Liesel Krause-Wiid [Oudio+Video]

LIESEL KRAUSE-WIID – Inspireer ander met jou liefde en omgee 

LIESEL KRAUSE-WIID is ’n passievolle NG Kerk-predikant, bekende spreker en skrywer. Haar lewensreis weerspieël die krag van liefde, omgee, vrygewigheid en geloof. 

Jy en jou man, Siebert, is gaande oor reis. Watter land het die grootste impak op jou gehad? 

Ons reislus het baie vroeg begin. Ons het in Atlanta, Amerika vir twee jaar gebly waar ons besluit het om ons geld te gebruik om die state te verken, eerder as om te spaar. Daar het die reisgogga ons behoorlik gebyt en ons het byna al die Amerikaanse state tydens ...

LIESEL KRAUSE-WIID is ’n passievolle NG Kerk-predikant, bekende spreker en skrywer. Haar lewensreis weerspieël die krag van liefde, omgee, vrygewigheid en geloof. 

Jy en jou man, Siebert, is gaande oor reis. Watter land het die grootste impak op jou gehad? 

Ons reislus het baie vroeg begin. Ons het in Atlanta, Amerika vir twee jaar gebly waar ons besluit het om ons geld te gebruik om die state te verken, eerder as om te spaar. Daar het die reisgogga ons behoorlik gebyt en ons het byna al die Amerikaanse state tydens ons verblyf besoek. 

Ons het ook vir ’n jaar in Perth, Australië gewoon. Dit sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê omdat ek daar swanger geword het met Siebert junior ná vier miskrame.  

Ek het gedink ek sou nooit weer ’n baba kon hê nie. Ander medikasie, omstandighede en ’n rustiger lewenstyl het bygedra dat ek hierdie swangerskap kon behou. Perth sal daarom altyd een van my gunstelingbestemmings bly met kosbare herinneringe. 

Vir Finesse Voelgoed-tydskrif het ons twee Oberammergau-toere deur Europa gelei en wonderlike plekke ontdek. Die Alpe bly vir my ’n Godswonderwerk – die majestueuse berge is werklik asemrowend en laat jou God se skepping op ’n dieper vlak waardeer. 

Die Bybellandetoere sal altyd spesiaal bly in my hart. Om in Jerusalem se klipstraatjies te loop, op die Olyfberg te staan, of langs die See van Galilea te sit en relevante Bybeltekste te lees, verdiep jou Bybelkennis.  

Die Bybel word lewendig wanneer jy die plekke sien waar verhale afgespeel het. Ons meer onlangse toere na Efese, Antiochië, Laodisea, Turkye, Griekeland en Patmos het die Bybel vir my op ’n besonderse wyse oopgebreek. 

Julle begelei ook baie toergroepe na Israel. Hoe het die ervaring jou geloof en verbintenis met God verdiep? 

Ons het al nege Israeltoere vir Finesse Voelgoed-tydskrif gelei en dit bly steeds ’n besondere belewenis.  
 

Wanneer mense vra of ek nie moeg raak vir Israel nie, antwoord ek dat ek nooit genoeg kan kry van om in Jesus se voetspore te loop nie. Dit doen iets aan jou siel. 

Die feit dat jy daar voortdurend met die Woord besig is, tekste lees op die plekke waar dit gebeur het, maak jou meer gefokus op jou geloof. Daarom beleef soveel mense ’n geloofsverdieping daar. Dit is waarlik ’n pelgrimsreis wat jou lewe verander en jou nader aan God bring. 

Om op die Olyfberg te staan, by Golgota te wees, of Nagmaal te gebruik in die Tuin van Getsemane – dit alles raak jou siel diep en laat jou God se teenwoordigheid ervaar op ’n besondere manier. 
 

Tydens ons onlangse toer na Efese en Pergamum, waar ons die sewe gemeentes besoek het aan wie Johannes geskryf het, besef ’n mens hoe swaar die vroeë Christene gekry het. Ons raak vandag maklik moedeloos oor geringe sake terwyl daardie mense werklik vir hulle geloof gely het. 

Ons het ’n ondergrondse stad besoek waar Christene weggekruip het omdat hulle wreed vervolg is. Hulle het die doodstraf gekry omdat hulle nie die keiser wou aanbid nie. 

Wanneer jy hierdie plekke besoek en die Bybeltekste daar lees, verstaan jy die Bybel op ’n nuwe manier. Dit inspireer jou om meer te lees. Hierdie Bybelse plekke bied ’n wonderlike geestelike reis wat jou geloof ten diepste transformeer. 

Hoe vul liefdadigheid jou siel en bring vrede in jou lewe? 

Die Bybel sê dit is lekkerder om te gee as om te ontvang, en dit is werklik die waarheid. Wanneer ek betrokke is by welsyn en liefdadigheid, voed dit my siel en bring dit vir my soveel vreugde en vervulling. 

’n Sielkundige het eenkeer treffend gesê: “I do not know what your destiny is, but if you serve others you will be happy.” Dit is inderdaad die geheim tot ware geluk.  

Mense vra dikwels hoe hulle meer gelukkig kan wees. Die antwoord is eenvoudig: Reik uit na ander; gee om vir hulle; maak ’n verskil in mense se lewens. Dit gee jou die kosbare geskenk van ware vreugde en diep innerlike vrede. 

Die Willa Krause-groep en ek is betrokke by verskeie welsynsorganisasies, maar een lê besonders na aan my hart: Dynamic Women for Children, ’n groep behoeftige kinders in Kameeldrift. Die meeste is plakkerskinders.  

Ek besoek hulle gereeld, deel geestelike boodskappe, speel en kuier saam met hulle. Hulle gee my soveel liefde en leer my oor ware dankbaarheid en afhanklikheid van die Here. 

Wanneer ek vra waarvoor ek moet bid, sê ’n blonde dogtertjie altyd: “Vir die armes, Tannie.” Dan besef ek met ’n skok: Hierdie kind weet nie sy is een van die armstes nie. 

Raak betrokke by jou plaaslike gemeenskap – jou skool, kerk of omgewing. Verafgeleë betrokkenheid is selde volhoubaar. Blom waar jy geplant is en maak ’n verskil waar jy kan. Dit sal jou lewe ongetwyfeld verryk en transformeer wanneer jy uitreik na ander in nood. 

In die uitdagende wêreld waarin ons leef, hoe kan ons met groter deernis en omgee leef? 

Ek dink mense met die grootste behoefte aan deernis en omgee is behoeftige kinders en bejaardes, wat my baie na aan die hart lê.  

Ek probeer gereeld uitreik na hulle, al weet ek ons is almal besig. Jy werk hard om die pot aan die kook te hou en jou gesin moet natuurlik eerste kom, maar probeer tog as gesin saam uit te reik na diegene in nood rondom jou. 

Wanneer ek welsynsaksies doen, neem ek my kinders saam. Nou dat Carmen uit die huis is, is dit moeiliker, maar ek het hulle altyd betrek en neem klein Siebert ook saam.  

Dit is besonder voordelig vir hulle en vir julle as gesin om saam betrokke te raak. Dit gee jou kinders ’n breër perspektief op die wêreld wanneer hulle besef hoeveel hulle het om voor dankbaar te wees. 

Hulle besef hoe bevoorreg hulle is, en dit doen iets besonders aan ’n mens as gesin wanneer julle saam betrokke is by welsyn en saam ’n verskil maak. Dit kan selfs in jou onmiddellike omgewing wees – jy hoef regtig nie ver te gaan nie, en dit hoef nie altyd geld of baie tyd te wees nie. 

Jy kan iemand vriendelik groet, ’n boemelaar menswaardig laat voel deur opreg te vra hoe dit gaan. Jy kan ook bid vir mense in nood. Natuurlik help dit as jy tyd of finansies kan bydra, want so maak ons saam ’n wesenlike verskil en help ons om God se koninkryk hier op aarde te laat kom. 

Jy het ook al in jou lewe baie wonderwerke aanskou. Deel ’n onlangse wonderwerk. 

Onlangs sit ek en huil oor Carmen wat ver oorsee werk. Ek verlang. Skielik hoor ek ’n geklop aan die venster – twee pragtige geelbekneushoringvoëls!  

Ek is besonder lief vir hierdie voëls, wat deesdae so skaars is. Ek het dadelik geweet dit was nie toevallig nie, maar die Here wat my verseker Hy is by my. 

Ek het ’n soortgelyke ervaring in Efese beleef. Ek het ’n boodskap voorberei wat ek by die antieke ruïnes onder ’n boom wou lewer – oor die Christene wat daar deur die eeue volhard het. Tot my teleurstelling het ons reisplanne verander, en ons moes vroeër vertrek as beplan. 

Later by die restaurant waar ons middagete genuttig het, was daar onverwags die perfekte plek onder skaduryke bome met presies genoeg stoele vir ons groep. Daar was selfs ’n ekstra stoel vir my notas!  

Die koelte het almal gehelp om beter te fokus, en dit was uiteindelik ’n beter plek as wat ek oorspronklik beplan het. 

Ek was eers hartseer omdat my beplanning nie gerealiseer het nie, maar besef toe dat die Here ’n beter plan gehad het. 

Elke dag bid ek dat my dagboek in plek val. Saans kyk ek terug en besef God was in beheer. Ek skryf hierdie klein wonderwerke getrou neer.  

Wanneer moedeloosheid kom, blaai ek deur my joernaal en herinner myself aan God se teenwoordigheid in my lewe. Soos die Engelse gesegde lui: “I’ve seen too much of God to give up.” 

Jy is mal oor Kersfees! Wat maak Kersfees so spesiaal vir jou, en hoe vier julle dit om die ware betekenis daarvan te eer? 

Ek is lief vir Kersfees en ons gesin vier dit met groot vreugde. Eerstens, natuurlik, omdat ons Verlosser gebore is – ’n rede op sigself om fees te vier. 

Ons is almal gebroke mense wat onsself nie kan red nie. Al probeer ek hoe hard om vandag net in liefde op te tree of nie my humeur te verloor nie, faal ek steeds.  

Die lewe gebeur en ons val terug in ou gewoontes. Jesus, die volmaakte Een, het egter die wêreld se sonde op Hom geneem en ons skuld ten volle betaal. Hy het ons vrygekoop – waarlik rede om te jubel! 

Hierdie groot genade beteken nie ek kan nou leef soos ek wil nie, want dan maak ek genade goedkoop. Ek leef in sy wil uit dankbaarheid vír my redding, nie óm gered te word nie. Hy het plekke met my geruil. 

As gesin kom ons bymekaar, eet lekker saam en woon kerkdienste by. Ons lees weer die verhaal van Jesus se geboorte uit die Evangelies en leef ons daarin in. Ons droom oor die jaar wat kom en reflekteer oor die jaar wat verby is, terwyl ons die Here dank vir sy seëninge. 

Ons maak die boom mooi, luister na Kersmusiek en kuier met vriende. Omdat dit vakansietyd is en ons minder werk, is dit soveel lekkerder om fees te vier met ons Verlosser, Immanuel – God met ons. 

Met Kersfees wat vir baie mense oor familie gaan, hoe bly jy in die gees van vreugde en geloof, veral wanneer jou kinders nie by die huis kan wees nie? 

Dis vir my glad nie lekker wanneer my kinders nie Kersfees by my kan wees nie. Ek is ’n tipiese hen wat al haar kuikens onder haar vlerk wil hê, veral gedurende feestye. Maar kinders word groot, begin hul eie gesinne en kan nie altyd by jou wees nie. 

Gelukkig bied moderne tegnologie die geleentheid om via video-oproepe te kuier. Ons maak ook ’n punt daarvan om deur die jaar saam te kom wanneer almal beskikbaar is.  

Dalk is dit nie Kersfees nie, maar wanneer Carmen en Siebert albei by ons is, gaan eet ons uit, hou piekniek of doen iets spesiaals saam. 

Ons soek doelbewus geleenthede om saam fees te vier, want verhoudinge is waaroor die lewe gaan. 

As predikant staan ek soms langs ’n sterfbed. Niemand vra ooit vir hul duur skoene of om hul motor te sien nie. Hulle soek slegs hul geliefdes en God se teenwoordigheid. 

Die lewe gaan oor verhoudinge. Ons moet tyd maak vir mekaar, ons bande koester, mekaar vergewe en liefde mildelik uitdeel. Aan die einde van die dag is dit al wat werklik saak maak. 

Deel die artikel

Méér artikels

Lewensafrigter en vuurloop-instrukteur, COBUS ‘THE VIKING’ VISSER, vertel hoe hy sy beperkings oorkom het om sy drome te bewaarheid en te leef sonder spyt. Wat ...

Lisa van Niekerk, oftewel LISA MET DIE ROOI HARE, kyk verskeie werklikheidsreekse sodat ons nie hoef nie. Sy deel haar reis van Afrikaanse realiteit-TV resensies, ...

Scroll to Top