JOE NIEMAND het geleer om sy pa in ’n nuwe lig te sien … as iemand wat geweet het hy gaan nie sy persoonlike stryd wen nie en moet sy gesin los.
Om sonder ’n pa groot te word
Jare lank worstel ek al daarmee dat ek sonder my pa moes grootword. So lank loop ek met vretende skuldgevoelens in my rond, verwyt ek myself dat alles wat verkeerd geloop het, deur mý veroorsaak is.
Voor my koms het alles goed gegaan met my gesin, redeneer ek sonder die nodige kennis van omstandighede.
Maar dan tref dit my skielik: Wag ’n bietjie. Ek was die kind in hierdie verhaal. Ek was onskuldig. Dit was nie mý verantwoordelikheid om my gesin bymekaar te probeer hou nie.
My pa het in baie moeilike tye grootgeword. As jong man van sestien is hy Tweede Wêreldoorlog toe waar hy aan die onmenslikste en wreedste tonele blootgestel is.
In Italië was hy en sy makkers in ’n bomontploffing en is die tenk waarin hulle gery het, opgeblaas. Vir sowat ses maande is hy in ’n veldhospitaal verpleeg. Hy het ernstige brandwonde oor sy hele lyf gehad en sy voet was vergruis. Van sy ribbes is afgeskiet.
Na maande was hy uiteindelik sterk genoeg om Suid-Afrika toe te vlieg. Huis toe! Waar daar vrede is. Behalwe dat die vliegtuig waarin hy was op pad daarheen neergestort het – op ’n plekkie genaamd Broken Hill in Zambië.
Hy is Afrika toe om daar ’n lewe as jagter te maak en die dokters verkeerd te bewys. Eers na twaalf jaar in Afrika het hy teruggekom huis toe.
Hier raak hy toe verloof aan ’n Suid-Afrikaanse meisie en ’n hele nuwe lewe wag op hom. Maar ook dit was hom nie beskore nie. Voordat hulle kon trou, sterf sy in ’n motorongeluk.
’n Ma is verantwoordelik vir die veiligheid van haar kinders
Hy het nie goed aangepas in die gewone lewe nie … en dan was daar die drank …
Dit het natuurlik heelwat probleme veroorsaak toe hy later met my ma getroud was. As tweejarige het ek allerhande allergieë en infeksies gehad. Dit was my ma wat snags met ’n kriewelrige kind moes sukkel. Alleen.
Daardie verskriklike nag wat ons almal se lewens sou verander, het ek ’n oorinfeksie gehad. Van slaap was daar nie sprake nie. My ma het met my op haar heup kombuis toe geloop.
Dit was laat in die nag. My pa het toe net teruggekom van waar hy ook al die aand gekuier het. Hy wou die deur oopsluit, inkom, gaan slaap. Maar toe kon hy nie sy sleutels kry nie.
Hy het daarna gesoek, ongeduldig begin raak. Nou maar dan skiet ek die voordeur oop, het hy blykbaar geredeneer. Ongelukkig was dit op die presiese oomblik wat my ma my in die gang afgedra het. Die koeël is by ons verby, het ons rakelings gemis en in die muur vasgeslaan.
Dis nie ’n skrik waarvan ’n mens sommer herstel nie. Dit het nie vir my ma net oor haar veiligheid gegaan nie; sy was ook verantwoordelik vir die veiligheid van haar kinders.
My pa en ma het nie die voorval bespreek nie en hy het aangeneem sy het dit verwerk en dat alles verby en vergete was. Maar dit was nie.
Die egskeidingsbevel is deurgevoer. Daar het bloot ’n klerk van die hof opgedaag en my pa kom inlig dat hy en my ma geskei is omdat hy nie vir die verhoor opgedaag het nie. Ek was toe drie jaar oud.
Ek moes vrede maak met my pa
’n Seun het ’n pa nodig, énige kind het ’n pa nodig. Dis ’n gemis wat nooit regtig weggaan nie. Eers in my dertigste jaar begin daar genesing vir hierdie seer kom. Dis toe dat ek besef ek moet die bagasie van die verlede van my afskud. Ek moet vrede maak met my pa.
Later bel ek my ma en vertel haar van my besluit om my pa te vergewe vir sy afwesigheid in my lewe en dat hy nie die pa was wat ek graag wou gehad het nie. “Ma, ek wil graag meer weet van die tyd wat julle uitmekaar was,” vra ek toe.
Volgens haar was my pa stil verstom om te hoor dat hy van haar geskei is en het blykbaar net ’n paar vrae gevra en dit gedwee aanvaar. Toe het hy bloot daar opgestaan en sy goedjies begin pak. “Hy’t sy klere gevat en ’n paar foto’s. Daarmee het hy uit die huis gestap. Dit was hartverskeurend,” het my ma vertel.
Net daar verander my hele persepsie. Vir die eerste keer sien ek hom as iemand wat geweet het hy gaan nie sy persoonlike stryd wen nie en besef het hy moet ons los.
Hoe maklik oordeel ’n mens oor iemand terwyl jy eintlik net ’n beperkte kennis het van wat tot die vorming van daardie persoon bygedra het.
Ek weet nou dat die genade wat die Here vir mý het, dieselfde genade is wat Hy vir my pa gehad het. My pa was nie nét ’n held nie, maar hy was ook nie net ’n mislukking nie. Hy was ’n gebroke man wat die beste gedoen het wat hy kon.