ELIZMA THERON het al groot hoogtes bereik as sangeres, aktrise en model, maar dié ma van twee weet dat haar gesin veel belangriker as roem is.
Kinders kan ons ma-harte tot die uiterste uitdaag
Om ’n ma te wees, is beslis nie altyd maneskyn en rosegeur nie. Dit is egter baie lonend. Ek het twee pragtige kinders. Elezane is tien jaar oud en Enjo is agt.
Soos alle mammas weet, bring ma-wees baie bekommernisse mee. Wanneer hulle seerkry, voel jy dit ook. Dit is asof jou hart buite jou lyf rondloop. Van die begin af was ons baie bekommerd oor Enjo. Ons was baie angstig en het baie gebid.
Kort ná sy geboorte het hy ’n kapillêre hemangioom aan die linkerkant van sy gesig ontwikkel, ook op sy lippie en in sy verhemelte. Toe hy ’n maand oud was, het hy sy eerste MRI ondergaan. Dit was om te bepaal of die hemangioom na sy brein versprei en druk veroorsaak.
Die hemangioom het aan die buitekant begin groei, veral oor sy ooglid, wat sy ooglid toegehou het. Die dokter het gesê dit sou sy sig belemmer as ons nie iets daaraan doen nie.
Hy was een maand oud toe hy in die hospitaal vir observasie opgeneem is om te sien hoe hy op Propranolol reageer. Dit is medikasie vir kapillêre hemangiomas.
Hy het goed op die behandeling gereageer. Ons het die Propranolol vir byna ’n jaar gebruik. Dit het dadelik begin werk en die hemangioom het van die eerste dosis af begin krimp.
Dit werk egter net tot op ’n punt. Ons het toe opgehou met die medikasie.
Die hemangioom het nie weer begin groei nie, maar die merkie bly permanent. Toe hy klein was, het dit hom nooit gepla nie. Toe hy drie, amper vier jaar oud was, het hy die eerste keer regtig in die spieël gekyk. Hy het dit toe vir die eerste keer opgemerk en my gevra: “Mamma, watse eina is hierdie?”
Ek het hom vertel dat die engeltjies by liewe Jesus so lief was vir hom dat hulle vir hom soentjies gegee het. Dit is hulle lipstick wat daar sit.
Hy is baie spesiaal, want min kindertjies het die voorreg om te wys waar die engeltjies hulle gesoen het.
Elkeen van ons se ma’s het vir ons kosbare lewenslesse geleer
Een belangrike les wat ek geleer het, is dat as jy jou bes doen, sal die Here oorneem waar jy nie kan nie. As jy werk, rus Hy; as jy rus, werk Hy.
Deur hard te werk, kan ek die res aan Hom oorlaat sonder om beheer te probeer neem, want dit is buite my beheer.
Ek wil dieselfde aan my kinders oordra: As jy jou bes doen, is dit genoeg. Dan neem Jesus oor en voltooi die res. Jy moet dit nie uit Sy hande probeer neem nie.
As jy dit nie bereik nie, of as dit nie suksesvol is nie, is verwerping ook ’n les. Dit is ’n waardevolle ding wat ek geleer het.
Johannes 15:5 het my nog altyd aangegryp. Dit sê, “Ek is die wingerdstok, jy die loot. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Die woorde, “sonder My kan julle niks doen nie” raak my diep.
Ek het onlangs weer hieraan gedink toe ek ’n plasing op sosiale media sien. ’n Vrou het ’n handskoen opgetel en verduidelik dat dit op sy eie niks kan doen nie.
Maar toe sy haar hand daarin steek en dit beweeg, wys sy hoe die handskoen kan tuinwerk doen, kos maak, en selfs opereer. Sy het gesê dit is soos ons sonder die Heilige Gees: nutteloos soos ’n leë handskoen.
In watter oomblik moes jy styf aan hierdie waarheid vashou om staande te bly?
Enjo het laat begin praat; hy was byna drie jaar oud en het nog nie woorde gebruik nie.
Ons het hom na ’n spraakterapeut geneem, wat aanbeveel het dat ons hom ook na ’n arbeidsterapeut neem. Die arbeidsterapeut het ataksie by hom gediagnoseer. Ons het ’n lang pad met Enjo begin stap.
Hy het vier jaar lank weekliks arbeidsterapie ontvang en vyf jaar lank spraakterapie. Hy het verlede jaar met spraakterapie klaargemaak.
Toe hy so vier jaar oud was, het ek agtergekom die twee terapeute praat ook met mekaar en albei het toe voorgestel dat ons hom na ’n kinderarts toe moet neem.
Ek het toe besef hulle vermoed hy het outisme, wat vir my baie moeilik was. Dit is seker die tyd in my lewe wat ek die meeste gebid het. Ek het aan die Here vasgehou en besluit om net die beste vir Enjo te doen.
Die kinderarts het tekens van outisme opgemerk, maar hom slegs met spraak- en taalvertraging gediagnoseer. Ons het hom nie weer ná ses maande teruggevat nie omdat sy woordeskat gegroei het en sy dispraksie verbeter het.
Ek glo dit was alles te danke aan gebed. Dit was ’n moeilike tyd, maar ons het gedoen wat ons kon, en die Here het ingegryp waar ons nie kon nie.
Wat is die leuen wat jy dikwels vir jouself vertel waarvan niemand weet nie?
Ja, dit is hartseer hoe ons as vroue onsself afbreek. Ons voel dikwels alleen en dink dit is net ons wat tekort skiet. Ek erken, ek het dit self al gedoen en doen dit steeds.
Ek voel ek kom nie die mas op nie, veral nie met tyd vir my kinders nie. Ons verwag die onmoontlike van onsself en dit is belaglik. Ons kyk in die spieël en kritiseer ons lyf. “Urgh, my boude …” of “ek raak grys” of “kyk net al die plooie”. Ons kinders sien dit raak.
Ek het nou die dag die oulikste ding gesien. ’n Vrou het haar vriendinne bymekaar geroep en aan elkeen ’n foto van hulleself as ’n eenjarige gegee.
Sy het ’n oefening met hulle gedoen waar sy vir hulle gesê het om vir daardie oulike, pragtige kind op die foto te sê wat hulle gewoonlik vir hulleself sê. Nie een kon dit doen sonder om in trane uit te bars nie.
Jy sou nooit iets leliks vir ’n kind sê soos “urgh, kyk hoe lyk jou boude”. Tog sê ons dit aan die onskuldige dogtertjie binne elkeen van ons.
Dit is belangrik om daardie onskuldige kind binne jou steeds raak te sien, want dit is sy wat seerkry wanneer jy jouself so afbreek.