[Oudio] Bly kalm en sien die geleentheid raak

Om kalm te bly terwyl die lewe se “ontploffings” om jou plaasvind, is nie maklik nie. Kalmte is egter nodig om geleenthede raak te sien.

Kyk verby die eie ek, bly kalm en wees effektief.

Mense is jare reeds volwasse, maar kan dit steeds nie regkry om te leer hoe om hulleself tweede te stel nie. Hulle kry dit nie reg om beheer oor hulle emosies te neem en kalm te bly in uitdagende situasies nie.

Inteendeel, hulle word juis deur hierdie emosies beheer. Hulle neem dan impulsiewe besluite wat gereeld tot groot nadeel vir hulleself en die mense naaste aan hulle is.

Ek ken ’n man wat alles persoonlik opvat en dan kwaad word. Dit het tot gevolg gehad dat hy in al die belangrike dinge van sy lewe onsuksesvol was. Die oomblik as iets hom ontstel of sy gevoelens op die een of ander manier seergemaak word, vat hy doodeenvoudig die pad.

Gevolglik het hy ’n see van gebroke verhoudings agter hom gelaat.

Hy het nooit juis ’n suksesvolle loopbaan gehad nie en maak selde, indien ooit, iets klaar. Dit alles nét omdat die “eie ek” vir hom hopeloos te belangrik was. Hy kon net nooit verby dit groei nie.

Op die ou einde is dít juis die wortel van die kwaad – daardie “eie ek”. Dit is ongelukkig eers wanneer ek en jy ’n slag verby onsself en óns behoeftes kan kyk, dat ons die groter prentjie sal raaksien.

Dan sal jy vind dat dit veel makliker is om kalm te bly. Dat ’n mens sodoende meer effektief is in al die dinge wat jy aanpak. Skraap ’n bietjie moed bymekaar en probeer dit gerus.

Deel die oudio
Scroll to Top