Op 9 weke begin ons droom verkrummel

Op 9 weke begin ons droom verkrummel

Verlies is deel van die lewe. Dit klink dalk snaaks, maar slegte dinge gebeur nie op ’n ongeleë tyd nie. Voor jy ander kan help heelword, moet jy eers deur jou eie emosies en hartseer werk. 

Ek maak my oë oop in die hospitaalbed en vat onwillekeurig aan my maag. Dit voel sommer net ... leeg. Hier binne my, waar daar nog ’n paar dae gelede die wonderwerk van ’n nuwe mensie gegroei het, is nou niks.

Ek was amper tien weke swanger toe ek skielik begin bloei. Dit was aanvanklik niks ...

Verlies is deel van die lewe. Dit klink dalk snaaks, maar slegte dinge gebeur nie op ’n ongeleë tyd nie. Voor jy ander kan help heelword, moet jy eers deur jou eie emosies en hartseer werk. 

Ek maak my oë oop in die hospitaalbed en vat onwillekeurig aan my maag. Dit voel sommer net … leeg. Hier binne my, waar daar nog ’n paar dae gelede die wonderwerk van ’n nuwe mensie gegroei het, is nou niks.

Ek was amper tien weke swanger toe ek skielik begin bloei. Dit was aanvanklik niks meer as net ’n paar kolletjies nie. Die dokter het my en Wynand huis toe gestuur met die raad dat ons die bloeding moes dophou, en dadelik moet terugkom as dit erger word.

In die spreekkamer was die hartkloppie nog normaal en ons kon die vae vorm van ’n nuwe lewetjie op die sonarskerm sien. Maar dié bietjie gemoedsrus het oor die volgende paar dae soos mis voor die son verdwyn.

Die bloeding het nie opgehou nie. Dit het net erger geword, in so ’n mate dat ek instinktief geweet het ek het ons baba verloor.

Dit was baie hartseer om te dink dat ek en Wynie saam ’n traan gestort het toe ons vir die eerste keer ons babas se hartkloppies in die dokter se spreekkamer gehoor het. En nou moes ons weer, saam-saam, ’n traan stort toe ons in dieselfde spreekkamer hoor dat my swangerskap verby is.

My ma was omtrent ’n steunpilaar met my miskraam, want sy het presies geweet hoe ek voel en wat ons nodig het in hierdie donker tyd. Sy bly net vier huise van ons af en het ingestaan om na Taylor-Hope te kyk en veral om net ’n skouer te wees waarop ek kon huil.

Dit klink dalk snaaks, maar die miskraam, hoe hartseer dit ook al was, het nie op ’n ongeleë tyd gebeur nie. In my en Wynand se geval voel dit asof ons nog ’n bietjie tyd pasella gekry het om eers net vir Taylor-Hope te geniet.

My miskraam het my dieper fasette van menswees geleer. Soos dat verlies deel van die lewe is, dat alles nie net oor my gaan nie, en dat ’n mens eers deur jou eie emosies en hartseer moet werk voor jy ander kan probeer heelmaak.

Na die lang rit van die hospitaal af terug huis toe, het ek daardie dag leeg en ongemaklik uit die motor geklim en met swaar voete die huis ingeloop.

Net totdat ek vir klein Tally gesien het. Sy het haar arms in die lug gesteek en ek het haar dankbaar opgetel en ’n vet soen op haar bolwangetjies gegee. Sy het teen my hart gesmelt.

Ek het ’n baba verloor, maar ek het steeds die voorreg om nog een in my arms te koester. ’n Voorreg wat ek nooit weer as vanselfsprekend sou aanvaar nie. Die seer in my hart is gesond. Ons het later nog ’n dogtertjie ryker geword, Bella-Joy!

Deel die artikel

Méér artikels

“Ons is hier op aarde om God te dien”, het my ma my van kleins af geleer. “Jy moet goed wees vir ander, maar jy ...

Die soektog na betekenis is ’n reis. JO VAN DER MERWE deel hoe haar soeke na haarself haar gelei het na ’n doel, aanvaarding en ...

Scroll to Top