“Ek en Wiets het onmiddellik ervaar hoe ander se gebede ons dra. Wanneer jy in so ’n donker lugleegte beland, is God jou enigste werklikheid.”
’n Stukkie van my sal vir altyd daar wees
Yskoue kloue het in my hart geslaan … Hoekom staan die hekkie oop? Iets is fout. Met elke tree nader aan die huis het paniek in my keel opgestoot. Die deur was gesluit. Het Margrietha iets oorgekom? Binne kon ek ’n kind hoor huil. Dis die dogtertjie na wie ons babaseun se dagmoeder ook kyk. Hy was stil. Gelukkig, het ek gedink.
Ek en Wiets was hoërskool-sweethearts. As jy jonk is, glo jy so naïef in die normale verloop van die lewe: Trou, ’n baba, nog ’n baba. Maar dinge het anders vir ons uitgewerk. Agt jaar lank het ons probeer. Na agt kunsmatige bevrugtings en een onsuksesvolle in vitro-bevrugting, was my hart en ons beursie pynlik leeg. Bar. Droog. En toe begin Wiehan in my lyf groei!
Hy was die perfekte klein engel, sy pa se ewebeeld. Sy bulletjie. En ek was tot oor my ore verlief. Beslis die wag werd.
Gewoonlik het ek elke dag om elfuur die dagmoeder gebel om te hoor hoe dit gaan. Daardie dag het sy nie geantwoord nie. Eenuur, toe ek weer bel, ook niks. Dis toe dat ek besluit het om te gaan kyk. Daar gekom, het ek die deurklokkie ’n paar keer gedruk en net die dogtertjie hoor huil. Uiteindelik het ek ’n venster uitgebreek om in die huis te kom. Binne was net sy.
Ek het oral na Wiehan gesoek. In elke kas, onder elke bed. Doodseker dat hy iewers lê en slaap. Eers later, toe die polisie opdaag, het hulle hom gekry. Onder die een bed waar ek nie gekyk het nie. Hulle het Margrietha in ’n mat opgerol in die motorhuis gekry. Ook vermoor. ’n Vrou van 66.
Ek het daardie dag in ’n bondeltjie in die huis neergesak. Huil is die verkeerde woord. Breek klink ook te sag. Vermorsel. Ek was vermorsel. My lyf het opgestaan en beweeg. Maar my hart het daar bly lê.
Die goeie het saam die sleg gekom
Terug by die huis het die babapoeierreuk nog dik in sy kamer gehang. Agter elke kasdeur was kleertjies, bottels, babakos. Ongeëet. Die doeksak staan reg vir gryp en ry. Waarheen? En eenkant wag ’n loopring vergeefs vir vet beentjies om lewe daaraan te gee … Ons baba is dood.
Ek en Wiets het onmiddellik ervaar hoe ander se gebede ons dra. Wanneer jy in so ’n donker lugleegte beland, is God jou enigste werklikheid. Juis dan is Hy daar. Innig. Sonder God sou nie ek of Wiets die krag gehad het om aan te gaan nie. Dit is ’n wonderwerk dat ons nog hier is.
Saam met die sleg van een mens, het die goedheid van ander ons omhul. Kort na die moord het ons die privaat speurder Mike Bolhuis gevra om te help. Hy het dadelik ingestem, op voorwaarde dat hy dit verniet doen. Miskien kry ons ’n bietjie troos in geregtigheid. Miskien nie. Dis so vreemd … Al is dit hoe swaar, is my geloof sterker as ooit. Ek was nog nooit so naby aan my Skepper nie.
Nie een ander kind hulle sal ooit Wiehan wees nie. Hy sal altyd ons eersteling bly. Ons rustige engelkind. Maar ek en Wiets het nog soveel liefde om te gee. Mike het ook daarop aangedring om vir ons volgende in vitro-behandeling te betaal. Daar is nog baie goedheid in die wêreld oor.
Ons vind berusting daarin dat God nie ’n haar van Wiehan se hoof sou laat afval sonder dat dit Sy wil sou wees nie. Hy het nie verniet gesterf nie. Selfs daarin moes daar ’n doel gewees het. Hy is nou in die hemel. En hy was nie alleen in daardie laaste oomblikke nie. Dit kan nie anders nie.
Daar is nie ’n handleiding wat jou vertel hoe om die dood, en dan nog ’n gewelddadige een daarby, te hanteer nie. Maar elke mens kry genoeg genade om dit wel te kan doen.