Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het …

(Romeine 8:28-29)

Ek was voorheen verloof. Ek was nie kwaad omdat dit beëindig is nie, maar ek kon nie verstaan dat God toegelaat het dat die verhouding tot ’n punt van verlowing kon gaan en dan nie uitwerk nie. Ek kon nie kleinkry dat ek my ouerhuis, grootworddorp, familie en soveel vriende moes agterlaat om ’n toekoms met my toekomstige man te kon bou, net sodat dit nie uitwerk nie.

Ná jare het ek ’n antwoord. Vir baie sal dit miskien nie sin maak nie, maar vir my is dit ’n goeie antwoord. Dinge moes tot op daardie vlak gaan, want anders sou ek altyd vasgehou het aan dit waaraan ek gewoond was en nooit groter dinge aangegryp het nie. Ek moes uit my tuisdorp trek (want toe ek jonger was, wou ek vir ewig en altyd daar woon) en besef dat daar soveel meer dinge daarbuite is vir my om te ondervind en te sien.

God was duidelik daaroor dat ek op daardie tydstip by my eks moes wees. Hy wou hê ek moes verloof raak en dinge so ondervind. Hy het groter planne vir my gehad en daarvoor moes ek ook my ma se rokspante los.

Weens die verlowing wat beëindig is, het ek ook baie meer empatie met mense en verhoudings wat versuur. Ek weet hoe moeilik dit is om weg te loop, al weet jy dis tyd om aan te beweeg. God het alles toegelaat en toe dit tyd was om te skuif, het God dit hard en duidelik gemaak.

Om te trek, ’n nuwe lewe op ’n nuwe dorp te bou en verloof te raak was geen fout nie; dit was God se plan.