Die beeldskone CORDELIA het al baie moeilike situasies te bowe gekom. Haar resep? Vergewe en kry altyd iets om voor dankie te sê.

My eerste ontmoeting met dankbaarheid en vergifnis

Dit is darem lekker om ’n kind te wees. Om geen sorge te hê nie, behalwe om met jou boetie en sussie te speel. Nie een keer het ek eens gewonder oor my sussie wat net drie maande ouer as ek is nie.

Tot op die dag dat ons ouers ons almal bymekaar geroep het.

“Julle kom nie uit my maag nie,” het my ma gesê, “maar sommer direk van Liewe Jesus af.”

Ek was ’n bietjie verward, maar in my sesjarige verstand het ek in my eie oë superheldstatus gekry. Ek het my maatjies die volgende dag by die kleuterskool net vertel van al die super powers wat ek en my aangenome sussie het omdat ons sommer direk van Jesus af kom.

Eers ses jaar later het die volle betekenis van my ouers se woorde my getref. Dit was my verjaarsdag.

Ek was 12 jaar oud. Omring met geskenke wat my gesin daardie oggend vir my gebring het, het ek skielik in trane uitgebars.

Vir die eerste keer het ek vrae oor my herkoms gehad: Wie is ek? Wie is my regte mamma? Hoekom wou sy my nie hê nie?

Ek was die hele dag omgekrap tot ek daardie aand vir die eerste keer ’n besef van vergifnis ervaar het.

Ek het nie gevra daarvoor nie, ook nie gebid daaroor nie. In Sy groot genade het God dit net oor my laat kom lê.

Die volgende oggend het ek na my ma-hulle gegaan en vir hulle vertel dat ek baie lief is vir hulle, maar dat ek my regte mamma wil ontmoet sodat ek vir haar dankie kan sê en vertel dat ek haar vergewe het.

“Waarvoor wil jy vir haar dankie sê?” wou my ma weet.

“Sommer net omdat sy vir my ’n lewe gegee het. As ek nie gebore was nie, sou ek julle nooit geken het nie.”

Trauma en tragedie laat jou soms bitter voel

Ek weet nie of dit ’n mite is nie, maar in my en my aanneem-pa se geval was dit beslis só. Ek was my pa se dogtertjie. Ons was baie na aan mekaar.

Ek was op hoërskool en het net teruggekom van die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe. My pa was in Alberton vir besigheid. Toe ek by die huis kom, het ek hom gebel om te vertel hoe dit gegaan het. My ma wou weet hoe laat hy by die huis sal wees.

“Ek is lief vir jou,” was die laaste woorde wat ek kon uitmaak en toe was daar ’n harde slag. Amper soos ’n skoot wat klap. Daarna het hy nie weer sy telefoon geantwoord nie. Ons het gedink sy selfoon het seker gebreek. Hoe later dit die aand geword het, hoe bekommerder was my ma.

Later het ek gaan slaap. Deur die slaapnewels het ek bewus geword van ’n helder lig in my kamer. My pa het in my kamerdeur gestaan en vir my nag gesê soos hy altyd gedoen het as hy laat by die huis kom. Ek het weer aan die slaap geraak.

Toe my pa se vriend eenuur die nag aan ons deur kom klop, het my ma geweet daar is fout. Terwyl my pa met my oor die telefoon gepraat het, is hy deur ’n kar raakgery. Op slag dood.

Sy selfoon in stukke.

Ek het dit nie geglo nie. “Dit is nie só nie,” het ek op my pa se vriend geskreeu. “Hy is hier. Hy het vir my kom nag sê.”

Eers het ek hom in die slaapkamer gaan soek. Toe na buite om te kyk of sy kar in die motorhuis is. Dit was waar. Hy was dood, maar nie voordat hy vir my kom nag sê het nie …

Die Here het my weereens gelei na vergifnis

My wêreld was aan flarde. Ek was kwaad vir God. Hoe kon Hy hierdie man, wat so goed was vir my, wat my soos sy eie kind grootgemaak het, van my af wegneem?

Ek was kwaad vir die man wat in my pa vasgery het en boonop weggejaag het. ’n Week later het hy homself gaan oorgee. Hy was dronk en het in ’n eenrigtingstraat gery toe hy my pa getref het.

Die Here was goed vir my. Ongeag my pa se dood het ek steeds goed gevaar op skool. Ek was hoofmeisie en kaptein van die hokkiespan, maar vir vier jaar was ek bitter. Ek kon nie die man vergewe nie en ek kon nie my pa se dood aanvaar nie.

Tot die Here vir my gewys het dat ek nie oor my pa se dood kom nie omdat ek nie die man wat hom doodgery het, vergewe het nie.

Ek was besig om tee te maak toe hierdie besef oor my kom: Jesus het die moordenaar daar aan die kruis vergewe. Wie is ek om hom nie te vergewe nie?

Dit was ’n ongeluk. Ja, hy het die verkeerde keuse gemaak om daardie aand te drink, maar dit was steeds ’n ongeluk.

Weer ’n keer het daardie gevoel van dankbaarheid en vergifnis oor my kom lê soos toe ek 12 jaar oud was.

Voor my pa se dood was ek ’n daddy’s girl. Alles wat hy was, was in my bloed: sy liefde vir musiek, die musiek wat hy gemaak het.

Ná my pa se dood het ek ontdek dat ek ook ’n ma het. Ons almal het bitter swaar gekry en ná sy dood het ek en my ma veral nader aan mekaar gekom.

Daar is ’n doel met alles wat gebeur

Ná ses jaar het ek my biologiese ma opgespoor.

My aanneemma het dit so goed hanteer. Sy het vir my ’n briefie van my biologiese ma gegee wat sy vir my gelos het as ek eendag na haar sou uitvra. In die briefie het sy om verskoning gevra dat sy nie so goed soos my aanneemouers vir my kon sorg nie.

Ek het uitgevind dat ek eers Tersia genoem is en op ses maande vir aanneming opgegee is.

Toe ek die dag ry om my biologiese ma te ontmoet, het my aanneemma vir my ’n kospakkie ingesit met ’n briefie: “Sussa, niks sal die band wat ek en jy het ooit kan wegvat nie,” het sy geskryf.

Ons het albei gehuil en mekaar vasgedruk toe ons mekaar sien. Ek wou net hê sy moes weet dat ek haar vergewe het en dat ek dankbaar is dat sy aan my die lewe geskenk het.

Ons sien mekaar deesdae nie so gereeld nie. Sy gaan aan met haar lewe en ek met myne. Eendag gebeur dit miskien dat ons meer kontak gaan hê.

Die dankbaarheid wat ek uit dié situasie kon kry, is dat ek ’n biologiese boetie en sussie ontdek het van wie ek nie eens bewus was nie. My jonger sussie se naam is Anette en sy, asook my aanneemsussie, is vandag my beste vriendinne.

Van ons drie kinders was ek die enigste een wat vir aanneming opgegee is. Dit het my ’n lang ruk gepla:

Hoekom ek? Hoekom het sy my boetie en sussie gehou, maar vir my weggegee? Was ek nie goed genoeg nie?

Nou weet ek daar was ’n doel in alles. Ek sou andersins nooit die kanse gehad het wat my aanneemouers vir my gegee het nie. Die lewe moes maar net só gewerk het.

“Die oomblik toe ek onthou Jesus het die moordenaar daar aan die kruis vergewe. Dis toe dat ek besef wie is ek om nie te vergewe nie?”