Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
(Jesaja 40:31)
Kitskos, kitskoffie, kitsbanke, weggooidoeke en kitsgesprekke (WhatsApp en emoji). Sal ons ooit weer sonder kits kan klaarkom? Alles moet NOU gebeur. Selfs ons stiltetyd het kits geword. ’n Bybel-oudio vir tien minute in die kar en dan was ons by die geestelike Drive-Through vir die dag.
Ons het verleer om te WAG! Daarom sukkel ons om te wag op sy beloftes, sy tyd, sy antwoorde en sy vrede. Wag op die Here beteken nie om agteroor te sit en wag dat Hy alles sal doen nie, maar om Hom ten volle te vertrou.
Hy het ’n belofte vir elkeen wat dit in die kitswêreld regkry om op Hom te wag: Hulle sal vlieg met arendsvlerke. Arende is van die vinnigste voëls in die lug. Hulle kan tot 200 kilometer per uur vlieg, en tog sweef hulle rustig op die strome van die wind. Al kan jy volhou by die pas van die lewe, raak rustig by God.
Arende vlieg die hoogste van alle voëls bo die storms uit; so sal Hy jou oor elke storm tel. Wanneer die vyand hulle aanval, vlieg hulle reguit in die son in. So is Jesus ook ons toevlug. Op die ouderdom van 40 tot 60 jaar, is daar baie kalsium op hul bekke en neem hul kragte af. ’n Arend kruip dan weg, weier om te eet, skeur sy naels uit, pluk sy vere uit, kap sy bek tot die bloed loop om die kalsium af te kry. ’n Maand lank versorg die wyfie hom en dan kan hy weer opvaar met nuwe krag.
Dit is ’n groot God wat ons versorg, herstel en nuwe krag gee in die swaarste tye van ons lewe. Hy gee arendsvlerke.