Laat lei jou deur ’n uitdagende tyd wat vir seker heelwat visie gee oor baie goed. Leer uit die proses wat ’n vuurdoop is in geloof.
Laat jou geloof jou op die regte paaie lei.
Dit is deur jou lewenswandel met die Heilige Gees wat die beste opleiding in, onder andere geloof, plaasvind.
Om in geloof te wandel is baie soos om blindemol te speel. Oë toegebind moet jy jou weg vind deur iemand anders se stem te volg. Nét so is dit wanneer die Heilige Gees met jou die pad loop.
Ek sê baie keer: “Ek dans met die Heilige Gees.” Want baie diep waters maak nie sin nie, maar deur die leiding van die Heilige Gees kan jy tree vir tree voortgaan.
Geloof kom deur te luister en te hoor wat die Woord sê. Tyd saam met God in die Woord, in lofprysing en gebed het eindelose waardevolle krag.
Daarsonder kan jy nie die daaglikse lewe of die vyand aandurf nie.
Om die Woord in jou hart weg te bêre sodat dit kan opduik in tye van donkerte en nood, is van onskatbare waarde.
’n Goue draad in die lewe is om jou te omring met mense wat dieselfde waardes het en wat saam kan bid. Die Woord verwys ook daarna dat dit veilig is om baie raadgewers te hê.
Om by ’n gebedsgroep betrokke te raak en saam te bid vir wysheid oor ’n saak is een van die beste stappe in ’n mens se geloofswandel. Dit hou ons ook verantwoordelik teenoor mekaar.
Mooi woorde oor ons lippe is belangrik. Om positief te spreek oor jou dilemma of benarde situasie is wat jou gemoed lig.