WILMA ENSLIN-GEYSER glo dat besluite ’n verlenging is van hoe jy jou lewe inrig. ’n Mens moet dikwels eers ander keuses maak voordat jy die “groot” besluit kan aanpak.
Die Here wéét van jou hartseer en pyn
’n Paar jaar gelede het ek voor só ’n besluit gestaan, vertel sy. “Ek en my broer [Andries] was medeleraars in sy gemeente in Alberton toe ’n gemeente in Stellenbosch my beroep. Gaan ek alles oppak, my familie en vriende agterlaat en alleen Kaap toe verhuis waar ek niemand ken nie? Of gaan ek bly waar ek is?”
Sy het geleer dat sy nie net op die besluit alleen kon konsentreer nie. “Baie ander dinge moet reeds vooraf in plek wees, soos jou gebedslewe. Jy moet ook kyk hoe lyk jou verhoudings en gemoedstoestand in daardie stadium en wat jy wil bereik in die lewe. Goeie besluite kan net geneem word deur iemand wat gesonde fondasies in plek het.”
Wilma is van mening dat die groot besluite eintlik nie die belangrikste is nie. “Die klein dingetjies wat vooraf in plek moet wees, is belangriker.” Een hiervan is die beginselbesluit om byvoorbeeld altyd eerlik met jouself te wees. “Wanneer jy dan by ’n kruispad in jou lewe kom, sal dit makliker wees om reg te kies. Die grootste besluit is dus: Hoe moet en wil ek lewe? Dit is die basis en die ander besluite vloei daaruit voort.”
Oor haar groot besluit, sê Wilma, dat hoewel sy nie ’n definitiewe “ja” by die Here gekry het nie, het sy vrede in haar hart gehad oor wat sy moes doen. Sy moes Kaap toe. “Al die omstandighede was reg, my familie het dit ondersteun en dit het by my toekomsdrome ingepas. Ek was nog nie een dag spyt dat ek Kaap toe verhuis het nie.”
Oor verkeerde besluite, sê Wilma dat jy bereid moet wees om terug te staan en oor te beplan. “Gaan weer terug na die basiese dinge, doen selfondersoek en moenie net na jou besluit kyk nie, maar na jou hele lewe.” Wees dan bereid om met nederigheid te erken dat jy ’n fout gemaak het en om nie die Here, of enigiemand anders, die skuld vir jou keuses te gee nie.