Sy is geliefd, gelukkig, bekend en suksesvol, maar RIANA NEL jaag nie een van hierdie dinge na nie. Die bron hiervan lê elders, want haar fokus lyk anders. Dit word gedryf deur ’n diep geloof wat elke dag haar keuses en ingestelheid teenoor die lewe beïnvloed.
Moet ek, of moet ek nie.
Dít was die eerste gedagte toe ek daardie dag op die lughawe ’n bekende gesig tussen die klomp vreemdelinge om my raaksien.
Dit was ’n moeilike tyd. ’n Persoonlike stryd met baie vrae en onsekerhede. My kop het oortyd gewerk. “Hoe moet ek maak, Here? Watter kant toe? Help asseblief.”
Toe sien ek die man op die lughawe raak. Dit was die stigter, en in daardie stadium, senior pastoor van die massiewe Hillsong Kerk in Australië.
Dís mos nou ’n ou wat antwoorde sal hê, het ek gedink. ’n Man van God wie se gebede seker reguit opgaan hemel toe …
Die versoeking was groot om hom tromp-op te loop, myself voor te stel, en te vra dat hý vir my bid. Dat hý antwoorde gee.
Maar ek het nie.
Ons is so geneig om na te veel stemme te wil luister. Om na mense toe te hardloop vir antwoorde en wonderwerke, want dit lyk na die beste en maklikste uitweg.
Onsekerheid is juis iets waarmee ek nie lekker oor die weg kom nie. Dalk omdat ek graag dinge wil beheer; wil weet wat gaan gebeur. Dit laat my veilig voel.
Maar die lewe werk nie só nie.
Toe maak ek ’n wilsbesluit. “Ek gaan eerder op die Here wag,” het ek daardie dag vir my tromspeler, wat saam gereis het, gesê.
Natuurlik wás die Here toe getrou. Op die regte tyd is die regte antwoord gegee, sonder om die oplossing of uitweg by ’n mens te gaan soek.
Ek probeer elke dag hierdie keuse maak – om na die regte stem te luister. Dit raak makliker wanneer ’n mens tyd maak vir die Here, en moeiliker wanneer jy net nou en dan by Hom uitkom.
Daar is juis ’n gedeelte wat sê: Cursed is the man who puts his hope in man.Maar:Blessed is the man who puts his hope in God.
Die hoop is dat ek elke dag, in alle omstandighede, die tweede opsie sal kies.
Daarin lê ware vrede en geluk.
Geluk. Sukses. Daar is al lankal besef dat ek anders oor hierdie dinge dink as die meeste mense.
As jong meisie het ek drome gehad om myself te bewys. Ná skool was die strewe dat my ouers net moes ophou om hulself oor my te bekommer.
In my laat twintigs wou ek met alle mag ’n man kry en was oortuig dat dít my gelukkig sou maak. Laat dertigs en klaar getroud, het ek weer gedink kinders sou die leemte vul.
Maar, hoewel ’n gesin onbeskryflik lekker is en my baie gelukkig maak, kan dit steeds nie vergelyk met die vrede en vreugde in Sy teenwoordigheid nie.
In wêreldse terme sou ’n mens seker kon sê ek het sukses behaal in my loopbaan. Daar is al baie applous gegee, pryse gewen, maar dis nie my bron van geluk nie.
Dit het ek opnuut besef by ’n optrede waar ek en ’n medekunstenaar vereer is. Ons het albei daardie aand gesing, en albei gehuil.
Duisende mense het die geleentheid bygewoon en in ’n stadium was amper almal in trane.
Die kunstenaar kom vra toe later hoekom ek gehuil het, want haar trane was omdat sy die liefde van die mense kon voel en waardeer.
Vir my was dit ’n bietjie anders. Dit was trane uit dankbaarheid omdat ek kon sien die mense huil, want die liedjie het waarheid oorgedra; ’n boodskap van hoop dat die dood nie die einde is nie.
Die gehoor het dit daardie aand ter harte geneem, en dít was roerend.
In my boekies beteken geluk om vrede in my gemoed te hê. En sukses, om naby aan die Here te leef; om Sy stem te hoor en te doen wat Hy vra.
Ware werksvervulling lê in die oomblikke wanneer ’n mens wéét jy doen wat jy gebore is om te doen. Slegs op hierdie plek word elke leemte en begeerte vervul.
Elke antwoord word beantwoord, en elke onduidelikheid word duidelik.
Die res is bloot ’n gejaag na wind.
Dieselfde geld vir roem. As afrigter op The Voice wou my hart breek elke keer as ’n deelnemer vertel hoe graag hy of sy bekend wil wees en hoe hard hulle daarvoor sal veg.
In die stilligheid het ek gevoel dat ’n mens nie eintlik moet sing met roem as die einddoel nie. Die boodskap wat die liedjie oordra is soveel belangriker.
Roem is leeg en stel net teleur.
Die tragedie word in soveel flieks uitgebeeld. Dink maar aan A Star Is Born. Iemand wat hulle eie lewe neem. Of bekendes wat slagoffers word van hulle eie wêreldse sukses. Dit loop uiteindelik uit op niks.
Die mens is nie gemaak is om so verhef te word nie. Net Een is bedoel om opgehef en aanbid te word – en dis nie ek en jy nie.
Op ’n manier voel dit asof ek nog altyd verblind was vir die hele idee van bekend-wees. Dis eenvoudig glad nie hoe ek oor myself dink nie.
Riana Nel is nie bekend nie. Haar liedjies is.
Dis steeds snaaks as wildvreemdes in ’n winkel kom groet. ’n Mens hardloop net gou in vir brood en melk, en dan lyk die mense so bly om jou te sien.
My eerste gedagte is gewoonlik: “Is ons saam in die kerk?” Want daar voel almal soos familie.
Of die kere wanneer mense ná ’n optrede in ’n lang ry staan vir ’n handtekening of geselsie.
Al daardie aandag … dis onverklaarbaar. Is dit veronderstel om só te wees?
Ná ’n ruk gaan maak ek maar verskoning: “Jammer dat julle so lank moet wag.”
Ek is nie ’n ster nie. Net ’n ma, ’n vrou vir my man, en ’n liedjieskrywer.