Alle spiere moet oefening kry. Dieselfde geld vir ouerskap. Werk voortdurend aan gesinsverhoudings. Dit is ’n leerproses vir ouers sowel as hulle kinders.
Ek kon nie wag om ’n mamma te word nie. En ek het agt jaar gewag vir die wonderlike oomblik! My droom was altyd dié van ’n perfekte gesinnetjie. Soet, gehoorsame kinders, ’n rustige mamma en pappa wat buite saam met die kinders speel.
Die waarheid is dat daar nie iets soos “perfek” bestaan nie. Selfs oulike mammas (soos ek) kan foute maak!
Voordat jy kinders het, is dit so maklik om ander ma’s se opvoedingstyle te bevraagteken. Vir jouself te sê: “Dít sal ek nooit doen nie.” My vriendin se kleuter het met kombuisapparate op die vloer gesit en speel. Ek het gewonder of hy nie gaan seerkry of dit breek nie?
Maar dit het haar nie gepla nie. Ek sal dit nooit toelaat nie, was my gedagtes.
My dag met ’n tweeling het uiteindelik aangebreek. Min slaap en siek kinders. Besige, innoverende kinders agter wie ’n mens die hele tyd moet aanhardloop, is nie ’n grap nie.
Wanneer iets hulle besig hou vir meer as tien minute los jy hulle uit. Al is dit in Pappa se garage of gholfsak.
As dit “stil” is, kan ek vinnig koffie drink en asemskep, en later damage control doen. Ai, as die kinders maar net met ’n handleiding gekom het, het ek dikwels gesug!
So probeer al ons mammas net die beste en weet nie altyd of ons optrede reg is nie. En ten spyte van die harde werk maak almal foute.
Kinders grootmaak is altyd trial and error. Elkeen probeer totdat hulle “resep” werk.