Sterk boud- en dyspiere is noodsaaklik vir meer as net hoe goed jy in styfpassende jeans lyk!
Van die sterkste spiere in jou liggaam is dié in jou onderlyf. Hulle is uiters belangrik vir die uitvoering van alledaagse bewegings soos hurk,hardloop en spring, maar word dikwels verwaarloos en nie genoeg geoefen nie.
Die dye bestaan uit drie belangrike spiere wat verantwoordelik is vir kniebuiging en strekbewegings van die heup. Hulle help ook met die inwaartse en uitwaartse rotasie van die onderste deel van die been wanneer die knie gebuig is, soos wanneer jy loop, hardloop en spring.
Die boudspiere is ook verdeel in drie, met die “gluteus maximus” as die hoofspier. Hulle is verantwoordelik vir die beweging van die heup en bobeen en ondersteun jou liggaam wanneer jy opstaan uit ’n sittende posisie of trappe klim en om gemaklik regop te staan.
Die meeste van ons sit daagliks vir lang tye by die werk voor ’n rekenaar, in ons motors op die pad of by die huis voor die TV. Dit laat jou heupe styf word as gevolg van die konstante gebuigde posisie. Omdat jou sitvlak minder werk verrig, verswak die spierweefsel.
Dit is uiters belangrik om jou boudspiere geaktiveer te hou deur gereelde versterkings- en strekoefeninge. Dit sal jou liggaamshouding verbeter, beserings verhoed en alledaagse aktiwiteite makliker maak.