Ná ’n grusame motorongeluk is sy verlam en in ’n rolstoel. Nogtans gaan slaap TANIA VAN TWISK elke aand met die geloof dat sy môreoggend sal kan loop.

Hê geloof ten spyte van jou omstandighede

Sy sal nooit weer kan loop nie, en waarskynlik ook nie kan praat nie,” het hulle die nuus aan my geskokte ouers oorgedra. “Kritieke nekwerwels is morsaf, wat beteken sy gaan ’n kwadrupleeg wees – verlam van haar nek af ondertoe. Ons is regtig baie jammer.”

Maar God het ander planne gehad.

Toe die dokters ’n paar dae later weer X-strale neem, was hulle sprakeloos. Daardie einste werwels het vanself geheg. Niemand kon dit verklaar nie. Toe hulle die tragea-pyp uit my keel haal, was my eerste woord: “Hallo.” Ek kon steeds praat!

Geloof was nog altyd deel van my lewe, maar ná die ongeluk het dit ’n leefwyse geword. So natuurlik en noodsaaklik soos asemhaal. As ’n mens baie verloor, kom jy gou agter dis al wat oorbly.

Dis ook wat my naam beteken: geloof en genade. Ten spyte van …

Ek weet nou dat ’n mens selfs in die donkerste tye van jou lewe nie alleen is nie. Juis dán is Hy by jou.

“Waar is daardie dokter?” het ek aanhou uitvra nadat ek uit die koma bygekom het.

Die man se teenwoordigheid was nie iets wat ek kon vergeet nie. Hy was elke nou en dan langs my bed. Dan kyk hy hier, dan daar, sonder om ’n woord te sê.

Wat hy gedoen het, weet ek nie. Ons het nooit met mekaar gepraat nie, maar elke keer het ek rustig en vol vrede gevoel. In my hart was daar ’n diep bewustheid dat alles reg gaan wees.

En sy oë – blink en helder asof hulle deur my kon kyk.

Ná ’n ruk het ek besef die dokter na wie ek soek, is nie meer hier nie. En toe vergeet ek daarvan … tot ’n paar maande later.

Glo dat daar altyd ’n groter plan is

Die fliek Heaven is for Real het eendag op TV gewys – die verhaal van ’n seuntjie wat in die hemel was.

Terug op aarde het hy Jesus herken in ’n skildery geverf deur ’n jong meisie, Akiane Kramarik.

Toe ek haar skildery in die fliek sien, het ek dadelik geweet … maar dis hý! Die dokter met die groen oë. Die man langs my hospitaalbed. Dit was Jesus!

Dit is nou nog vir my ongelooflik om daaraan te dink. Hy was dáár.

Dis iets wat ek altyd sal onthou.

En omdat Jesus leef, is my geloof en hoop ook ’n werklikheid. Ek sal aanhou glo en vra vir die voorreg om weer te kan opstaan en loop.

Dit bly my groot hartsbegeerte om weer die seesand onder my voete te kan voel. Om in die branders te kan staan terwyl die koel water teen my bene klots.

Ek glo met my hele hart dat ek eendag weer sal kan loop. Hoekom het ek bene gekry, die talent om te dans, as ek dit nie kan gebruik nie?

By een van Angus Buchan se It’s Time-saamtrekke het ek opnuut besef dinge gaan nie noodwendig gebeur hoe en wanneer ek dit wil hê nie.

Daar was ’n groot verwagting in my hart. Selfs net die naam, It’s Time, het my opgewonde gemaak. Dalk was dit tyd vir my om weer te loop?

In my verbeelding kon ek al hoor hoe oom Angus “die blonde vrou in die rolstoel” vorentoe roep. Hoe ek daar voor almal genees word en opstaan.

Maar toe gebeur dit nie.

Daar is ’n liedjie waarna ek elke dag luister, want dis asof die woorde vir my geskryf is: “But even if You don’t, my hope is You alone.”

Vir my beteken dit selfs al loop ek nie weer nie, sal ek steeds bly hoop en glo. Daar is altyd ’n groter plan aan die werk.

Bly hoopvol – selfs in moeilike tye

Dis moeilik om met gestremdheid saam te leef. My beweeglikheid is beperk. Dis ’n groot frustrasie om mense vir hulp te vra. Jy worstel gedurig met ’n gevoel van magteloosheid omdat jy sukkel om eenvoudige dinge vir jouself te doen, soos om te bad en aan te trek.

Ek is ook maar net ’n mens; daarom kry dit my soms onder. Daar is die dae dat ek net die kombers oor my kop wil trek en heeldag in die bed wil bly.

Maar dit gaan nie gebeur nie, want ek leef met ’n vurige hoop binne-in my. ’n Wete dat ’n mens elke dag, in elke oomblik van swakheid, nuwe krag sal kry as jy daarvoor vra. ’n Diep besef dat slegte situasies soms gebruik word om iets groters te vermag.

Ek leef met ’n ewigheidsvisie – die wete dat ons almal eendag in die hemel gesond gaan wees. Dáár sal ek kan loop en hardloop.

As ek dus op aarde nog ’n bietjie langer in ’n rolstoel moet sit sodat ek ’n instrument vir ’n groter doel kan wees, dan doen ek dit, tot die dag wat Hy anders besluit.

Voor die ongeluk was ek stil en teruggetrokke. Lief vir mense, maar te skaam om net uit te reik en met enigeen te praat.

Die rolstoel het alles verander, asof dit ’n magneet is wat mense na my toe aantrek.

Eintlik is dit vreemd. Dis mos in ons aard om eerder weg te skram van iemand met ’n gebrek. Dis makliker om weg te kyk of ’n ompad te loop. Maar in my geval wil almal kom gesels, vrae vra en hulle eie stories vertel.

Gelukkig het ek ’n goeie oor wat hou van luister. Dis lekker om mense te bemoedig en te motiveer.

Kies om jou vertroue in God te plaas

My gebrek het my ook geleer dat ons elkeen ons eie pakkie het. Saam met daardie pakkie kom die vermoë om dit te kan dra. En dit verg werk en inspanning. ’n Mens moet jou kant bring en doen wat jy kan, sodat die Here kan doen wat jy nie kan nie. Niks gaan sommer net vanself gebeur nie.

Omdat ek eendag weer wil loop, moet my lyf en spiere nou al sterk genoeg wees, en daarom sal jy my byna elke dag in die gimnasium sien.

Dis ’n voorreg wanneer mense na my toe kom en goed sê soos: “Vandag wou die lewe my onderkry, maar toe ek jou sien oefen, het dit my weer moed gegee om aan te gaan. Dankie.”

Ons wil almal wonderwerke sien, maar partymaal is ’n wonderwerk nie noodwendig ’n ding nie. Dit kan ook ’n gevoel wees, die hoop wat iemand vir jou gee, of die hoop wat jy kry om iets goeds vir ander te beteken.

’n Mens gee nie net boedel oor nie. Jy werk hard en doen jou bes; dan sal daar ’n beloning wees.

Dit doen my geloof goed om te glo dat baie geestelike saad gesaai word elke keer as ek kies om vas te hou aan hoop.

Eendag, al is dit dalk eers in die hemel, sal ek weet dat alles die moeite werd was. Dat niks verniet gebeur nie, en dat die seën om enduit te bly glo, selfs ons grootste drome sal oortref.

Voor die ongeluk was ek ’n vreeslike sagte mens. Vandag is ek harder, taaier. My geloof is dieper, maar ek kan ook baie meer hanteer.

En dis goed so, want ek glo my doel op aarde is om vir mense te wys dat jy moet vasbyt, ongeag jou omstandighede. As jy jou kant bring, sal die seëninge wel volg.

“Geloof was nog altyd deel van my lewe, maar ná die ongeluk het dit ’n leefwyse geword. So natuurlik en noodsaaklik soos asemhaal.”