Oorgangstye in jou lewe behoort nie jou lewensgehalte, of wie jy is, te verander nie. Kry maniere om verandering te hanteer sodat jy kan aan beweeg. 

Oorgangstye kan jou in ’n plek van onsekerheid laat 

Tydens die verloop van jou lewe, sal jy deur verskeie oorgangstye gaan. Jy verander dalk van beroep, trek dalk na ’n ander huis, of selfs dorp of stad. Of dalk word julle nuwe ouers, of brei die gesin uit. Sommiges is makliker om te hanteer as ander, maar dit verg kophou.

Dit kan maklik voel of ons kop verloor in die oorgangstye van ons lewe, en jouself maklik in ’n plek van totale onsekerheid bevind.

Ons het ons huis verkoop en moes trek. Die nuwe huis was reeds gekoop, maar dit was nog nie gereed dat ons kon intrek nie. Dit het drie maande in ’n Airbnb beteken.

Verder was ek swanger en baie opgewonde omdat ons gesin gaan uitbrei. Toe vind ek uit dat dit ’n tweeling is!

Om alles af te rond, moes ek van loopbaan verwissel. ’n Loopbaan waaraan vier jaar lank gewerk het en mal oor was. Dit was baie moeilik om almal in die bedryf te groet.

En dit alles het op dieselfde tyd in my lewe gebeur. Ek het myself in ’n wankelrige en onseker oorgangstyd bevind. Dit was moeilik om te verstaan wat aangaan en om te weet wat die volgende stap moet wees.

Daar was geen sprake van roetine nie. Ek het nie geweet wat om volgende te verwag nie. Daar het kort-kort ’n nuwe verrassing opgeduik.

Sulke onsekerheid kan ’n mens dikwels angstig laat voel. Dit is ’n gevoel van konstante angstigheid wat jy nie kan verklaar nie. En dan raak jy nog bekommerd ook, sommer enige tyd oor enigiets.

Jy bevind jouself dalk tans in ’n oorgangstyd. Dalk het jy van beroep verander, verhuis of pas ouers geword. Wat die verandering ook al in jou lewe is, jy sal moet kophou.

Begin deur ’n mate van standvastigheid in jou lewe te kry. As dit voel of alles net in die lug rondsweef, het jy ’n paar ankers nodig.

In ’n tyd van oorgang, het jy beslis jou voete stewig op die grond nodig om vorentoe te kan beweeg.

Roetines hou jou geanker terwyl alles om jou verander 

Waar kry jy die ankers wat jy nodig het om gegrond te voel?

Kry eenvoudige roetines. Moet nou nie roetine in jou lewe vestig wat jou net nog ’n klomp dinge gee om te doen nie. Jy het wraggies nie nog ’n lysie in jou lewe nodig nie!

Jou roetine moet ’n doel dien. Dit moet iets wees wat jou help om jou doelwitte te behaal. Veronderstel ’n goeie gesonde sosiale lewe is een van jou doelwitte, maak dan seker dat jy dit by jou roetine voeg.

Sluit by ’n boekklub, kerkgroepie of drafklub aan. Maak seker dat jy elke week hulle byeenkomste of drafsessies bywoon.

Sluit by hierdie verskillende klubs aan om jou sosiale lewe ’n hupstoot te gee. Dit kan jou selfs ook op ander gebiede van jou lewe help.

Kry vir jou ’n gevestigde roetine in die oggend. Dit hoef nie twee uur lank te wees nie. Niemand van ons het immers twee uur om mee te werk in die oggend nie. Maar ons het 15 minute!

Net 15 minute kan jou geanker laat voel, al is daar soveel oorgang en verandering op daardie oomblik jou lewe. Hierdie 15 minute is al wat jy nodig om weer te fokus, en nie te voel soos ’n klompie ballonne wat wegsweef in die lug nie.

Vestig daarom ’n goeie oggendroetine. En kry roetine in jou sosiale lewe. Dit gaan veral baie help as jy dalk verhuis het. Só, sal jy vinnig nuwe mense ontmoet.

Soek dinge wat vir jou werk. Dit kan ’n stokperdjie wees. Jy hou dalk van naaldwerk, brei, boeklees, gaming of programmering. Wat dit ook al is, kry daardie dinge wat jy geniet. Besluit dan, Dinsdae doen ek dit en Woensdae doen ek dat.

Al verander al die ander dinge in jou lewe, help roetines ’n mens om goed en geanker te voel. Teen die tyd wat alles dan weer na normaal terugkeer, is jy gereed om aan te beweeg. Jy het dan nie bloot deur ’n mal tyd gegaan met geen einde in sig nie.