Daar is altyd genesing vir gebroke harte, want ons dien ’n Vader wat dit wat stukkend is, heel en nuut kan maak.

Pyn help om ons geloof in te oefen

Die mooiste ding op aarde is om op te staan as jy geval het. Selfs al bly dinge om jou donker, lê die skoonheid daarin om jou pyn en hartseer te oorwin. Die enigste manier om gesond te word is om deur jou seer te werk. Ervaar dit ten volle, ongeag hoe pynlik dit is.

Dalk sit jy vandag in ’n hopelose situasie. Gaan dan op jou knieë en vra vir uitkoms. Daar waar jy nie kan loop nie, daar sal Hy jou dra.

Niemand spring seerkry vry nie. Almal van ons sal op een of ander stadium deur ’n hartseer tydperk moet werk. Paulus sê dat hy enigiets kan oorkóm, want hy hoef dit nie uit sy eie krag te doen nie.

Wanneer jy jou seer aan die groot Geneesheer oorgee, kan Hy daarmee werk, maar as dit vertroetel word, word dit ’n groot las wat jou later heeltemal kan laat knak.

Dit is baie belangrik om oor seer te rou. Dit is ons natuurlike manier om verlies te verwerk. Soms wil ons met groot selfbeheersing ons emosies binne hou; die wêreld hoef nie te weet hoe ons voel nie. In dié proses mis ons iets van die fases van rou en die genesing wat dit bring.

Hoewel elke mens op hulle unieke manier rou, meen sielkundiges daar is gewoonlik vier fases in die rouproses: ontkenning, onderhandeling, woede en depressie. Hierdie fases verloop nie in ’n reguit lyn nie, maar eerder in ’n spiraal. Dit beteken vorige fases kan terugkom terwyl jy met lateres besig is.

As ’n mens enigeen van die fases probeer vermy, vertraag jy die genesing wat deur die rouproses kan plaasvind.

Praat met mense wat jy kan vertrou oor jou hartseer, en kry iemand om saam met jou te bid om die seer pad te kan stap. ’n Eerlike gesprek kan jou help met emosies wat jy sukkel om te verwerk. Om jou seer in woorde om te sit kan baie genesing bring.

Dink en praat nuut oor jou seer

Moenie alle gesprekke met ander beskou as geleenthede om antwoorde op jou vrae te kry nie.

Vir die grootste hartseer in die lewe is daar nie maklike of dalk glad nie antwoorde nie. Met verloop van tyd sal jy egter nuut begin dink en praat oor jou seer, en vertel hoe Hy jou gedra het.

Toe Paulus in die tronk gesit het, het hy die volgende geskryf: “My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed?

“Dit help die verkondiging van die evangelie aan. Nie net aan al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense …” Paulus kyk nie teen sy omstandighede vas nie. Hy staar hom nie blind teen die boeie of die tralies voor die vensters nie. Nee, selfs daar in die tronk het hy geweet hy kan gebruik word om ’n verskil te maak.

Dinge wat jy kan doen om hartseer te verwerk, is om boeke te lees van kundiges oor die verskillende soorte verliese en fases wat ’n mens kan beleef en hoe om dit te verwerk. Slaan ook jou Bybel oop en gaan lees hoe mense in Bybelse tye hulle pyn verwerk het. So kan ons kan baie by Josef, Job en Paulus oor pyn en hartseer leer.

Herinner jouself gereeld daaraan dat jy kosbaar is en dat jy nooit alleen is nie. Vra Hom vir krag om weer op te staan.

Moenie bly lê nie. Kies weer lewe. Uitlaatkleppe soos skryf, skilder of sport kan terapeuties wees. Doen wat vir jou werk. Die belangrikste is om nie op te krop nie, want om emosies te onderdruk is nie ’n gesonde ding nie.

Ontdek die waagmoed in jouself om vorentoe te beweeg – een asemteug op ’n slag.