Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

(Efesiërs 6:18)

Daar is mos die sêding: “Wees daardie vrou wat die duiwel in die oggend laat sê: ‘O aarde, sy’s wakker!’”

As ’n mens jou dag met die Here begin, staan jy met die regte voet uit die bed op. Ja, ek vergeet ook soms en my dissipline is dan by die deur uit. Maar as jy met Hom kan praat, is die stryd gewonne.

My bedryf is moeilik, met geen waarborge nie. Daar is dae dat ek wonder hoe ek deur die dag gaan kom. Ek moet my konstant motiveer om op te staan en deur te druk, want die lewe is omtrent ’n vasbyt-en-swembedryf! God is al een wat jou kan en sal deurdra. Hy gee ons nooit ’n uitdaging wat ons nie kan oorkom nie.

Dis ook een van die redes hoekom ek so positief deur die lewe gaan: “God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?” Ek probeer altyd die goeie in mense sien en om hulle soveel moontlik die voordeel van die twyfel te gee. Hoekom wil ons immers suur deur die lewe gaan? So, wanneer jy jou dag met gebed begin, verander daardie frons op jou voorkop sommer in ’n glimlag en verjaag die duiwel!

Ons sien onsself dikwels negatief en dink ons in ’n depressie in. Hoekom? Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Die feit dat jy elke oggend wakker word en weet daar is ’n goedhartige God, is die beste rede om nog ’n dag aan te pak. En wanneer jy gaan slaap, kan jy net weer dankbaar wees dat jy nog ’n dag oorleef het. Hy het saam met jou gestap en jou gedra! Hoe wonderlik is dit nie?