Sy skitter in die kollig, maar SASHA–LEE DAVIDS is in haar wese eintlik skaam en teruggetrokke. Sy moes leer om vrede te maak met wie sy is en hoe sy lyk.
Vind ’n manier om tevrede te wees met jouself
Siesa, Sasha!” Dit was die woorde wat my oog gevang het op die plakkaat teen die lamppaal. Ek kon my oë nie glo nie … Die foto op die voorblad is die vorige dag geneem by ’n show waar ek opgetree het.
Die koerantberig het sowaar geïnsinueer dat Sasha-Lee Davids so skandalig was dat sy met ’n love bite in haar nek voor ’n klomp mense sou gaan sing het.
Die waarheid was egter iets waarmee ek al jare lank sukkel. ’n Velprobleem, ekseem – en hierdie was ’n flare-up. Ek wou ineenkrimp van skaamte.
Voor die vertoning is daar hard probeer om die uitslag in my nek met grimering toe te maak.
Dit was duidelik tevergeefs – en nou het die koerant iets wat my al klaar onseker laat voel het, brutaal uitgebuit.
Van daardie oomblik af het ek begin toe klere dra wanneer daar ’n uitslag was.
In my volwasse jare het ek agtergekom dat daar eintlik baie mense is wat met hierdie velkondisie sukkel. My skaamte het ook begin wegval.
Jy leer naderhand om nie ’n slagoffer van ’n probleem te wees nie, maar om dit eerder slim te bestuur. In hierdie geval, deur mooi na my vel te kyk en die probleem te beheer. Vir nou is die beste geneesmiddel my houding teenoor die probleem. Dit geld vir alles in die lewe – hoe jy kies om dit te hanteer.
Ek moes baie negatiewe aanmerkings verduur – maar gelukkig is dit juis die moeilike situasies wat jou die sterkste maak.
Wees trots op jou oorwinnings en mislukkings
Daar is lang trane gehuil. Honderde diëte beproef, sonder sukses. Uiteindelik vind jy die antwoord en maak vrede met wie jy is en hoe jy lyk.
Dis dan wanneer gesondwees belangriker word as vet of maer wees.
Dis ongelooflik bevrydend om op ’n plek te kom waar ’n mens volkome tevrede voel met jou lyf – net soos dit is. Soms weeg ek ligter, soms ’n bietjie swaarder – want die lewe gebeur – maar weet jy … dis oukei.
’n Mens leer om keuses te maak wat bou, nie breek nie. Deesdae sê ek vir baie dinge “ja”. Tog wens ek hierdie wysheid was deel van al my besluite.
As ek die horlosie kon terugdraai, sou ek eerder wou “nee” sê in een geval – vir daai een outjie in my jonger jare. ’n Narsis.
Uit hierdie verhouding is daar geleer dat om iemand waarlik lief te hê, moet jy eers leer om jouself lief te hê. Om iemand anders te ken, moet jy eers jouself ten volle leer ken.
Só leer ’n mens uit die foute … Soos iemand eendag gesê het: “As iets nie ’n goeie einde het nie, dan is dit nog nie die einde nie.”
Vir my toekomstige self wil ek sê: Moenie dat die verlede jou terughou nie. Wees trots op die oorwinnings én die mislukkings. Die een laat ’n mens groei; die ander een spoor jou aan om selfs groter suksesse te bereik.