Moets en moenies vir stilword

Moets en moenies vir stilword

Die talle boeke op jou boekrak oor stilword, verraai jou skuldgevoelens oor die gehalte van jou afsonderingstyd. Vergeet al die moets en moenies van ’n reëlperfekte stiltetyd. En laat ’n nuwe passie die stilte onderbreek.

Daar is nie net een manier van stilword nie

Op ’n dag werk dinge nie meer so goed soos voorheen nie. Skuif dan skuldgevoelens opsy om plek te maak vir nuwe uitdagings en insigte om jou stilwordtyd weer op dreef te kry.

Diep binne elke mens skuil daar ’n begeerte wat elke ...

Die talle boeke op jou boekrak oor stilword, verraai jou skuldgevoelens oor die gehalte van jou afsonderingstyd. Vergeet al die moets en moenies van ’n reëlperfekte stiltetyd. En laat ’n nuwe passie die stilte onderbreek.

Daar is nie net een manier van stilword nie

Op ’n dag werk dinge nie meer so goed soos voorheen nie. Skuif dan skuldgevoelens opsy om plek te maak vir nuwe uitdagings en insigte om jou stilwordtyd weer op dreef te kry.

Diep binne elke mens skuil daar ’n begeerte wat elke nou en dan kop uitsteek. Ons kan dit nie presies beskryf nie. Soms voel dit vir ons of ons eers daardie ontwykende “ding” moet vasgryp voordat ons gelukkig en tevrede kan wees.

Ander kere raak ons daarvan bewus dat ons ons lewe en tyd met kleinighede verspil, dat ons gemaak is om groter dinge te vermag … Dit is eers as ons die naam van ons begeerte ken dat ons begin leer hoe om dit te bevredig.

Stilword is om jou wil, jou liggaam, jou verstand, emosies en sintuie in ooreenstemming met jou gees se behoeftes te bring. Geen twee persone op aarde doen dit op dieselfde manier nie.

Party van ons word die maklikste van ons geestelike behoeftes bewus wanneer dit doodstil is om ons. Mense wat van beweging hou, sê weer hulle fokus die beste wanneer hulle swem, hardloop of fietsry.

Liefhebbers van musiek en dié met ’n musikale aanleg vind hulleself die beste deur musiek en ritmiese beweging. Mense met sterk visuele vermoëns ontdek hulle geestelike behoeftes in beelde of prente wat hulle in hulle geestesoog sien.

Wie sê daar is net een manier om stil te word? Kombineer die dinge waarvoor jy lief is in jou stilwordtyd. Ons stiltetye hoef nooit ’n vervelige gewoonte te word nie.

Die hele idee is dat jy stilte by jouself sal vind. Jou gedagtes moet rustig en ontvanklik wees. Jy sal ontdek hoe jy nuwe insigte in jou lewe kan toepas.

Stiltetyd hoef nie ’n vervelige gewoonte te wees nie

Jy loop jou kort-kort vas in elke reël oor stilword. Staan ’n oomblik stil. Sien die geleenthede in elke dag raak. Blaas die vlam van jou belangstelling in ’n stiltetyd aan tot ’n vurige passie.

Ons stiltetye hoef nooit ’n vervelige gewoonte te word nie, maar eerder ’n goeie gewoonte. En enige goeie gewoonte begin by goeie beplanning.

Neem jou dagbeplanner of ’n vel skoon papier, ’n potlood en ’n uitveër en sonder jou af vir beplanning. Stel ’n lys op van alle pligte, verantwoordelikhede en afsprake wat die volgende dag op jou wag – vandat jy opstaan totdat jy gaan slaap.

Skryf ook die tyd langs elkeen neer, bv. 06:00 – Opstaan; 06:15 – Ontbyt, was en aantrek; 07:30 – Vertrek werk toe … Watter tyd van die dag is daar minder aansprake op jou tyd en aandag of het jy meer tyd tot jou beskikking?

Watter minder belangrike eise en aktiwiteite kan jy vir minstens 15-20 minute opsy skuif om ’n stilwordtyd te skep (bv. TV-programme, ’n tydskrif deurblaai, telefoon-oproepe of vroeër opstaan)?

Is jy ’n oggend-, middag-, aand- of nagmens? Met ander woorde, wanneer is jou verstand die helderste? Kyk nou waar daar ’n tydgleuf vir jou stilwordtyd oopval. Onthou om jou wekker te stel om jou aan hierdie belangrikste afspraak van die dag te herinner!

Baie belangrik: Moenie moed opgee as ’n krisis jou stilwordtyd in die wiele ry nie. Hou jou notaboek byderhand … jy word dalk net met ’n onverwagte alleentydjie verras.

Jy lees dalk skielik iets raak wat jou duidelik aanspreek. Skryf jou gewaarwording, jou gedagtes en hoe dit jou huidige situasie raak in jou joernaal. Elke stukkie inligting wat ons ontdek laat jou met verwagting na jou volgende stiltetyd uitsien.

Wees bewus van wat jou stilword vernietig

Ons omstandighede kan ons so oorweldig dat ons vir min dinge lus is. ’n Mens wonder dan of ’n stilwordtyd soveel moeite regverdig. Dit is juis in hierdie tyd wat ons die afspraak moet nakom.

Klein jakkalsies is oulik … as jy hulle in die veld deur ’n verkyker dophou. As jy hulle egter in jou lewe loslaat, kan jy maar skade verwag. Hulle stoei alles plat en kou aan wat oor is. Daar is jakkalse wat gereed lê om ons stilword te vernietig …

Ons eerste jakkals word “uitstel” genoem. Alles is gereed vir ons afspraak. Ons het die tyd, plek én die goeie voornemens, maar op die laaste minuut bedink ons ons. Nee, netnou … of môre.

Skuil daar dalk iets dieper agter ons uitstel? Vrees? Luiheid? Hoe meer jy uitstel, hoe moeiliker raak dit. Jou verantwoordelikheid is om bloot die afspraak met jouself na te kom.

’n Ander jakkals heet “steurnisse”: fone, geraas, onverwagte besoekers, ons huismense … Mense kan altyd weer bel of ’n boodskap laat. Ignoreer dus die telefoon se gelui (al klink dit dringender tydens jou stiltyd). Trek die prop uit of skakel die klank af.

Lig ook jou huismense in oor die duur van jou stiltyd. Sê pertinent dat jy om geen rede behalwe ’n noodgeval gesteur wil wees nie. As besoekers die gewoonte het om byvoorbeeld soggens vroeg of saans tot laat te kuier, kan julle oor ’n ander kuiertyd ooreenkom.

“Praatsug” is ’n ewe vernietigende jakkals. Die Bybel waarsku ons op meer as een plek teen ’n stortvloed van woorde. Teen mense wat dink dat hulle eerder gehoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik. Ons word gemaan om minder te praat en meer te luister.

Stilword kan ’n lekker gesins-aktiwiteit wees

Mense het mekaar nodig. Saam help ons mekaar. Wie beter om saam stil mee te word as jou gesin. Hulle ken jou. By hulle kan jy net jouself wees. By hulle is jy tuis.

As ’n gesins-stilwordtyd nog nooit deel van ’n mens se huishouding was nie, kan jy huiwerig wees om daarmee te begin. Dalk is jy bang jou gesin dink jy is “heilig”.

Of miskien is jy of van jou gesinslede besig met praktyke wat van ’n saam stilword om die Woord ’n bespotting maak. Daar is verskeie maniere hoe ’n mens met ’n stilwordtyd vir die gesin kan begin, maar hier is ’n goeie beginpunt.

Hou ’n huisvergadering. Verduidelik aan jou gesinslede waarom jy graag saam met hulle wil stil word. Erken dat jy tot hiertoe allermins ’n voorbeeld vir hulle gestel het. Erken dat jy berou het daaroor en vra hulle om vergifnis.

Dit sal egter tyd neem voordat julle mekaar ten volle sal vertrou. Die enigste manier om vertroue te wen en te behou is om te alle tye eerlik en deursigtig te leef. Besluit as gesin hoe julle julle stilwordtyd wil inklee.

Die Woord van God en gebed behoort sentraal te staan. Moenie dat ’n gevoel van onbekwaamheid julle stilwordtyd skipbreuk laat ly nie. Laat dit julle droom wees om saam te groei.

Die mens of gesin wat in vertroue en kennis van die Here wíl groei, sal altyd die leiding van die Heilige Gees deur die Woord beleef. As gesin sal julle beleef dat julle saamgesnoer word en julle harte en gedagtes lewend word.

Wees bly in die Here wanneer Sy lewensreëls so deel van julle lewe is dat julle nie meer in die wêreld inpas nie.

Deel die artikel

Méér artikels

Omhels stiltetyd! Leer hoe dit jou help om kalmte te vind, selfbewustheid ’n hupstoot te gee en jou te laat fokus op wat werklik saak ...

Is Jesus bloot ’n uitsonderlike leier van die verlede, of speel Hy vandag nog ’n rol in ons lewe? Jy hoef net rondom jou te ...

Scroll to Top