Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.
(Efesiërs 6:10)
Die uitdrukking lui: “Gaan groot of gaan huis toe!” En: “Groter is beter!” Jy het seker al die grappies gehoor oor die kinders wat hul pa’s vergelyk. Jannie: “My pa het ’n vis gevang so groot soos my lyf.” Kosie: “Maar mý pa het ’n vis gevang so groot soos my kamer.” “Dis nog niks, mý pa het ’n vis gevang so groot soos die hele Gauteng!”
Het die woordjie “groot” nie dalk al heeltemal ’n te “groot” impak op ons besluite nie? Waarteen meet ek groot? Meer geld – minder geld. Meer kwalifikasies – minder kwalifikasies. Meer beleggings – minder beleggings. Ons onderskei selfs tussen groot waarhede en waarhede, groter liefde en liefde.
Daar bestaan weinig indien enige akkurate maatstaf om “groot” op sy eie, onafhanklik van ander faktore, te bepaal. Daar is altyd iets voor die oomblik, ervaring of besitting wat ’n standaard gestel het waarteen ek die “groot” van hierdie oomblik kan vergelyk. “Groot” vind in menslike verwysing en terme dus nie sy plek uit eie reg nie, maar altyd in konteks van iets anders.
God staan onafhanklik van wat was, wat is of binne menslike interpretasie of begrip sal wees. God is groot – en dis al. Psalm 147:5 lui: “Ons Here is groot en magtig, sy kennis is onbegrens.”
Daar is geen vergelyking in menslike terme waarmee ek God se grootheid kan vergelyk nie. God is … EK IS, onbegrens en oneindig. As ek dus net sou skrap aan die moontlikhede van wie Hy is, sal ek my gedagtes eindeloos moet kan maak, sonder begrensing of perke. Ek moet my vlerke lig, gereed maak vir die eindelose vlug van die lewe in die lugstroom van sy grootheid. Onbevrees. Onbegrens.