“Ek het al gesien wanneer ek vir mense bid hoe hulle genesing ervaar,” sê radio–aanbieder BENESCKE JANSE VAN RENSBURG.
Gebed het die krag om te genees
’n Tyd gelede het ons ’n fondsinsamelingsweek gehad by die radiostasie waar ek werk.
Daar het ’n vrou ingestap wat ’n masker gedra het. Sy was baie teruggetrokke en in ’n stadium vra iemand haar: Is daar enigiets waarvoor ons vir jou kan bid?
Sy sê: “Asseblief, ja.”
Sy trek haar masker so ’n klein bietjie weg en op haar gesig is dit pers. Heeltemal soos ’n kors, pers. Sy sê toe dat sy kanker het.
Dit is nogal ’n ding om met iemand te praat vir wie die dokter gesê het: Daar is niks meer wat ek vir jou kan doen nie. Ek het nou alles gedoen wat ek kan en daar is ’n slegte vooruitsig vir jou. Jy moet maar die laaste tyd saam met jou familie geniet.
Die groep mense wat saam met my werk, gaan staan toe rondom haar. Dit was nie eintlik ’n vreeslike indrukwekkende gebed wat daar vir die vrou gebid is nie, dit was net: Kom ons vertrou dat God haar kan aanraak. Dat hierdie vrou genees kan word.
’n Paar minute later kry ons ’n boodskap van haar seun, hy stuur ’n foto van haar gesig.
Dit is letterlik asof hierdie pers gedeeltes wat so gesit het op haar gesig, begin afval het.
Dit het my so geraak, want toe dink ek net weer: God is regtig ’n waarmaker van Sy Woord. Hy wil Sy goedheid en Sy liefde vir ons kom demonstreer.
Glo dat God jou gesond kan maak
As iemand my die vraag vra: Genees God nog? gaan ek sê: Definitief. Genees Hy altyd? Nee. Ons weet dit.
Hoeveel keer het jy al vir mense gebid dan sterf hulle? Hoeveel keer het jy al gebid dan gebeur dit nie noodwendig nie. Maar glo jy dat God regtig kan genees? Beslis!
Ek het dit al so baie in my lewe gesien.
Ek glo dat God genees, 100%. Genees Hy altyd? Ongelukkig nie. Partykeer kan ek nie verstaan hoekom nie. Ek praat baie met God daaroor.
Ek vra baie vir Hom dat Hy my moet wys wat daar miskien nog in ons lewe is wat wettige gronde gee vir die vyand om te verhoed dat ons genesing ervaar. Ek het nog nie al die antwoorde nie, maar ek glo dat God wel genees.
Daar is ’n mooi storie van Sadrag, Mesag en Abednego. Dit gaan oor die oomblik waar hulle voor die koning gaan staan.
Dit sê in Daniël 3:16: “Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: ‘Ons hoef u nie hierop te antwoord nie.’”
Die koning het gesê: “Luister hierso, ek gee julle nog een kansie om te buig en die beeld te aanbid.”
Toe sê hulle: “Nee, nee, nee, dis nie nodig nie. Die God wat ons aanbid, kan ons uit die vuur uit red. Hy sal ons uit u mag bevry. En selfs al red Hy ons nie, U Majesteit, sal ons nie u gode vereer nie, ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.”
Ek hou van die ander vertaling wat sê: “Maak nie saak wat nie, ons gaan nie buig voor u nie, selfs al kom God nie vir ons deur nie, gaan ons nie buig voor hierdie beeld nie.”
Hê geloof wanneer jy bid om heel te word
Ek het al gesien wanneer ek vir mense bid, en ek weet ek is net die instrument, hoe hulle genesing ervaar. Maar ek het ook al vir mense gebid wat gesterf het.
Ons moet net nie ophou geloof hê wanneer ons bid nie.
Met ’n uitreik het ons na ’n spesifieke area gegaan, en daar was geleentheid waar mense kon kom vir gebed. ’n Vrou het na my toe gekom en gesê: “Ek kan nie lekker hoor nie, my een oor …”
Dis maklik om vir iemand te sê jy gaan vir hom bid, maar as iemand voor jou staan en is doof, dan vertrou jy regtig dat God hulle moet aanraak. Dit ’n ander soort gebed wat jy bid, want jy besef jy kan niks doen nie. Jy kan net vir God vra.
Daardie oomblik tussen Sadrag, Mesag en Abednego het my net weer laat besef dat ons vra vir God in geloof. Ons vertrou in geloof. Partykeer antwoord God en partykeer antwoord Hy nie, maar ons het nodig om te vertrou en te glo.
Romeine 8 sê dat God alles laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Hoekom? Want Hy is soewerein. Hy is almagtig en Hy weet die beste.
God antwoord definitief, op Sy tyd en op Sy manier.