Ons weet nie altyd regtig wát ons eet nie. Die oplossing is om wanneer ons koop, produketikette versigtig te bestudeer en bestanddeelkodes te ontleed.
Daar is deesdae kitsoplossings vir alles, van lasagne tot kapokaartappels. Hierdie opsies word egter nie noodwendig voorberei soos ons dit tuis sou doen nie.
Geprosesseerde kos is oor die algemeen hoog in vet en versteekte suiker, wat dikwels meer skadelik is as die makronutriënt self.
Let op na die inhoud. Dit word volgens gewig in volgorde van die meeste tot die minste gelys. Indien “koring” eerste op die broodverpakking verskyn, kan jy aanneem dat dit grotendeels koekmeel bevat. Indien soja tweede gelys word, beteken dit dat daar ook heelwat sojameel in is.
Vreemde bestanddele en kodes op hierdie lys is ’n aanduiding van die geprosesseerde aard van die produk. E-kodes dui gewoonlik op kleur- en preserveermiddels. Sommige kossoorte lys meer van hierdie e-kodes as ander bestanddele.
Doen jou navorsing; kyk of die etiket sin maak. Dit mag dalk voor op daardie heerlike proteïenstafie sê “slegs 5 g koolhidrate en geen bygevoegde suiker nie”, maar die inligting agterop wys dat dit 11 g koolhidrate bevat waarvan 7 g suiker is.
Nog ’n belangrike aspek is die verskil tussen kilojoules en kalorieë. Kilojoule is die eenheid waarin ons energie meet (die Amerikaners gebruik “kilokalorie”). Een kalorie is gelyk aan 4,2 kilojoules.
Indien jy elke dag 6 000 kilojoules verbrand en jy eet ’n 100 g sjokolade wat 2 000 kilojoules bevat, beteken dit jy het reeds ’n derde van jou daaglikse behoefte verorber. 300 kilojoules is gelyk aan een sny brood. Die blok is dus gelyk aan ses en ’n halwe snye brood!