Haar lewe en werk is in die kollig, maar INGRID PAULUS (VRAAGOM) is eintlik skaam. Dit het alles verander toe sy besluit het om haarself te laat geld …
Vind die selfvertroue om jou persoonlike stem te ontdek
Dit was ’n soel Sondagmiddag buite op die stoep. Pa Norman se old school-musiek het die ritme aangegee.
Hy sing-sing saam en wieg sy lyf heen en weer. Steek dan vas en hou sy hand uit, daar waar ek hom sit en dophou, en nooi: “Kom dans saam met Pa.” Só het hy my geleer dans.
Ek het in Eersterust in Pretoria grootgeword en skoolgegaan. ’n Stil kind in haar eie wêreld. ’n Regte bleeksiel met haar neus in die boeke en ’n hart wat warm vir die uitvoerende kunste klop.
Die belangstellings was soveel anders as die meeste van die kinders. Dit was eenvoudige maar lekker kinderjare. Ons het nie altyd gekry wat ons hart begeer het nie, maar ons was ’n hegte gesin met baie mooi herinneringe.
Later is ballet ontdek en die besef: hiérmee is ek goed. Dit het die groot liefde van my lewe geword. Daai klein leotard, tutu en fyn balletskoentjies is soos goud opgepas.
Die eintlike droom was om eendag ’n beroemde prima ballerina te word, maar ongelukkig kon ons later nie meer die klasse of uitrustings bekostig nie.
Soms word daar steeds oor ballet gedroom, maar gelukkig het die toneelgogga ook vroeg-vroeg gebyt.
In een van die skoolopvoerings het ek die blommemeisie van Kanna kô huis toe vertolk. Almal was stomverbaas, want dié stille kind sê dan nooit ’n woord nie!
Iets gebeur wanneer daar in ’n ander karakter geklim word. ’n Ander wêreld gaan oop en skielik is die selfvertroue daar. Tog het dit lank gevat om my eie, persoonlike stem te ontdek.
Kry ’n groter waardering en aanvaarding vir jouself
In my twintigs, aan die begin van ’n loopbaan, was ek oorweldig. Te bang om iets te sê of ’n opinie te lug, want sê nou mense dink: “Wat weet jy? You haven’t lived yet.”
Tog was daar so baie om te sê, maar ek wou nie gekritiseer word nie … en bly toe maar stil.
Boonop kén ek boelies; ek is as kind genadeloos oor my anderste belangstellings geboelie.
Dis juis een van die dinge waaroor ek baie te sê gehad het, as ek net die moed kon bymekaarskraap om te praat. Maar dan kies ’n mens eerder die veilige uitweg. Swye bo kritiek.
Wel, dit het onlangs verander.
Een van die ervarings wat my uitkyk op die lewe ingrypend verander het, was die dag toe daar besluit is om teen kuberboelies op te staan. Mense het die lelikste aanmerkings – sommer oor alles van my – op sosiale media gemaak.
Dit was die mees bevrydende besluit om dít aan te spreek.
’n Boeliery sê meer oor die ander persoon se karakter en optrede. “Hoor hier,” het ek my kuberstem dikgemaak. Toe iets getik soos: “Kritiseer my gerus as aktrise, lug jou opinie oor die storielyn waarvan jy nie hou nie, maar moenie my as mens begin afkraak nie. Jy ken my nie. Niemand weet wat in ’n ander een se lewe aangaan nie. Woorde los letsels, so tel jou woorde …”
Ná daardie gebeurtenis het ek ook sommer ’n groter waardering en aanvaarding vir myself gekry. Uiteindelik was Ingrid dapper genoeg om haar stem te laat hoor.
Die oomblik as ’n mens ma word, kom daar ’n verantwoordelikheid om jou kinders teen die lelike dinge van die wêreld te beskerm.
Daarom was dit so ’n belangrike persoonlike stap om myself te laat geld; om ’n rolmodel en voorbeeld vir my dogters te wees. ’n Stem wat sê: “Moenie terugstaan nie. Laat jou opinie geld wanneer dit nodig is.”
Dis ’n stem van bevryding.