[OUDIO] Maak vrede met ouerskapsfoute en groei sterker

Maak vrede daarmee dat jou foute as ma jou kind se ontwikkeling soms gaan strem. Vergewe jouself en verander hoe jy jou opvoedingsrol aanpak, sê HETTIE BRITTZ.

Kry perspektief op die impak van jou foute

Laat jou eie ouerskapsfoute agter as jy met visie vorentoe wil beweeg. As ons tot nou toe baie mislukkings beleef het, en van voor af begin, moet ons seker maak dat ons ons regtig losmaak van wat agter ons lê.

Amper alle ouers wat voel asof hulle misluk het, voel so weens een of meer insidente van konflik. Dit beteken iemand is skuldig, iemand is kwaad, iemand is spyt, iemand is hartseer of iemand is eensaam.

Hierdie emosies laat die probleem dikwels groter voel as wat dit is. Ons het dus regtig perspektief nodig – iets waarvoor ons moet bid voordat ons die klip uit die pad begin rol.

Ernstige ouerskapflaters soos fisieke of emosionele mishandeling of verwaarlosing moet met ’n “skopgraaf” verwyder of hanteer word, eerder as ’n “lepel”. Dit beteken professionele hulp moet ingeroep word.

As ons egter net op ’n dag ons kind by die skool vergeet het, kan ons die probleempie met ’n “lepel” uit die weg ruim.

’n Fout is nie noodwendig gelyk aan swak ouerskap nie. Ons moet regstel wat ons kan, maar ook weet dat ons nog baie foute gaan maak. Dat daar in ouerskap ruimte is daarvoor!

As ons met nuwe visie wil vorentoe beweeg, moet ons die insidente identifiseer wat tot ons gevoel van mislukking gelei het. Dit so bevredigend moontlik oplos. Die hartseer, skuldgevoel of bitterheid sal nie weggaan voordat ons dit hanteer het nie.

Soms is dit net ons wat nog onsself moet vergewe. Dis iets wat ons biddend kan leer doen. Maar dikwels moet ons saam met ons eggenoot en ons kinders die verlede se seer deurwerk.

Daarna moet ons ons gedagtes dissiplineer om nie aanhoudend daarnatoe terug te gaan nie.

Moenie jou ouers se voorbeeld sommer net naboots nie

Wanneer ons die emosionele kan agterlaat en uit oortuiging begin dissiplineer en opvoed, het ons ’n nuwe visie. ’n Vooruitsig wat ons help om doelgerig vorentoe te beweeg.

Dit beteken dat ek my eie plan het, en nie net maak soos iemand anders gemaak het of eerder moes gemaak het nie. Ek moet verstaan waarom ek doen wat ek doen, en ek moet weet wat ek daarmee wil bereik.

Baie huise het reeds twee ouers wat nie kan saamstem nie. Voeg daarby die twee stemme wat elke ouer in sy of haar kop hoor oor wat sy of haar ma en pa sou doen. Nou is daar ses opinies en groot konflik onder een dak! Fokus eerder op jou/julle twee se eie!

Daar is ’n tweede rede om nie maar net my ouers se goeie ouerskapvoorbeeld te dupliseer nie. Die gevare en eise in kinders se leefwêreld het oor die jare te dramaties verander.

Ons ouers kon ons laat TV kyk sonder om te vrees dat ons onskuld gesteel gaan word, en ons na enige skool toe stuur met die seker wete dat ons daar ’n goeie opvoeding gaan ontvang.

Alhoewel jy baie by jou goeie ouers kon geleer het, kan jy nie hulle voorbeeld dupliseer nie, en selfs al sou jy kon, sou dit nie jou kinders vir vandag se wêreld voorberei nie. Om te doen wat hulle gedoen het, soos pak gee, kan selfs onwettig wees!

Doen gereeld selfondersoek en laat jouself (her)vorm

Net gebuigde ou bome kan jong boompies buig. As ons self verstok en hardkoppig is, kan ons kwalik ons taai jong boompies hanteer.

Voordat ons van ons kinders iets in ruil verwag – naamlik goeie gedrag – gee ons vir hulle die beste van onsself. Die Here het daardie voorbeeld gestel deur ons eerste lief te hê.

As ek sal toelaat dat die Groot Tuinier aan my snoei terwyl ek my saailinge snoei, en my buig terwyl ek my jong boompies buig, word die dissipelskapproses van ouerskap ’n realiteit.

Dan volg ons en ons kinders saam die voorbeeld van Christus. Ons hoef dus nie altyd die regte ding te doen nie, maar ons moet daarna streef om die regte ingesteldheid te hê. Wie is buitendien die perfekte voorbeeld vir hulle kinders?

Wanneer ons fouteer, is ons nie ’n goeie voorbeeld nie, maar dit diskwalifiseer ons nie vir ouerskap nie! Ons moet egter ’n baie belangrike ding verstaan: ’n Lewe van oorgawe aan Jesus is ’n beter voorbeeld as ’n lewe van valse foutloosheid.

Ons moet eerder ’n lewe leef wat vertel van val, gebrokenheid en vergifnis, van vordering en vrug, as om onsself te probeer voordoen as die volmaakte voorbeeld. Ons leer ons kinders daardeur hoe hulle ook kan val en opstaan.

Die enigste Voorbeeld wat waardig is om voorgehou te word, is Jesus. Ons beste voorbeeld vir ons kinders is daarom een van opregte Jesusnavolging.

Deel die oudio
Scroll to Top