Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!
(Jeremia 29:11)
In antieke tye, as iemand tot sterwe kom, is ’n routydperk uitgeroep. Mense het kliphard geskree dat die persoon dood is. Roubeklaers moes rouklere van growwe materiaal dra om hulle aan hul hartseer te herinner.
Ek en ’n vriendin besoek haar dogter se graf by ’n groot begraafplaas aan die noordekant van Pretoria. Daar tussen die grafte raak ek aan die gesels met George, ’n werker by die begraafplaas al bykans 21 jaar.
Hy vertel my van ’n bejaarde man wat weekliks sy vrou se graf kom besoek het en ure net daar kon sit en met haar gesels. So het die man week ná week gekom, tot onlangs. Hy het daar gesit, sommer so tussen die blomme en die lang gras. Daardie dag was dinge egter anders. Oom Ben het nie weer opgestaan nie. Hy het net daar aan sy hart beswyk.
Hoeveel keer gaan ons terug na situasies en omstandighede wat ons hartseer of ongelukkig maak! Ons klou vas aan hartseer ervarings asof dit ons beste vriend is. Ons lewe in die verlede en kyk nooit weer na die toekoms nie.
Satan hou ons so besig met probleme. Ons raak vasgevang in omstandighede en vergeet waarheen ons lewe op pad is. Een van my vriendinne voel soos ’n kind in ’n speelraam, omring met die duurste speelgoed, maar al waarmee sy wil speel, is met die sand langs die speelraam.
Soms is ons ook so. Ons kyk die geleenthede om ons mis, want ons hou vas aan die verlede en dit wat ons verloor het. Erger nog, ons begeer dinge wat ander mense het. God het ’n goeie plan vir ons lewe. Hou jou oë gevestig op Hom.