Is die gebruik van die woorde “ek is te besig” al ’n gewoonte by jou? Jy lei dalk aan Stressed out survival orientated human (SOSOH).
Voel jy gedurig gestres en alewig bekommerd?
Die meeste “SOSOH”-mense kla gedurig hulle is te besig of het nie tyd nie teenoor die “EVV”-mense wat sê dat hulle altyd tyd het of tyd maak. Wie is jy?
Dit is nie moeilik om te besef dat daar vandag ’n oorwig van mense is wat lei aan ’n sindroom wat deesdae deur die kenners die “SOSOH”- sindroom genoem word nie.
As dit nou die eerste keer is wat jy hierdie term raak lees, is dit moontlik omdat jy die verskynsel elke dag raak leef en “nie genoeg tyd het” om dit raak te lees nie.
Hoeveel mense ken jy wat gedurig gestres is, alewig bekommerd is oor die lewe, negatief oor ons land en bang en onseker is oor die toekoms van hulself en hul kinders, die sogenaamde Stressed out survival orientated human (SOSOH)?
Na raming val 97% van ons samelewing in hierdie kategorie. Die ander 3% is die mense wat beskryf kan word as eilande van voortreflikheid (EVV), die suksesvolle mense – die mense wat kwansuis ’n droomlewe lei sonder enige skynbare stres of bekommernis.
Wat gaan bepaal in watter kamp jy jouself bevind? Wel, jou mentaliteit gaan dit bepaal. Hoe jy oor die lewe dink, jou besluite, jou lewens- en wêreldbeskouing, jou ingesteldheid en die goed waaroor jy mediteer, gaan jou in een van die twee kategorieë plaas.
Dis hier waar die meeste Christene my vinnig stop, hewig reageer en sê hulle mediteer nie. My teenvraag is ewe vinnig: Loop jy rond en bekommer jou die heeldag oor dinge? Dit is juis hier waar jy stadiger en met insig moet lees, en moet verstaan dat bekommernis niks anders is as negatiewe meditasie nie.
Jy moet besluit om anders te dink oor besigwees
God gee ons die opdrag om ons denke te vernuwe, want “soos wat ’n man dink, so is hy en so sal hy word”. Wat dink jy? Of liewer, wat besluit jy om te dink?
Dis hier waar ons die vinger op die regte polsslag sit: Wat kies jy om uit te spreek oor jou lewe of wat verklaar jy met jou woorde? Die antwoord sal een stappie terug gesoek moet word. Wat het jy besluit om oor na te dink? Want wat die hart van vol is, loop die mond van oor.
“Ek is te besig” is die refrein wat herhaaldelik oor jou lewe gespreek word.
Is bekommernis nog steeds die grootste gedeelte van jou selfspraak, of het jy soos die EVV-mense dit reggekry om jou gedagtes gevange te neem soos God ons vra om te doen as die gedagtes nie lei tot stigting en opbou van ons gees en uitkomste nie?
Het jy jou besluite oor jou denke al begin vernuwe, want ons dra praktiese kennis van die krag wat opgesluit is in die gesproke woord. Ons skep ons wêreld so. Het jy tyd of is jy te besig?
DENKE gaan oor in WOORDE, woorde gaan oor in DADE of AKSIES, dade gaan oor in GEDRAG en gedrag gaan oor in GEWOONTES.
Hier lê die geheimenis opgesluit en is dit ook die grootste verskil tussen die SOSOH- en EVV-tipe mense: Hul gewoontes verskil hemelsbreed, soos dag en nag. Dit is nie jou gedrag wat jou eindbestemming gaan bepaal nie, maar jou gewoontes.
Is die gebruik van die woorde “ek is te besig” al ’n gewoonte by jou of het jy al BESLUIT om anders te dink en te praat?