MARGIT MEYER-RÖDENBECK, bekend as Dowwe Dolla, moes in 2003 hulpeloos toekyk hoe kanker haar ma steel. Haar hart wou verdrink, maar sy het gekies om bo te bly.
Hoe jou prioriteite verander nadat jy verlies ervaar het
Die band tussen Margit en haar ma, Rita, was baie heg. Rita was haar klankbord en vriendin, soms haar grootste kritikus. Maar sy was ook die vangnet wat onder sou staan, gereed om haar dogter te troetel met haar vergifnis en onvoorwaardelike liefde.
Haar ma is met kanker gediagnoseer toe Margit vyf jaar oud was, maar het wonderbaarlik genees. Die gesin was na aan mekaar en die lewe was goed. Maar in September 2002 het ’n ontydige winter vir Margit en haar gesin aangebreek. Die dokter het die slegte nuus gebreek. Buikkanker. Terminaal. Hulle sal hul bes doen, maar daar is nie werklik hoop nie.
“Ons moes háár dra, maar op die ou end het sy ons gedra,” onthou Margit. Haar ma is in Maart 2003 oorlede. Vir die hele gesin was dit bitter seer en traumaties, maar Margit het ’n kosbare les daaruit geleer.
“Ek het in die fliek The Hours die mooiste opmerking gehoor by die vrou wat die rol van Virginia Woolf vertolk het. Sy het gesê: lemand moet doodgaan sodat ons ander kan besef hoe baie ons in die lewe kry en hoe belangrik die lewe is. My hele lewe het verander. ’n Mens se prioriteite verander, jou denke oor dinge ook … jy word ’n beter mens.
“Al wat sleg is, is dat my ma weg is en dat sy nooit weer in die vlees hier by my sal wees nie. Verder het alles beter geword. Dit is die ironie. As ’n amazing mens doodgaan, sál dit gebeur.”
Verander hartseer in krag: jou gids tot positiewe verandering
Hoe jy iemand se dood verteer, is ’n keuse, meen Margit.
“Natuurlik moet ’n mens rou, maar ek het besluit dat die enigste manier vir my om daaroor te kom, is om al die sterk, goeie eienskappe wat my ma gehad het, verder in myself te ontwikkel. Ek fokus daarop deur te sê: Sy is nie dood nie, want daar lewe ’n deel van haar in my.”
Haar ma het nie die wêreld, of vir Margit onaangeraak gelaat nie. “Ek het begin dink aan hóé ek my lewe wil lei. Jy doen dit maar altyd, maar skielik word jy gedwing om vir jouself te sê: Lewe nou soos jy regtig wil leef …”
Dood van ’n geliefde: jóú keuse
- Al is die hartseer groot, kan die dood van iemand na aan jou ook jou lewe positief beïnvloed – selfs heeltemal verander. Dit hang af hoe jy daaroor dink.
- Dink aan die persoon se sterk, goeie eienskappe wat hom of haar spesiaal gemaak het.
- Besluit om hierdie eienskappe in jouself te ontwikkel – en so ’n ietsie van die persoon te laat voortleef, terwyl dit ook jou eie, en ander mense, se lewens op ’n unieke manier kan verryk.
- Laat toe dat jou geliefde se dood jou opnuut herinner aan die waarde van die lewe, en die feit dat jý nog hiér is om dit voluit te leef. Hoe gaan jy kies om dit te doen?