Die soektog na betekenis is ’n reis. JO VAN DER MERWE deel hoe haar soeke na haarself haar gelei het na ’n doel, aanvaarding en ’n vervullende lewe.
Hoe om ’n nuwe lewe te bou en jou ware self te vind
Wie is sy? Hierdie Goth-meisie wat so terugstaar uit die spieël? ’n Skoonheidsterapeut, model? Ek kyk lank en diep, maar sien nie vir Jo van die sendelinghuis met die wonderlike ouers nie. Sy is te ver weggebêre onder hope swart grimering. Is dit nodig? Net om “in” te wees en aanvaar te word? Net om ’n bietjie aandag te kry?
Ek kam stadig deur my bos pikswart hare en onthou my blonde lokke. Êrens moet ek begin. Ek gryp die bottel bleikmiddel en sien hoe die swart kleursel stadig in die wasbak drup. Maar dis nie genoeg nie. Dis nie die antwoord nie … Ek soek steeds, maar by die verkeerde mense en verkeerde situasies. My lewe was so deurmekaar.
God gryp in my lewe in. Ek ervaar ’n radikale bekering en loop op die wolke. Maar tog is alles nie net maanskyn en rose nie. Ek moet nou my nuwe lewe bou. ’n Nuwe identiteit bou. Wie ís ek eintlik sonder die Goth-voorkoms?
“Wat wil U van my hê?” spook ek dag en nag met die Here. “Wat beteken dit om ’n ’ware kind’ van U te wees? Help my tog!” Moet ek regtig ophou rook? Wat wil God van my hê?
Die antwoorde kom nie oornag nie, maar nuwe vriende kom op my pad om saam met my aan my nuwe toekoms te bou.
Een so ’n vriendskap is die leeuman van Namibië. Drie maande later neem hy my na hulle plaas.
Die rustigheid en aanvaarding wat kom van die regte plek
Ek het al heelwat van die Harnas wildstigting, ’n wildrehabilitasieplaas, gehoor. Maar ek was nog altyd ’n bietjie lugtig vir diere en ook vir die natuur en sou nooit daarvan droom om uit my eie hierheen te kom nie. Nou is dit egter anders. Ek is vreeslik verlief en sal enigiets doen om sy wêreld beter te leer ken.
Skielik bevind ek my in ’n wêreld waarvoor ek eintlik bang is. Ek, wat nog altyd gesukkel het met paniekaanvalle, vrees vir goeters in die natuur en diere, oop areas, alleenwees en enigiets wat vuil is! My gemaksone word heeltemal van my weggeruk. Om een of ander rede is daar egter ’n wonderlike rustigheid in my.
Miskien is dit bestem dat ek nou hier moet wees. Maar van êrens kom die wete dat ek op Harnas hoort. En jare later word dit verder bevestig deur klein Nanna Paulus, ’n San-seuntjie van die area wat diep in my hart ingekruip het.
Nanna het my gewys wat die werklike lewensomstandighede van die San is. My oë het oopgegaan. Hulle sukkel om by die moderne lewe aan te pas. Om my is kinders wie se drome elke dag vertrap word. Hierdie is kinders wat niks weet van moderne sosiale gewoontes en Westerse idees van higiëne en dissipline nie. Hulle druip skool omdat dit vir hulle ’n vreemde instelling is.
Dis tóé dat die idee van die Cheeky Cheetah Club begin het – ’n sentrum waar plaaslike kinders gehelp word met die oorbrugging van veld na die skoolbanke.
God se genade sal jou lei na waar jy moet wees
Ek het altyd skaam gekry vir my verlede. Gewens ek kon dit net uitvee. So betekenisloos, maar God het my gehelp om sin daaruit te maak. Ek het duur lewenslesse geleer en kan dit vandag met ander deel. God was my genadig en Hy weet waarheen my reis is. En al het ek dit via ’n paar afdraaipaadjies gedoen, het Hy my nog altyd gelei.
Ek maak nog baie foute. Ek het nog baie verhoudings wat ek moet herstel; vergifnis wat ek moet soek en gee. So baie keer wat ek nog die knie sal moet buig.
Maar solank die son oor Harnas opkom en sak, word ek gevul met vrede. Dis ware geluk wat warm deur my spoel. Sonder genade kon ek nie vir Jesus liefhê, en my familie en die kennis hê nie. Daar is dinge waaroor ek spyt is en liefs van wil vergeet. Maar ek besef ook dis wat my nederig en geanker hou. Dit laat my onthou hoe feilbaar ek is.
’n Lewe so na aan die natuur is eenvoudig en langsaam. Die son kom op en gaan onder. Die seisoene verander. Diere gaan dood en nuwes word gebore. En ek besef ons is ook deel van die natuur. Ons het ook seisoene. Op my lang pad na vandag is ek telkens gedra. Hier en daar is ek in ’n onbekende rigting gestoot, maar ten spyte van my swakste oomblikke, was ek altyd toegevou in onvoorwaardelike liefde.