Om op die Here te fokus is belangrik. Om te keer dat iets daarmee inmeng is nóg belangriker. Ons moet identifiseer wat aandag van God steel.
Ons lewe in ’n aandagafleibare wêreld. Altyd op ’n drafstap om by te hou. Ons bly te besig. Ander dinge het ons aandag nodig en keer ons om te hoor wat nodig is … of so dink ons.
Waar alles in ons lewe eintlik net oor Christus moet gaan, versteur ons die harmonie met Hom, deur te veel aandag te gee aan ons omstandighede.
Nie een van ons is perfek in ons aanbiddingstyl of op ons geloofspad nie. Moet daarom nie so hard op jouself wees nie.
Maar werk aan ’n plan om jou luisterpad makliker te maak. Weet waarna om te luister en wat jy maar gerus kan ignoreer.
Een van die grootste dinge wat soms kan inmeng, is onsself. Ons staan in ons eie pad. Die menslike natuur neig daarna om alles te bevraagteken en heroorweeg. Dit laat ons dikwels alleen agter in hartseer omstandighede.
Die moontlikhede is oorweldigend en los ons in verwarring. ’n Lae selfbeeld kan ’n mens ook keer om drastiese geloofstappe te neem.
Jy glo dalk dat jy nooit suksesvol sal wees nie. Selftwyfel is een van die grootste sondebokke. Vertrou net op die Here en vra minder vrae.
Dis eintlik tog maar ons opdrag.
Ons verwar egter logika met vrees en maak dít ons steunpilaar. So word dit ’n stopteken in ons geloofspad.
God wil goeie verandering in ons lewe bring. Dis Sy opdrag en Sy seën wat ons laat opstaan en aangaan. Ignoreer dus jouself en streef na die begeertes en drome wat die Here in jou hart gelê het.