Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
(Filippense 4:6)
Jy ken seker die frase: “Let go and let God …”
Om te laat gaan, beteken nie noodwendig jy gee nie meer om nie. Dit beteken net jy kan nie meer iets daaraan doen nie.
Jy gee vrees nie meer vatplek aan jou siel nie. Jy staar die waarheid in die oë en gee God die reg om in te gryp. Jy skuif al die negatiewe kommentaar agter die rug en stel jou in op wat God sê. Dit laat jou toe om die stilte weer te geniet. Dit gee jou moed om alleen te staan wetend dat jy in sy voetspore staan. Dit gee jou krag om asem te haal, jou oor in te stel om God se stem te hoor en weer te glo dat Hy omgee.
Om te laat gaan, is nie om magteloos toe te kyk dat dinge ten gronde gaan nie, maar om die natuurlike verloop van sake te bestuur en nie die uitkoms te probeer bepaal nie. Dit behels om nie meer te oordeel nie, maar te aanvaar, te luister en nie raad te gee nie. Dit is om ander nie tereg te wys, te manipuleer of situasies te draai sodat dit jou pas nie.
Om te laat gaan, is om jou woordeskat in te perk, op te hou kritiseer, jou tong te byt en vir ’n slag op te hou praat. Dit beteken jy kan nie meer spyt wees oor die verlede, magteloos voel oor dit wat jy nie gedoen het nie, bang word oor die toekoms en nutteloos voel in die hede nie.
Om te laat gaan, beteken veral om weer liefde te ontdek, klein dingetjies raak te sien en dag vir dag iets te geniet.