[OUDIO] Kies groei bo kritiek

Kies groei bo kritiek en begin leef met doel en balans, sê dieetkundige CARLA GERRYTS. Bou aan jouself van binne én buite.

Begin … al gee jy net een tree

Dit was ’n reënerige Woensdagmiddag. Ek was 13 jaar oud. Dié dag het ek die belangrike les van persoonlike verantwoordelikheid geleer …

Woensdagmiddae was gewoonlik musiekmiddae. Dié spesifieke middag was ek net mooi niks lus vir enige konstruktiewe aktiwiteit nie. My onderwyseres kon dit aanvoel. Sy het die les net daar gestop en The man in the arena van Theodore Roosevelt vir my voorgelees.

Wat was haar boodskap hieruit? Dat dit die vroue in die arena is wat die lewenswedloop suksesvol sal voltooi. Daar gaan tye kom wat jy nie in die arena wil wees nie. Niks gaan egter verander as jy tou opgooi en metafories die arena verlaat nie.

Deur hierdie boek te lees, gee jy klaar die eerste tree na binne die arena. Om met die lewenswedloop te begin, moet ons ons mees energieke en gesonde self wees. Dit sal ons in staat stel om ons skeppingsdoel op aarde met ywer en moed aan te pak.

Dit is baie maklik om oorkant iemand te sit en vir daardie persoon te vertel wat om te doen. Dit is egter nie ’n maklike proses om self aan te pak nie. Jy kan nie ’n duisend kilometer vandag stap nie, maar jy kan ’n paar treë gee. So, begin met die reis!

Raak ontslae van kritiek in jou lewe

Bagasie maak enige fisieke aktiwiteit net so ’n bietjie moeiliker. Raak daarom ontslae van enigiets wat jou kan terughou voor jy die arena betree.

Of dit nou kwetsende woorde uit jou kinderjare of ’n onsensitiewe opmerking van jou kollega is. Elsa in die Disney-fliek Frozen het goeie raad hiervoor wat jy kan sing of sê: “Let it go!”

Soos jy van die bagasie ontslae moet raak, moet jy dit met elemente in jou lewe vervang wat energie gee. Dit kan ’n gunsteling-stokperdjie, ’n gereelde koffie-afspraak saam met ’n vriendin of gereelde stiltetyd wees. As dit jou laat glimlag, is dit deel van jou wedstrydplan.

Identifiseer al jou verskonings. Verander jou gedagtes van probleem gefokus na idee-gefokus. Dink watter hulpbronne jy tot jou beskikking het.

Kan jou man moontlik een keer ’n week na die kinders kyk dat jy ’n dansklas kan geniet? Kan jy miskien die wekker vir ’n halfuur vroeër stel om vir jou middagete in te pak? Dan hoef jy nie staat te maak op die werk se kantien nie.

Bly gemotiveerd deur goeie gewoontes te volg

Motivering is ’n mite. Net soos die muse. Talle skrywers sal vir jou sê, as hulle moes wag vir die muse om hulle te inspireer … hulle vir ewig sou wag. Motivering werk min of meer dieselfde.

Iemand wat lyk asof hulle altyd gemotiveerd is, het van goeie gewoontes ’n roetine gemaak. Roetine raak ’n leefstyl. Dit is tog ’n gesonde leefstyl wat op die lang termyn volhoubaar is waarna ons streef. Struktuur en roetine is jou vriend.

Die “hoekom” is altyd belangriker as die “hoe”. Met ’n goeie “hoekom”, is die “hoe” slegs detail. ’n Goeie idee is om jou “hoekom” sigbaar te maak. Dit kan ’n visuele bord wees met foto’s van jou familie.

Dit kan ’n brief aan jouself wees waarin jy jou doelwitte vaspen en weer na kan verwys op reënerige Woensdagmiddae. Dit moet tasbaar wees. Dit moet jou terugneem na die oomblik toe jy besluit het om die arena te betree. Dit moet jou visie en hoop gee vir die volgende stap.

Sielkundiges, lewensafrigters, dieetkundiges – almal het ’n rol te speel om jou by te staan met inligting en hulp. Jy is egter ten volle daartoe in staat om die afrigter van jou lewenswedloop te wees. En boonop met wenresultate!

Deel die oudio
Scroll to Top