Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.
(Psalm 30:6)
Soms kom ons op plekke in ons lewe waar ons net nie meer verder kan of wil aangaan nie, maar vir kinders van God is opgee nie ’n opsie nie.
Elke moeilike situasie is ’n bos waardeur ons moet stap. Party is dalk baie groter en donkerder as ander, maar aan elke donker bos is wel ’n einde. Ons wonder soms hoekom gelowiges deur donker bosse moet stap. Dit is nie sy wil nie, maar Hy laat dit toe om ons beter en sterker mense te maak in hierdie gebroke wêreld.
Die feit dat ons Christene is, vrywaar ons nie van seer of swaar op aarde nie, maar gee ons die sleutel tot hoop. God wil en kan jou deur jou donker bos dra as jy Hom net gaan toelaat.
Soms neem ons Hom kwalik vir situasies in ons lewe en probeer self deur hierdie bos kom. Maar dit gaan jou soveel langer vat en jy gaan tien teen een verbitterd en kwaad vir die lewe en vir God anderkant uitstap.
Waaraan hou jy vas as jy in die donkerste bos in jou lewe is? Is jou anker God se hand of gryp jy na enige tak in die donker wat jou kan help? Keer op keer openbaar Hy aan sy kinders dat Hy getrou is.
Dinge is dalk baie donker in jou lewe. Dit voel die son gaan nooit weer skyn nie, maar Hy laat niks met jou gebeur wat jy nie kan hanteer nie. As dit vandag is hoe jy voel, hou onvoorwaardelik aan hierdie belofte vas tot die son weer in jou lewe begin skyn.
God sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.