Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
(Romeine 12:12)
Ons het ’n diep sekerheid dat God ons vrygespreek het. Daarom kan ons ook die hoop, die vaste wete hê dat Hy sy beloftes vir die toekoms waar sal maak.
Wie is nou ’n beter voorbeeld van hoop as Hanna? Sy wou vreeslik graag ’n kindjie gehad het, maar het gesukkel om swanger te word.
Vandag nog is daar soveel vroue wat hulle met Hanna kan identifiseer. Eintlik kan elkeen iewers in haar lewensverhaal met Hanna identifiseer.
Ons word gedurig gekonfronteer met die vraag: Waar en in wie plaas ek my hoop? Soms raak ons moedeloos.
Hanna het bly hoop dat God haar gebed sal verhoor. In 1 Samuel 1:27 lees ons: “Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het.” Hy het Hanna se gebed verhoor en sy het swanger geword. Neem vandag ’n besluit om soos Hanna jou hoop in God te plaas.
In Romeine 5:3-5 word ons verseker: “Swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees … ”
Omdat God sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees, kan ons sekerheid hê dat ons hoop, ons toekomsverwagting nie sal verdwyn nie.
Hoe swaarder dit vandag met jou gaan, hoe moeiliker jou eie omstandighede lyk, hoe sekerder kan jy weet: Wat God vir jou beloof het, sal waar word.
Kommer oor die toekoms beroof jou van die vreugde wat vandag inhou. Kommer doen meer skade as wat dit help. Dit dui eintlik op ’n gebrekkige geloof in en begrip van ons God.