[Oudio] Maak gesonde keuses en verloor gewig

Daar is min twyfel oor die belangrikheid van gesonde en gebalanseerde eetgewoontes vir algemene fisieke gesondheid. Dit beïnvloed immers ook jou geestelike welstand.

Die regte dieet begin met jou inkopielys. Moenie kos met min voedingswaarde en wat hoog in vet is, koop nie.

Kies byvoorbeeld vars helderkleurige groente en vrugte. Kyk altyd na die etikette. Vermy produkte wat hoog in vet (hoër as 10% per 100 g) en laag in vitamiene en minerale is.

Jy kan steeds jou gunstelingkos geniet. Doen dit byvoorbeeld net een maal per maand, of deel dit met iemand. Wees altyd op die uitkyk vir gesonde variasies soos wortelkoek of volgraanmuffins.

Kies, waar moontlik, groente en vrugte byvoorbeeld in die vorm van sosaties of groentestokkies, saam met ’n laekilojoule-doopsous.

Onthou, vet maak vet! Kies gesonde vette soos olywe, avokadopeer, grondboontjiebotter, neute, olyf- of kanola-olie.

Hou altyd porsiegrootte in gedagte. Moet nooit jou bord oorlaai nie. Eet eerder meer gereeld kleiner etes om hongerpyne te stil. Eet veral met aandetes kleiner porsies stysel en vleis, en kos met ’n lae kilojoulewaarde.

Minder kos beteken nie noodwendig gewigsverlies nie, maar wel groter hoeveelhede laekilojoule gesonde kos.

Die sleutel tot permanente gewigsverlies is ’n gevoel van versadiging met ’n groter volume voedsel. Dit moet laag in kilojoules wees, soos groente en vrugte.

Drink ten minste twee liter water per dag.

As jy tussenin honger word, eet laekilojoule rou groente en vrugte soos aspersies, wortels, sampioene (nie gebraai nie), selderystokkies of aarbeie. Hou ’n bak met vars vrugte beskikbaar.

Eet ontbyt altyd so vroeg as moontlik sodat die ander etes beter deur die dag versprei word. Dit kan ook tot groter gewigsverlies bydra.

Deel die oudio
Scroll to Top