LYNETTE BEER het tydens die Vroue wat glo-retreat verduidelik hoe jy aandag met jou eie platform kan trek om die Woord van die Here versprei.

Sosiale platforms help jou by mense uitkom

Hoe op aarde trek ’n mens aandag in ’n wêreld wat verdrink in inligting en duisende stemme daarbuite.

Jy moet ingelig wees sodat jy relevant kan wees. Jy kan nie sommer net oor enigiets praat nie. Moenie jou tyd, jou energie en ontwikkeling daar buite sit as dit nie relevant is nie.

Daarom moet ’n mens altyd luister wat die gonswoorde is – dan moet jy kapitaliseer op daardie tyd se gonswoord.

Ek het ’n pragtige vriendin op ’n sosiale platform. Sy hou elke gonswoordjie dop en dan beland sy in groot moeilikheid daarna. Maar sy doen kragtige werk. Die Here het haar vir seker geroep om die sosialemediaplatform anders as ek te gebruik.

Ons moet altyd vir onsself vra wanneer ons bid as dit ons bediening is: Here, ek gaan nou voor hierdie groep mense staan, wat is dit wat hulle wil hoor? Waar is hulle nou? Waar moet hulle wees? Wat kan ek doen, Here? Wat kan ek sê vandag om hulle van hier af soontoe te kry.

Want ek het nie ’n platform sodat ek kan spog met die platform nie. Ek het ’n platform, want dit maak dit vir my maklik om by mense uit te kom.

Sosialemediaplatforms laat my so dink aan Jesus self. Toe Hy vir sy dissipels gesê het: “Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as ek gegaan het om vir julle plek voor te berei, dan kom ek terug na julle toe sodat ek julle kan kom haal sodat julle kan wees waar ek is. Maar intussen gee ek julle die Heilige Gees.”

Want jy sien, Jesus kon net op een plek wees. Wanneer jy ’n platform het, dan kan jy op baie plekke wees. Jy kan in Nieu-Seeland wees. Jy kan in Australië wees. Jy kan in Dubai wees.

Daarom moet ons vandag besef dat dit ’n wonderlike tyd is om jou bediening te leef met die hulp van sosialemediaplatforms. Jy moet dit net verantwoordelik doen.

Gebruik jou netwerk om jou bediening uit te leef

Vir my is dit ’n voorreg as ek in mense vasloop en hulle sê: “Jissie, ek het gisteraand na jou geluister.”

Dan dink ek: Ek was mos by die huis.

“Jy lyk pragtig in blou.”

Maar ek het nie blou gisteraand aangehad nie.

Dis die voordeel van ’n platform.

Naas relevansie moet jy kragtig wees. Jy moet praat oor dit wat relevant is en dan moet jy kragtig wees.

Om kragtig te wees beteken nie jy moet goeie grappe vertel of dat jy moet hard praat nie. Kragtig wees, beteken jy moet met gesag optree.

’n Mens kan nie met gesag optree as jy nie self die pad gestap het nie. Ek kan nie vandag hier praat oor goed waarvan ek niks weet nie. Dit gaan nie uit my hart kom nie. Dit gaan ook nie in jou hart val nie.

Jy moet jou onderwerp ken. Dit is verskriklik belangrik, want jy werk met mense se hart. Ek kan nie enigiets van daardie platform af sê en dan doen dit skade nie. Ek moet my onderwerp ken.

Ek moet altyd outentiek bly en ek moenie probeer wees soos iemand anders nie. Ek moet net wees wat God my gemaak het.

Baie jare gelede vra hulle my om die spreker by ’n kerkkonferensie te wees.

Ek was jonk, maar ek het ’n fantastiese mentor in my lewe gehad. Maar hy is totaal anders as ek. Hy loop regop. Hy is baie kundig. Hy ken die Woord. Hy praat stadig, kyk jou so, en dan praat hy indringend. Hy gebruik groot Afrikaanse woorde.

Die dag toe ek optree, omdat hy vir my so ’n groot ikoon en mentor is, toe staan ek daar in die liggaam van hierdie mentor. Toe ek klaar is toe kom tannie Duifie de Kock en sy sê: “Wat het met jou gebeur vandag? Ek het jou genooi vir wie jy is – wie was jy vandag?”

Ek wil hê jy moet dit altyd onthou: Mense wil na jou luister omdat jy jý is. Moet nooit probeer om aanpassings te maak nie. Wees outentiek. Wees wie jy is.