Ons het nie altyd al die antwoorde nie. In hierdie tye moet ons egter nie moed verloor nie. Onthou dat God steeds in beheer is.
Die regte ding sal op die regte tyd en die regte plek gebeur, solank jy net nie moed verloor nie. Ek glo jy het ook al hierdie woorde gehoor. Ons lees immers in Prediker 3:1: Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.
Ons kry almal daardie dae wat alles net te veel raak. Ons bevind onsself midde-in onsekerheid. Ons weet nie wat volgende gaan gebeur nie, wat vir ons voorlê en wat om te doen nie. Ons is raadop en het geen antwoorde nie!
Hierdie woestyntye waarin ons onsself bevind word deur God gebruik om ons te suiwer en poleer. Dit maak ons ’n nuwe mens. Terwyl ons onsself in hierdie situasie bevind, voel dit dalk nie so nie. Die uitkoms is egter altyd die moeite werd, ten spyte van alles.
Wat doen ons in sulke omstandighede? Hou moed en druk deur? Maar waar kry ons krag om aan te hou, veral as ons nie die antwoorde het nie?
Moenie vashaak by, “hoekom het ek in hierdie situasie beland?”, of “waarom het dit met my gebeur?” nie. Om te probeer uitvind hoekom of waarom, gaan nie ’n oplossing gee nie. Die feit bly staan, dit hét gebeur.
Dit is belangrik om nie te fokus op die verlede nie, maar op die hede en die toekoms. Volhard in gebed en vra vir God om vir jou die rigtingwyser te wees. Vra vir wysheid en insig om deur die tyd te kom.