Probleme hoef jou nie van stryk af te bring nie. Fokus op die eindpunt en nie op wat jy moet opoffer nie, sê die lewensafrigter JANNIE PUTTER.

Visualiseer die eindpunt voor jy begin werk

Moenie vaskyk teen die struikelblokke en hindernisse voor jou nie. Dit kan oorkom word, mits jy bereid is om opofferings te maak en die risiko te loop om te misluk.

Dalk word jy uitgelag deur ander. Jy moet selfs kans sien om liggaamlike pyn te verduur as jy werklik in jou droom glo!

Dis maklik om ’n front voor te hou en op sosiale media te maak asof jou lewe perfek is. Die meeste mense gee voor dat hulle tevrede is met hulle omstandighede, al is dit nie die geval nie.

Dit is nie altyd maklik om die beloning van ’n gedissiplineerde leefstyl te sien nie. Jy kyk maklik vas teen die prys wat betaal moet word, soos al die dinge wat dalk prysgegee moet word. Daardie prys is dikwels veels te hoog.

Die wêreld is vol mense wat vertel dat hulle die hoogste berge sou klim, uitsonderlike prestasies sou behaal en die planeet sou red. As dit tog net nie soveel van hulle geverg het nie.

As ek terugkyk, sien ek die oorwinnings oor al die persoonlike uitdagings wat ek al moes oorkom. Ek vergelyk my nie meer met ander nie, want dis nou duidelik dat ons almal verskillend is. Dis baie meer sinvol om my eie standaard te stel en myself dan daaraan te meet.

Hierdie is ’n wonderlike vryheid en ’n nuwe manier van leef!

Dit is belangrik om die einde te visualiseer voor jy aan ’n droom begin werk. Anders sal jy net vaskyk teen die prys wat betaal moet word en opgee nog voor jy begin het.

As ’n mens ’n duidelike prentjie het van die resultate wat begeer word, maak dit die opofferings baie makliker.

Maak die dinge waarvoor jy hoop jou fokuspunt

Om die einde te kan “sien”, beteken om in jou gedagtes die verwesenliking van jou droom te voel, proe, hoor, sien en beleef.

Wanneer al die sintuie ingespan word, word jy deurdrenk met die adrenalien van opwinding. In jou verbeelding kan jy jouself sien op die pad na groei, sukses en ’n betekenisvolle lewe.

’n Betekenisvolle droom word deur die vuur van passie binne jou aan die brand gesteek. En glo my – dit het niks met gemak te doen nie. Inteendeel.

Passie sal geblus word deur gemak, want passie kan net groei en beweeg met die brandstof van “ongemak” – geloof en hoop.

Om te weet waarheen jy op pad is en dat daar baie wêreldse plesiere opgeoffer sal moet word daarvoor, is net die begin.

Dit is die begin van ’n asemrowende reis met baie onbekende dinge wat ontdek moet word. Niks daarvan is nuut nie, eintlik is alles al baie oud, maar dit is net nog nie deur jóú ontdek nie.

Glo dat jy tot enigiets in staat is. Kry dan die deursettingsvermoë om vreemde en ongemaklike dinge te doen.

Hierdie bouproses berus op die gebruik van woorde – dit wat jy van nou af vir jouself en ander gaan sê. Jou keuse is: Praat aanhoudend oor die dinge wat jy graag wil hê, of nié wil hê nie.

Leer om te praat van dinge wat jy hoop sal gebeur – en praat dan of dit reeds so is.

Dit is ’n lewensbeginsel: Wat die ore herhaaldelik hoor, sal deur die brein omgesit word in ’n geloof en as ’n opdrag gestuur word aan die liggaam. Jou liggaam volg uiteindelik presies die prentjie wat jou brein vir hom stuur.