Dikwels reageer ons impulsief in ons besige woeste lewe, en is gou spyt. Met wysheid gaan jy baie verder kom, met baie meer gemoedsrus.
My geheue is nie meer wat dit moet wees nie. Ek onthou wel kristalhelder die dinge wat met sterk emosies gepaard gegaan het.
Goeie of slegte, hartseer of bly oomblikke van kinderlike vreugde en verwondering tot hartsverskeurende gebeurtenisse.
Angs, verwerping of minderwaardigheid vertoef die langste, en klou soos knapsekêrels aan jou vas. Dit kan terugstrek tot selfs voor jou kleuterskooldae.
Om hierdie rede wil ek graag met jou gesels oor die invloed van ons, dikwels te vinnige, reaksies op ons kinders se optrede. Ek oordeel glad nie … ek is ook skuldig hieraan.
In daardie oomblikke wat jy oormoeg, oorwerk voel en net oor alles is, praat jy maklik te vinnig.
Uiter woorde sonder liefde of wysheid en beweeg aan. Maar jou kind onthou dit baie lank.
Maya Angelou het gesê: “Ek het geleer dat mense sal vergeet wat jy gesê het en hulle sal vergeet wat jy gedoen het, maar mense sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.”