul lewens beter presteer. 

Deel die artikel

Méér artikels

Daar is sekere basiese behoeftes en beginsels wat ons in plek moet hê in ons lewens om voluit te kan leef. Leer hoe om balans ...

Jy droom om iets merkwaardig met jou lewe te doen. CATHERINE VAN HEERDEN help jou bepaal of jou ambisie die tyd werd is wat jy ...

Scroll to Top