Blinde sanger VERNON BARNARD leef in ’n stikdonker wêreld. Nogtans bly hy gefokus om die lig aan sy binnekant wat hom deur elke slaggat en teleurstelling dra, ook op ander te laat skyn.

Vertrou God met die groter plan

Ek is ’n doelgerigte ou. Partymaal dalk té ambisieus. Iemand wat hou van groot planne maak en wat hard werk om daar uit te kom. Dit was nog nooit vir my lekker om te sukkel nie en dis vir my moeilik om hulp te vra.

Maar dan kom die dag dat jy besef dis tyd om oor te gee. Alles. Om God te vertrou met die groter plan wat Hy vir jou lewe het. Én om soms ook jou broosheid met iemand te deel wat jou kan ophelp as jy voel jy kan nie meer nie.

Daardie gevoel wanneer jy dink jy vaar goed, maar dan ontplof dit in jou gesig. Wat help dit om te probeer?

Dit was tyd vir my om berusting te kry – oor al die dinge wat my al van kleins af pootjie.

Ek het lank in my lewe soos ’n buitestander gevoel. Altyd op ’n manier alleen en verstote. Nooit goed genoeg nie. My familie het my lief, God het my lief. Ek wéét dit. Maar om myself lief te hê, was my grootste uitdaging.

My vroegste onthou hiervan was toe ek as tjokkertjie ver weg van my ma-hulle af na ’n nuwe skool toe moes gaan. ’n Plek waar ek met my swak sig baie beter sou kon funksioneer.

Dit was ’n rowwe tyd. Al die maatjies om my het gelukkig geklink, net ek was alleen en hartseer; só het dit gevoel. Siek van verlange na my mense wat ek net naweke kon sien.

Later raak jy gewoond daaraan. Jy leer om oor die weg te kom met dit wat jy het. Die koshuislewe brei jou tot jy sterk en onafhanklik raak. As ek nou terugdink, was dit baie goed vir my karaktervorming.

Ook uit die sleg kom daar goed

’n Slegte situasie wat ’n goeie doel gehad het. Dis ’n patroon wat homself ’n paar keer in my lewe sou herhaal.

Ek dink aan al die kere wat mense kom bid het vir my sig om te herstel.

Die eerste keer as baie klein seuntjie het ek kliphard geglo Jesus gaan my gesond maak. Hy is dan lief vir my en ek glo in Hom.

Daardie aand wou ek nie eens my oë toemaak om te gaan slaap nie totdat ek nie ordentlik deur hulle kon sien nie.

En dan die teleurstelling … Jy word wakker en die wêreld om jou lyk nog presies dieselfde. Dof en vaag.

Ek het elke keer ’n bietjie meer geloof verloor, nie in Hom nie, maar in die gedagte dat my toestand anders moet wees.

Mettertyd begin jy besef dat die plan vir jou lewe dalk anders lyk as dit waarvoor jy gehoop het Die wete dat ek ná alles steeds blind is, omdat dit vir ’n groter doel gebruik gaan word. Die aanvaarding dat ek meer mense se lewens op hierdie manier sal kan aanraak as wat ek dit ooit siende sal kan doen.

Maar ek moet bieg. Ek is ook maar net ’n mens, met al my goeie en slegte eienskappe.

Daar was tye dat ek kwaad en opstandig hieroor was. In die donkerste tye van my lewe het ek gedink dis baie onregverdig.

Ek was dankbaar dat die Here my wou gebruik, maar moes ek regtig elke oggend hiermee opstaan?

“Hoekom moet ek ’n voorbeeld vir ander wees?” het ek baklei. “Hoekom moet Vernon swaarkry sodat dit vir iemand anders iets positiefs kan beteken? Wanneer gaan dit iets goeds vir my beteken?”

Ek het lank na ander se goedkeuring gesmag

Wanneer ’n mens iets kosbaars in die lewe verloor – ’n geliefde, jou huwelik, ’n werk, jou gesondheid – is dít die soort vrae wat deur jou kop maal.

As jy boonop onseker is en nie baie van jouself hou nie, kan jy maklik na buite kyk vir aanvaarding.

Dis gevaarlik, want dit is dan dat jy verkeerde gedagtes en mense in jou lewe toelaat, met die hoop dat dít vir jou respek gaan wen.

Dit was een van die groot foute wat ek in my lewe gemaak het: om myself in verhoudings en vriendskappe te plaas, omdat ek gedink het dit sal my meer waarde as mens gee.

Ek het lank na ander se goedkeuring gesmag. My lewe lank geveg daarvoor – om gehoor en gesien te word vir wie ek is.

Eintlik is daar nie regtig so ’n groot verskil tussen my en siende mense nie. Ek het dieselfde skoolvakke gehad, dieselfde geleenthede. Ek het presteer in akademie, uitgeblink in krieket, was hoofseun, en het ook drome en ideale.

Selfs die manier waarop ek kommunikeer, verskil nie veel nie. Mense glo byvoorbeeld nie dat ek my eie e-posse of sosialemediaboodskappe beantwoord nie. Tegnologie maak dit moontlik. Ek doen dit net so vinnig soos jy.

Dis nogal ’n persepsie wat ek probeer verander – die feit dat mense dink as jy ’n gebrek het, skort daar iets met jou verstand.

Dis nie lekker om in ’n geselskap te staan en geïgnoreer te word nie. Om ’n opinie te lug, maar niemand luister nie, want wat weet hierdie outjie nou? Watter bydrae kan hy maak? Hy is dan blind.

Óf meisies sê vir jou jy het goeie waardes, maar omdat jy nie kan sien nie, is jy nie mans genoeg nie. Dit maak seer.

My eiewaarde het ’n lelike knou gekry, maar herstel is moontlik, het ek ook intussen geleer. Al verg dit moed en eerlike introspeksie. As die lewe jou platslaan, hoef jy nie te bly lê nie.

Doen wat jy kan, en vertrou God vir die res

Ek wou my lewe lank hê mense moet sê ek is goed genoeg. Maar die waarheid is dat niemand jou hiervan kan oortuig as jy dit nie self glo nie.

My perspektief oor myself en die lewe het heeltemal verander. Die angstigheid en perfeksionisme waarmee ek soms sukkel, is nou baie minder, en ek kan dit vir die eerste keer in ’n lang tyd op ’n positiewe manier hanteer.

Ek neem nie meer alles in my eie hande nie en hardloop ook nie meer in rigtings wat nie vir my bedoel is nie. Ek doen wat ek kan, en vertrou Hom vir die res.

Ek gee die leisels oor en raak rustig in die wete dat as ek in sy lig loop, ek sal uitkom waar ek moet wees. Deesdae het ek nie meer nodig dat mense vir my moet sê: “Vernon, jy is ’n oulike ou” nie. Dis iets wat ek klaar weet, hier binne-in my.

Ek voel my blindheid word gebruik om vir ander mense hoop te gee. Hulle sien: “As hierdie ou met al sy uitdagings dit kan doen, kan ek dit ook doen.”

Die inspirasie-faktor is daar, maar dit gaan ook oor meer as dit. Jy moet wys dat jy sterk genoeg is om jou uitdagings te oorkom.

Dis wat ek vir mense wil wys. Moet my nie jammer kry nie. Dis die laaste ding wat ek nodig het. Ek wil eerder my uitdagings hanteer, dit oorkom, en gebruik om persepsies te verander.

Ek wil vir mense wys: Voordat jy nie iets probeer het nie, het jy geen rede om te sê dit kan nie werk nie. Probeer eers. Enigiets is moontlik.

Ek is maar net ’n ou wat wil sing en ’n verskil wil maak. Iemand wat hier op aarde gesit is vir groot dinge. My blindheid gee my ’n platform om my roeping op ’n besondere manier uit te leef.