Waar kry ’n mens deesdae ’n stil omgewing waar niemand jou kan sien nie … Bestaan daar nog sulke plekke? Vind stiltetyd in jou verhouding met die Here
Wanneer laas het jy as vrou of mamma ’n stil plek gehad waar niemand jou kon sien of pla nie? Dit gaan party dae so woes dat ’n mens nie eens ’n kans kry om stil te sit nie.
Dan moet jou een kind hier wees en dan moet jou ander kind daar wees. Dan is daar hierdie deadline by die werk en dan is daar daardie funksie wat jy moet bywoon.
Daar is soveel druk om ’n miljoen dinge gedoen te kry. Dit verg balanseervernuf om jou tyd en aandag tussen jou man, kinders, werk en ander verpligtinge te versprei.
Jy leer dinge doen wat jy nie regtig gedink het jy ooit in staat sou wees om te doen nie. Jy is gelyktydig ’n werknemer, ’n skoonmaker, ’n onderwyseres, ’n raadgewer, ’n vrou vir jou man en wie weet wat nog alles.
Dit laat baie min tyd om regtig te kan stil raak en eenkant te gaan sit waar niemand jou kan sien nie. Ons is so besig dat ons heeltemal vergeet van die stil van die lewe en die dinge wat regtig saak maak.
Maar deur al hierdie woelings en ten spyte van ons besige bestaan, is dit baie belangrik dat ons wel tyd afstaan aan gebed. God ken ons omstandighede en Hy weet presies waardeur ons elke dag gaan, maar Hy verlang steeds dat ons met Hom moet gesels.
Die Bybel praat daarvan dat God verlang om ’n verhouding met Sy kinders te hê.