Glo jy te veel skermtyd gaan jou kinders se oë vierkantig maak? Daar is ’n tyd en plek vir alles, omhels skermtyd wanneer dit nodig is!
Skermtyd … ’n Debat wat omtrent daagliks gevoer word. Is dit sleg vir jou kind se brein, vir hulle oë, vir hulle ontwikkeling?
Wel, ek is een van daardie ma’s wat my skuldgevoel oor skermtyd opsy geskuif het!
Kyk, ek haal nog altyd my hoed af vir tuisbly-ma’s. Ek is nie een van hulle nie. Of altans, ek was nooit nie. Toe kom gooi COVID-19 ons almal se lewe omver, en skielik raak ek ’n werk-van-die-huis-af-ma!
Met skole wat skielik sluit en die akademiese program wat moet aangaan, was ek ’n juffrou ook.
Wat ek gedink het gaan ’n gestruktureerde, genotvolle tyd wees, was toe nou op die ou einde allermins dit. Almal was gespanne. My doelwitte van wat ons alles gedoen gaan kry, en hoe
ek dit alles gaan koördineer, was onrealisties.
Ter wille van ons almal se oorlewing moes ek my siening oor skermtyd drasties verander.
Ek sal nou nie dat my kinders agt ure per dag voor ’n skerm spandeer nie, en naweke is familie-tyd en is skermtyd beperk tot ’n minimum.
Gedurende die week (op voorwaarde dat skoolwerk gedoen is), los ek my kinders om YouTube te kyk en speletjies te speel. En weet jy wat? Dis nie die einde van die wêreld nie.
So Mamma – hou op skuldig voel omdat jy jou kinders skermtyd toelaat. Hou net ’n baie naby oog oor dit waarna hulle kyk.
Dan is skermtyd – ter wille van jou én hulle – nie altyd die slegste ding nie. Jy is steeds ’n ongelooflike mamma!