[OUDIO] Skryf neer wat die Gees vir jou sê

’n Bybeljoernaal is die ideale manier om jou gedagtes en ervarings vas te lê. Skryf neer wat jy leer terwyl jy die Woord bestudeer vir dieper verstaan.

Wat ’n ongelooflike gedagte: Die Skepper van die hemel en aarde maak Sy gedagtes aan gewone mense soos ek en jy bekend!

Wanneer ons neerskryf wat ons by God hoor, gee dit ons lewens fokus, krag en rigting. Dit word die wapens waarmee ons vir ons lewens, gesondheid en toekoms veg.

Eenkeer het ek vir die eerste keer met hierdie realiteit te doen gekry.

Niksvermoedend het ek by ons weeklikse selgroep opgedaag. Daar was ’n groep onbekende mense wat ons daardie aand met profesie bedien het.

“Wat op dees aarde is profesie?” het ek gevra. My selleier was flink om my na 1 Korintiërs 12 14 te begelei en dit vir my te verduidelik.

Elke gelowige het die kapasiteit om self God se stem te hoor. Met profesie gebruik die Here ander mense om jou met Sy stem te vertroos, te versterk en te bemagtig.

Terwyl die vreemde oom iemand langs my bedien het, het hy na my gedraai en gevra of ek enige gedagtes van die Here met die persoon wou deel. Omdat ek nog nie met die geestelike gawes te doen gekry het nie, het ek naarstigtelik gesoek na die exit-bordjies rondom my.

Daarna het die oom my bedien met inligting wat Hy net by die Here kon kry. Dit was die dae voor Facebook en die Internet. Niemand kon daardie inligting weet nie.

Ek was nog altyd bewus van God se grootheid en het ’n diep respek teenoor Hom gekoester.

Hierdie belewenis het my laat besef dat God my persoonlik liefhet en dat Hy in die detail van my lewe belangstel.

Deel die oudio
Scroll to Top